12 Julie 2019
Beste skrywer
Dit is tyd vir die vyfde Toyota US Woordfees-kortverhaalbundel. Die eerste vier bundels is baie goed deur skrywers en die leserspubliek ondersteun en ook gunstig deur kritici ontvang. Hierdie kortverhaalbundels sal in die komende jare dien as ’n dokument van die tydsgees waarin veral Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners hulself tans bevind.
Du Toitskloof Wyne, ’n gewaardeerde Woordfees-vennoot, borg weer in 2020 die R30 000 prysgeld wat aan die skrywer van die wenverhaal toegeken word. Die skrywers wat in dié bundel opgeneem word, sal elkeen R5 000 ontvang. Du Toitskloof maak ook ’n bydrae tot hierdie prysgeld en borg die bekendstellingsgeleentheid van die kortverhaalbundel, wat by die 2020 Toyota US Woordfees aangebied sal word.
Soos vanjaar sal een van die verhale in die 2020-bundel gekies word om as kortfilm deur kykNET vir die Silwerskermfees verwerk te word.
Skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem gaan word, sal by die Woordfeesprogrambekendstelling in November 2019 bekend gemaak word. Die wenverhaal asook die verhaal wat vir ‘n verwerking tot kortfilm gekies is, sal eers tydens die bekendstelling van die bundel, gedurende die Toyota US Woordfees van 6-15 Maart 2020, aangekondig word. (Die wenverhaal is nie noodwendig die verhaal wat vir filmverwerking gekies word nie. Verskillende kriteria geld.)
Die bundel word in ’n beperkte oplaag uitgegee wat aanvanklik slegs by die Toyota US Woordfees te koop sal wees. Indien enige eksemplare oorbly, sal dit by enkele uitgesoekte boekwinkels beskikbaar gestel word en weer op die volgende jaar se fees te koop wees.
Kompetisiereëls en riglyne vir inskrywings:
- Slegs Afrikaanse kortverhale sal aanvaar word.
- Die kompetisie is oop vir alle skrywers. Werknemers en familielede van Du Toitskloof Wyne en/of die US Woordfees word nie toegelaat om deel te neem nie.
- Slegs een inskrywing van 1 500 tot 3 000 woorde word per skrywer aanvaar.
- Verhale moet nuutgeskryf wees en nie voorheen op enige platform gepubliseer wees nie.
- Die skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem word, sal elkeen ’n eenmalige betaling van R5 000 teen April 2020 ontvang.
- Daar sal ongeveer 25 verhale in die bundel gepubliseer word.
- Die skrywer van die wenverhaal ontvang prysgeld ter waarde van R30 000.
- Kopiereg van die verhale berus by die skrywers, maar kopiereg van die bundel setel in die Toyota US Woordfees. Indien verhale wat in die bundel verskyn ook elders gepubliseer word, moet dit geskied met skriftelike kennisgewing aan die US Woordfees sowel as volledige erkenning met publikasie.
- Keuring word streng anoniem gedoen. Die skrywer (en vertaler – sien voorafgaande punt) se naam en kontakbesonderhede moet op die onderstaande inskrywingsvorm ingevul word. Slegs die titel moet op die verhaal verskyn, ten einde anonieme keuring te verseker.
- Verhale moet in 12pt Times New Roman en 1.5-spasiëring in MS Word-formaat aangebied word. Geen PDF’s sal aanvaar word nie. Elke bladsy moet genommer wees met die titel van die verhaal duidelik sigbaar.
- Indien daar enige blatante verwysing na die skrywer in die verhaal gemaak word waaruit beoordelaars sy/haar identiteit kan aflei, sal die verhaal summier gediskwalifiseer word.
- Verhale sal geredigeer word voor publikasie, met goedkeuring daarvan deur die skrywer.
- Hoewel die bundel die feestema as titel sal hê, moet skrywers dit nie as riglyn vir of onderwerp van die verhaal gebruik nie. Die tema van die verhaal word geheel aan die skrywer oorgelaat.
Die sluitingsdatum vir inskrywings is om 16:00 op 30 September 2019.
Stuur inskrywings per e-pos aan Olivia Wollow by fees@sun.ac.za
Inskrywings wat later as 16:00 op 30 September 2019 ontvang word, sal nie in aanmerking kom nie. Inskrywings sal met ontvangs erken word.
Navrae kan ook per e-pos aan Olivia Wollow by fees@sun.ac.za gerig word. Slegs skriftelike navrae sal beantwoord word.
Ons is opgewonde oor hierdie projek en wag gretig om jou inskrywing te ontvang.
Met allerbeste groete
Die Toyota US Woordfeesspan
Vir meer inligting oor die Toyota US Woordfees, besoek gerus www.woordfees.co.za of kontak vir Danie Marais by die feeskantoor by danie_marais@sun.ac.za. Die US Woordfees word van 6-15 Maart 2020 in Stellenbosch aangebied. Die feesprogram word in November bekend gemaak.
INSKRYWINGSVORM: TOYOTA US WOORDFEES en DU TOITSKLOOF WYNE KORTVERHAALKOMPETISIE 2019
Titel van verhaal:
Naam en van:
E-posadres van skrywer:
Foonnommer van skrywer:
Verklaring van egtheid:
Hierdie verhaal is my eie, oorspronklike werk en is nog nie voorheen op enige platform gepubliseer nie.
_______________ _______________
Handtekening Datum
The post Persvrystelling met inskrywingsvorm vir Woordfeeskortverhaalbundel 2020 appeared first on LitNet.