Met die 2019-teaterprogram kan jy besluit of jy wil lag, huil, uitgedaag word, met ’n mooi storie verlei word of gekonfronteer word met dít waarvan jy dalk nie veel weet nie.
Woordfeesdebute
Onder die 22 nuwe stukke wat volgende jaar by die Woordfees debuteer is daar ’n groot verskeidenheid in tema en aanslag – van eksperimenteel en uitdagend tot lekker klugtige ontspannings. Hier is ’n paar hoogtepunte om na uit te sien.
Katvoet
Tennessee Williams se klassieke Pulitzerprys-drama Cat On a Hot Tin Roof kry hier nuwe lewe in ’n vars verwerking. Nico Scheepers het die toneel verskuif na ’n wildplaas in die Limpopo-Bosveld. Dis hier waar die Mouton-gesin bymekaarkom vir hul patriarg, gespeel deur Marius Weyers, se 65ste verjaarsdag. Boela, die oudste seun, drink homself dood om die spoke agter sy oë stil te maak en Maggie, sy eensame katvoet-vrou, doen alles in haar vermoë om die liefde te oorleef. Watter familiedramas wag nog om uitgepluis te word? Ook met Marion Holm, Tinarie Van Wyk Loots, Albert Pretorius, Martelize Kolver en Geon Nel.

Die intermissie
Die intermissie
Die intermissie is kort maar aanhoudend. ’n Verbyflikkerende sketskomedie so vinnig dat dit voel of iemand met tyd as ’n konsep gepeuter het. Mense wat dit al gesien het, beskryf dit as ’n gesaghebbende bron tot kommer, beter as Bakgat 2, ’n kuur vir depressie, brongitis en aanverwante siektes. Mense wat daarin speel (Bennie Fourie, Beer Adriaanse, Mila Guy, Bouwer Bosch, Barbara Brasington en Schalk Bezuidenhout) dink dis ’n net-net bogemiddeld ritmiese moles en op die minste ’n vergeetlike ervaring.
O, die donkie!
In hierdie nuwe eenmanstuk deur Dana Snyman, speel Frank Opperman die 58-jarige hoof van die Hoërskool Hans Oosthuizen, ’n voormalige model C-skool – mnr. Barry Swart. Mnr. Swart is ’n bekommerde man. Daar is persberigte dat die skool besig is om agteruit te gaan. Daar’s ernstige dissiplineprobleme, rassistiese voorvalle en dit lyk of Afrikaans se dae getel is. Boonop het die eerste rugbyspan nou al vyf wedstryde agtereenvolgens verloor. Mnr. Swart oorweeg om te bedank, maar dan, een Maandagoggend tydens saalopening, besluit hy om sy kant van die saak te stel.
SAMSON
Die Woordfees is opgewonde om vir die eerste keer ’n stuk deur die internasionaal gevierde dramaturg-regisseur Brett Bailey op die planke te hê: SAMSON, ’n drama wat dié Bybelse figuur herverbeel binne die 21ste eeu. Hierdie ryk, visuele teaterstuk vervleg kontemporêre dans, eksperimentele elektroniese musiek, dubstep, ensemble-sang en opera (Saint-Saëns se Samson and Delilah) met ’n intrige wat soos ’n meesleurende droom ontvou. Hierdie dans-musiekteater is gegrond op Ou Testamentiese waardes van oorheersing, verraad en rebellie, maar dit speel af in die konteks van hedendaagse politieke ekstremisme, ongelykheid, ontheemding en geweld. Dis heerlik anargisties.
In Slavenhuis 39
Vier jong bruin studente deel ’n woonstel op Stellenbosch wat jare gelede slawe gehuisves het. Hulle probeer die verlede versoen met hedendaagse kwessies soos manlikheid, bendes, geloof, rassisme, kultuur, homoseksualiteit en doodeenvoudige menslikheid. Want wat beteken bruinwees nou eintlik? ’n Nuwe stuk deur Herschelle Benjamin met regie deur Philip Rademeyer.
Ou blou
“Om te staan met ’n mond vol tanne uit respek is een ding, maar om jou bek te hou terwyl jy voor jou siel weet wat’s die reine waarheid, is ’n saak tussen jou en jou ongoddelike gewete.” Boertjie, Ballon en Skirre leer hierdie dure les wanneer hulle vriende word met die misbaksel van die dorp, Ou Blou. Maar hy leer hulle die eerste keer in hul lewe wat sorgvrye kindergeluk beteken. Tot ’n groot tragedie die dorp tref. Wie is skuldig? Kom kyk na die uitblinkers van die kykNET Nasionale Toneelspelkompetisie in hierdie nuwe drama deur Amee Lekas, skrywer van die bekroonde Dans van die watermeid.
[Alle debute in die feesgids is met ’n geel “P” vir “Première” gemerk. Die Toneel-afdeling is van bl. 102-129]
Teater wat reeds op ander verhoë groot byval gevind het

