Tien duisend ton is nie so swaar soos wat dit klink nie. Dis ’n toneelstuk wat in sy grein handel oor ‘n verhouding tussen ’n man en ’n vrou en waarheen hul verhouding op pad is. Terselfdertyd vra die stuk eksistensiële vrae en laat dit mens nadink oor ouerskap, die rakleeftyd van die planeet, die kloof tussen ryk en arm, wie is werklik goed, of mens uitsprake mag maak oor wie kinders mag hê, seks, skoonfamilie, en hoe kortstondig die hele leeftyd van ’n mens is. Hier en daar is die produksie soos ’n toneelstukweergawe van What to expect when you’re expecting. Soms is daar voorspelbare reaksies tussen die man en die vrou. Tog is die stuk vars en eerlik en eg, en met “voorspelbaarheid” word nie clichéagtigheid bedoel nie, maar eerder herkenbaarheid. Dis die soort stuk wat ek wens my geliefde saam met my kon gaan kyk het.
Die tweede helfte van die toneelstuk beweeg vinnig, wat die vervlietendheid van die lewe beklemtoon. Cintaine Schutte en Albert Pretorius is ’n skitterende duo en hul spel is deurgaans sensitief en aangrypend. Die gehoor sit rondom die verhoog – ’n lappie gras – wat ’n intieme, byna tasbare teaterervaring tot gevolg het.
Tien duisend ton is ’n onvergeetlike produksie wat enigiemand se hart sal aangryp.
#tienduisendton #instagramresensie #woordfees @cintaineschutte @albert_pret ( @remona_flowers en Naomi Meyer)
The post Toyota US Woordfees 2020 Instagram-resensie: <em>Tien duisend ton</em> appeared first on LitNet.