Quantcast
Channel: Toyota Stellenbosch Woordfees - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 693

Resensie: From Broadway to Bird Street

$
0
0

’n Twee uur lange geskiedenisles in Broadway se beste musiekspele is ’n kort opsomming van From Broadway to Bird Street. Jy beleef hoogtepunte van Hamilton, Chess, HairsprayDreamgirlsWaitressChicagoLes MisérablesWest Side Story en Dear Evan Hansen.

Hamilton tydens From Broadway to Bird Street (Foto: Cliffordene Norton)

Die produksie is vervaardig deur Curro Create, ’n inisiatief van Curro, in samewerking met Wordsmith’s Theatre Factory. Die unieke geselskap van dié produksie bestaan uit 22 talentvolle leerders van Curro-skole landwyd, en bekendes soos Timothy Moloi, Corlea Botha, Lynelle Kenned, Germandt Geldenhuys en André Terblanché. Hennie van Greunen en Pedro Kruger is die regisseurs en samestellers.

Germandt Geldenhuys is die gehoor se toerleier deur Broadway se bekendste en geliefde musiekspele. Elke vertoning word in konteks geplaas en die kunstenaars is ten volle in treffende kostuums en grimering geklee. Die koreografie, klank en beligting maak dit ’n besonderse vertoning.

Twee van die optredes wat vir my uitgestaan het, is Waitress en Dreamgirls. Mia Dippenaar se enkelvertoning in Waitress is hartroerend en jy is verstom oor haar musiektalent en haar vermoë om die karakter sonder enige oordaad te skep. Haar opvoering was ’n emosionele hoogtepunt, in so ’n mate dat die Chess-blyspel daarna effens kort geskiet het. Waar Chess nie met jou emosies wipplank gery het nie, het dit die nodige afwisseling verskaf om van Waitress te herstel.

Phoebe Mgxaji se Effi in Dreamgirls het die gehoor verstom gelaat. Sy verdien ’n prys vir haar musiektalent en ’n addisionele prys vir haar moed om Jennifer Hudson, wat die rol in die 2006-fliek vertolk het, se skoene vol te staan.

Daar is ’n goeie balans tussen die rolle wat die bekendes en die studente vertolk. Hierdie stuk was perfek vir enigeen wat teater geniet, en liefhebbers van musiekspele is in oormaat bederf. Jy ry ’n emosionele roller coaster, veral omdat Germandt se passie ’n perfekte pasmaat was vir die studente se uitstekende vertolking. Jy huil, jy lag en jy lus om jou skoene ’n paar keer uit te skop om hulle op die verhoog te gaan join.

Lees ook 

Van Broadway tot op eie bodem: Jong talent pak bekende musiekblyspele aan

The post Resensie: <i>From Broadway to Bird Street</i> appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 693