My seuns
My seuns
Ouma se verjaarsdagpartytjie stuur heel moontlik op ’n familie-oorlog af. Pa wag om te hoor of hy as regter aangestel word. Maar gaan die huidige bedeling hom oorsien? Die seuns sit duidelik nie langs dieselfde vuur nie. Miskien is albei verlief op dieselfde meisie of dalk l. hulle verskille veel dieper? En wat presies het destyds tydens die bevrydingstryd gebeur? Weet Ma meer as wat sy voorgee? En by wie lê haar lojaliteit? ’n Eg Suid-Afrikaanse verhaal met al die kompleksiteite van vandag: die familiedramas, verwyte en onopgeloste vrae. Dié nuwe stuk Deur Christo Davids met Sandra Prinsloo en André Odendaal in die rolverdeling is geïnspireer deur Arthur Miller se All My Sons. Tydens Aardklop 2018 is My seuns ses-malig bekroon vir, onder meer, beste regisseur, teks en produksie.

Toutjies & Ferreira
Toutjies & Ferreira
Wat gebeur agter die gordyn in die uur voor ’n vertoning begin? Toutjies & Ferreira, ’n nuwe stuk deur Saartjie Botha, is spesiaal vir al daardie feesverslaafdes wat nog nooit in ’n teater was nie. Dis gek! Regisseur Nicole Holm sê die mate waarin gehore dit geniet, het haar verras: “Ek was bang dat bedryf een te nis is en dat mense wat nie in die teaterbedryf is nie, nie noodwendig dinge so snaaks sou vind nie. Ek vermoed dat die toeganklikheid maar by die akteurs lê!”
Dan volg meer drama – oor ouers wat hulle kinders se huis oppak, want dié het mos oorsee geëmigreer. Dink Skype op ’n Sondag met kleinkinders wat Engels praat. “As jy so luister, vind jy almal het familie wat landuit,” sê Frank Opperman wat in die stuk te sien is. “Dis ‘n universele storie, orals trek mense. Ek is self n oupa, en ek begin te leer hoe oupas voel. Ek kan identifiseer met my karakter.”
Die twee bedrywe, met hul verskillende invalshoeke, is amper ‘n ratverskuiwing, sê Nicole. “Weet nou nie of dit op of af is nie, maar beslis ‘and now for something completely different’.”
En om dié rede, meen sy, is ‘n kaartjie goeie waarde vir geld: “Twee shows vir die prys van een!”

Endgame
Endgame
Samuel Beckett, een van die voorbokke van die Teater van die Absurde, se klassieke Endgame het uitverkoop-sukses in die Baxter-teater behaal. Regisseur Sylvaine Strike, wat Woordfeesgangers in 2018 betower het met The Curse of the Starving Class, maak gebruik van vier teater-ikone - Andrew Buckland, Rob van Vuuren, Antoinette Kellerman en Soli Philander - om die humor én hartseer in Endgame te belig. Dis geslypte teaterkuns wat die verhouding ondersoek tussen baas en klaas, nar en onderdrukte, pa en seun, ouer en kind. “Om een of ander rede” sê Strike, “besef min mense hoe ongelooflik snaaks Beckett is, die donkerte van sy skryfstyl maak juis dat die humor uitstaan. Die akteurs is almal uitstekend met komedie maar hul kapasiteit vir die tragiese is net so sterk. Beckett had ‘n groot liefde vir die komedie van Laurel and Hardy, en sy werk is dikwels in daardie styl van donker-en-lig. Dit gaan alles maar oor hoe ons verhoudings oorleef, en is dit nie maar die lewe nie?”

