Na watter produksies sien jy die meeste uit op vanjaar se US Woordfees-program? Hier is Elize se keuse van drie produksies:
TOUTJIES & FERREIRA
Komedie, dan drama
’n US Woordfees-produksie, ondersteun deur Aardklop met ontwikkeling ondersteun deur NATi
Skrywer: Saartjie Botha
Regisseurs: Wolf Britz en Nicole Holm
Stel- en beligtingsontwerp: Wolf Britz
Musiek: Antoni Schonken
Kostuums: Beaura Jacobs
Verhoogbestuurder: Jeanne Steenkamp
Al ooit gewonder wat gebeur op die verhoog in die uur voor ’n vertoning by ’n kunstefees begin? Die antwoord is ongelóófik baie. Kom benut ’n seldsame kans om hierdie gekke, snaakse, spanningsvolle uur met akteurs en tegnici te beleef. Jy gaan lag en dan gaan jy minder lag in dié produksie wat as komedie wegspring en by knop in die keel eindig. As jou kinders emigreer is die vooruitsig van Skype op ’n Sondag met kleinkinders wat Engels praat, ’n skrale troos. Spesiaal vir diesulkes en ander wat sit met ’n gat in die hart; ook vir feesfoendies, en almal wat nog nooit agter die skerms in ’n teater was nie.
Geen o/14 (T)
Taal: Afrikaans
Met: Frank Opperman, Joanie Combrink, Anthea Thompson, Esther von Waltsleben, Aphiwe Livi, Geon Nel, Wolf Britz, Malan Steyn, Melanie Scholtz, Antoinette Kellermann

MY MENSE IS DIE KLUTS KWYT
Sketskomedie
Skrywer: Ludwig Binge
Regisseur: Wessel Pretorius
Verhoogbestuurder: Kanya Viljoen
Vervaardigers: Wessel Pretorius en Ludwig Binge
’n Lewensmoeë geskiedenisonderwyser gee sý weergawe van wêreldgebeure met drastiese gevolge, terwyl Lady Rugga haar manlike kollegas touwys maak. ’n Blou Bul-braai in Pretoria neem ’n onverwagse wending, terwyl Louise en Pieter op hul eerste Tinder-afspraak ontdek die liefde is bipolêr. Hier ontmoet Monty Python en die komiese eenbedrywe van Christopher Durang mekaar. Die satire loop dik soos stroop oor geslagsgelykheid, homofobie en magsmisbruik. Natuurlik herken ons onsself (en die bure).
Geen o/14
Taal: Afrikaans
Met: Ludwig Binge, De Klerk Oelofse, Roeline Daneel
KLEEDKAMER-BLUES
Drama
’n NATi / Feesteforum-produksie
Skrywer: Ludwig Binge
Regie, stelontwerp en kostuums: Marthinus Basson
Beligtingsontwerp en vervaardiger: Chris Pienaar
Verhoogbestuurder: Danielle Louw
Vervaardiger: Raminidam in opdrag van Innibosfees
Ons is in ’n kleedkamer voor ’n laaste optrede by ’n kunstefees. Almal is ’n bietjie moeg, almal ’n bietjie feesvoos. Daar sit die diepseun Johan met premature post-production blues.
Hy sê nie ’n woord nie. André is knorrig omdat sy mede-akteur, Hendrik, nooit sy eenmanstuk kom kyk het nie. Hendrik is benoem vir ’n toekenning terwyl André se stuk ’n louwarm resensie gekry het. Hendrik het ’n oog op Wena, maar sy’s op pad Johannesburg toe vir ’n rol in ’n sepie.
Paul, die ou veteraan wat ná 15 jaar ’n comeback maak in hierdie alternatiewe weergawe van Beckett se Godot, sukkel om sy woorde te onthou. O, die nerwe, die nerwe. Boonop is daar ’n belangrike gas in die gehoor...
Taal: Afrikaans
Koop nou op Computicket hier
The post US Woordfees 2019: Elize se keuse appeared first on LitNet.