$ 0 0 View this post on Instagram Tennessee Williams se klassieke toneelstuk, "Cat on a Hot Tin Roof", kry 'n plaaslike geur in Nico Scheepers se "Katvoet". Al die elemente en onderliggende temas van die oorspronklike teks is daar - dié slag net in Afrikaans. En in plaas daarvan dat dit in 'n plantasiehuis afspeel, kry dié produksie gestalte in die Bosveld. Paul Newman en Liz Taylor het van Brick en Margaret ikoniese karakters gemaak. In "Katvoet" kry die sanger-akteur Laudo Liebenberg kans om die gefolterde, gewese sportster met die drankprobleem, Boela (Brick) te speel. Hy slaag daarin om nie van dié alkoholis 'n geykte, sleeptong-karakter te maak nie. Jy het simpatie met sy innerlike wroeging, sy selfhaat én sy liefde vir Red Label-whisky. Die uitstaande Tinarie van Wyk Loots kan baie min verkeerd doen en haar vertolking van Maggie, die spreekwoordelike kat op die warm sinkdak, is soos gewoonlik uitstekend en in die kol. Sy gly soos 'n Siamees op die verhoog en op die meubels rond, vlei haar teen haar medespelers aan en kwispel haar stert, als in 'n deseprate poging om haar man se aandag te behou. Marius Weyers is die beneukte patriarg wie se 65ste verjaarsdag gevier word. Hy vloek en skel en sê net wat hy wil, nadat hy sekere nuus aan die etenstafel ontvang. Sy uitlatings is kwetsend en maak seer, maar die waarheid blyk altyd ongemaklik te wees in 'n huis waar "die leun" grotendeels seëvier. Die ander karakters, belangrik in 'n meerdere of mindere mate, bring almal hulle kant om van dié toneelstuk 'n hoogs-genotvolle feeservaring te maak. Daar is wonderlike komiese oomblikke, ernstige dramatiese momente en puik toneelspel soos mens van dié ensemble kan verwag. Die stelontwerp, ook deur Scheepers, is beeldskoon en sy fyn hand en oog is duidelik sigbaar in die regie. Indien daar kritiek te lewer is, is dit oor die lengte van die stuk. Dit is eenvoudig te lank en soms net té herhalend. Dit doen egter geensins afbreek aan die gehalte van die produksie nie. Gaan kyk dit gerus (maar los dalk die oorsensitiewe siele by die huis). #katvoet @woordfees @nicoscheepers @laudoliebenberg #woordfees2019 A post shared by LitNet (@mylitnet) on Mar 3, 2019 at 3:44am PST Besoek die US Woordfees se webwerf vir nog inligting. The post US Woordfees 2019 Instagram-resensie: <i>Katvoet</i> appeared first on LitNet.