Huishou
Huishou
Twee wit vroue wil ’n swart kind aanneem. Die jonger een se ouers emigreer en dit bring ’n identiteitskrisis en die soeke na haar wortels en Afrikaner-erfenis mee. Die ouer vrou wil sorgvuldig ’n huis opbou en vol maak. Maar wat beteken dit as die jonger vrou nie daar tuis voel nie? Is hul vol huishouding nou eintlik leeg? Skrywer Philip Rademeyer sê hy probeer met sy skryfwerk die aard van menswees ondersoek. “Om die gegewens en karakters van die storie te skep en uit te brei, is ‘n kombinasie van navorsing en verbeelding uiters belangrik. Met Huishou se skryf het ek geworstel met my eie vrae oor ouerskap – wat is my gevoelens daarom, is dit iets wat ek wil hê ens.”
Cintaine Schutte, wat die rol van Hester teenoor Nadia Valvekens se Dirkie vertolk, sê die feit dat die stuk deur ‘n man geskryf is, maak nie saak nie. “Die teks leen homself daaraan toe dat man en vrou aanklank kan vind by die patrone, die besluite wat gemaak word en die gesprekke binne in 'n verhouding. Enige verhouding.”
Philip sê hy het in sy navorsing verstom gestaan oor hoe mense – soos sy eie ouers – dit reggekry het om loopbane en vriendskappe en vol lewens aan die gang te hou terwyl hulle kinders grootgemaak het. “Alle ouers maak foute, maar solank liefde en ‘n behoefte om vir jou kind ‘n goeie lewe te skep die fondamente van ‘n gesin is, is mens op die regte pad.”
Cintaine stem saam: “Almal wil net behoort en liefde ontvang. Almal wil gesien word en gehoor word. Almal van ons. Gee nie om wat jou seksualiteit is of waar jy vandaan kom nie. Dis 'n universele taal wat ons almal verstaan. As ons dit so begin sien is ons koppe deur. As ons mekaar so begin hanteer en so na mekaar kyk dink ek die wêreld sal 'n beter plek wees.”
Kinderteater
Makroman
Selfs superhelde voel soms plat op die aarde. Makroman van ontbytgraanvlokkie-faam beleef ’n mikrokrisis – hy kom te staan teen Molman om die heldin met die lang goue hare en grasgroen oë te kry. Molman wil wys hý is eintlik meer man as muis. Is hy? Kom ontmoet die supermanne en besluit self.
Met of sonder woorde
Daar is ’n land waar mense byna nooit praat nie, want woorde is duur. Dis net die rykes wat woorde kan koop en dit uitspreek. Die armes moet maar met weggooiwoorde tevrede wees. Reinardt is verlief op Amelief, maar hy het net drie woorde om haar hart mee te wen. ’n Toneelstuk aangebied deur kinders, vir kinders, gebaseer op die boek Die land van die groot woordfabriek.

Babbelagtig
Babbelagtig
Ontmoet sewe kleurryke, liefdevolle, aweregse narre met manewales wat jou sal laat lag en frons – soos dit narre betaam om te doen. Babbelagtig is ’n mimiekspel en wipwarit van betowering en plesier. Dit was die wenner van 2018 se KKNK-Kannatoekennings vir Beste Debuutproduksie en Beste Kinderaanbieding. Wim Vorster het in Krit geskryf: “Babbelagtig is bevrydend, vry en bowenal ongelooflik vindingryk … sonder twyfel een van die mooiste en verfrissendste toneelaanbiedings in ’n lang tyd.”
Kwathi Ke Kaloku (Once Upon a Time)
Sindiwe Magona is ’n bekroonde storieverteller wat hier kragte saamspan met die befaamde plaaslike musikant Bongani Sotshononda en sy United Nations of Africa Band. Dis meesleurende, lewendige, interaktiewe vermaak met ’n boodskap van hoop vir oud en jonk. Dis ook ’n viering van Xhosa-kinderstories en inheemse musiek.
Lees meer oor die teaterproduksies te sien by die 2019 Woordfees of kry die volledige program.
The post US Woordfees 2019: Teater appeared first on LitNet.