
Saartjie Botha (foto: Naomi Bruwer)
Naomi Meyer gesels met US Woordfees-direkteur, Saartjie Botha, oor vanjaar se fees.
Hallo Saartjie! Universiteit Stellenbosch is honderd jaar oud en ek sien 'n interessante item op die Woordfeesprogram, 'n item wat plaasvind die naweek voordat die Woordfees amptelik open. Wil jy dalk vir ons lesers van 100% Stellenbosch vertel?
100% Stellenbosch is vanjaar die US Woordfees se vlagskipproduksie en ons pak dit aan saam met Rimini Protokoll, 'n Duitse teatergroep uit Berlyn wat soortgelyke produksies al in 34 stede regoor die wêreld aangebied het.
Die 100%-teaterstuk werk só: ’n Honderd deelnemers word gekies wat 1% van die Stellenbosse bevolking en demografie verteenwoordig. Byvoorbeeld, volgens die 2011-sensus is 51% van Stellenbosch se inwoners vroulik en 49% manlik. Dus sal 51 van die deelnemers vroulik wees en 49 manlik.
Tydens die vertoning kom die 100 deelnemers op ’n ronde verhoog byeen – dit stel ’n sirkelgrafiek voor. Die verhoog word met beligting in segmente verdeel.
Vrae oor ’n groot verskeidenheid kwessies word dan gestel en die deelnemers beweeg telkens na die deel van die verhoog wat by hul siening pas. Vrae wissel van 'n mening oor die herinstel van die doodstraf tot wanneer jy die toilet spoel te midde van die groot droogte wat ons ervaar.
’n Video van die verhoog word gedurende die vertoning van bo geneem en op ’n muur geprojekteer sodat die gehoor kan sien hoe die “sirkelgrafiek” verander. Die resultaat is ’n fassinerende blik in Stellenbosch se vele koppe en harte.
Die deelnemers het almal vrywillig ingestem om hieraan deel te neem en slegs een is (ook) 'n professionele akteur.
En waar die projek beslis verskille uitwys, sal dit ook wys hierdie baie diverse groep mense (en dorp), word gebind deur verskillende ervarings, oortuigings en drome wat ons, uiteindelik, as ’n eenheid saambind.

’n Foto geneem tydens ’n kleedrepetisie van 100% Stellenbosch. Foto-erkenning: Pierre Rommelaere
Die feesprogram lyk propvol en baie interessant. Ons sien soveel boekeinhoud, musiek en teater. Wat is daar vir die kinders op vanjaar se program?
Die Familiedag op die 3de Maart bied vermaak vir die hele gesin. Die dag begin om 10:15 met ’n spesiale opvoering van die klassieke Pieter en die Wolf, waarna ’n hele rits sangers en orkeste op twee verhoë van 11:00 tot 23:00 gaan musiek maak – Jeremy Loops, Jimmy Nevis, Theuns Jordaan, Tribal Echo, Early B, Loukmaan Adams, Les Javan, The Black Cat Bones en verskeie ander is deel van die plesierigheid. Daar is ook stalletjies en mallemeules en ’n lugskou deur die Silwer Valke.
Die fees bied vanjaar weer ’n lekker verskeidenheid kinderteater aan: Aapstrak vermeng speelse kunsopvoeding met ’n paar lewenslesse; Cindershoeler is musiekteater met ’n skoenmal hoofkarakter; Hentie en die boelie gaan humorvol om met die probleem van kinders wat afgeknou word; In die woud is een groot oudiovisuele ontdekkingsreis, en Storievertel-teater is ’n interaktiewe produksie waarin akteurs die klein toeskouers nooi om saam met hulle stories te speel. Lollos kom weer fees toe met nuwe stories en liedjies, en kinders kan saam met twee deelnemers aan die Kokkedoortjie-TV-reeks leer bak met die hulp van Martjie Malan, medeskrywer van die Kokkedoortjie-reekse wat haar eie kookskool vir kinders het.
Die vlagskipproduksie van die kinderprogram is Liewe Heksie en die sirkus. Dis Verna Vels se geliefde Levinia-heks met tuimelaars, sweefartieste, jongleurs, eenwielryers, oorspronklike musiek deur Riku Lätti, ’n mense-piramide en vuurvreters.
'n Unieke item op die program is die Afrikaanse opera by Spier. Kan jy daarop uitbrei?
Dis die eerste keer dat die Woordfees ’n opera op die program het en ons is baie opgewonde daaroor. Henry Purcell se klassieke maskerspel, The Fairy Queen, word in Afrikaans aangebied as Die feëkoningin. Dié groot produksie is ’n samewerking tussen Kaapstad Opera en die US Musiekdepartement, en in hierdie taai ekonomiese tye is dit ’n klein wonderwerk om ’n skouspel van hierdie skaal aan te pak. Dit is boonop ’n gulde geleentheid vir die musiekstudente wat betrek word, om besonderse ervaring op te doen in die geselskap van die hoogaangeskrewe Camerata Tinta Barocca-ensemble onder leiding van Erik Dippenaar.
Hierdie fees van kleur en klank onder die sterre in Spier se amfiteater gaan ’n besonderse ervaring wees.

Nog ’n foto geneem tydens die kleedrepetisie van 100% Stellenbosch. Foto-erkenning: Pierre Rommelaere
Wat is praktiese reëlings waarvan mense bewus moet wees: bussies en hul vertrektye, kaarte waarmee betaal kan word, enigiets anders?
Waterbesparing is vanjaar een van die fees se heel grootste prioriteite. Die ekonomiese impak van die fees op die dorp is so groot dat ons nie kan bekostig om nie die Woordfees aan te bied nie, maar terselfdertyd wil ons hoegenaamd nie die waterkrisis vererger nie. Ons het daarom ’n spesiale waterplan in oorleg met die Universiteit Stellenbosch opgestel wat eersdaags op ons webwerf beskikbaar sal wees. Waterbesparingsmaatreëls sal ook via verskeie ander kanale aan die plaaslike gasvryheidsbedryf en feesgangers gekommunikeer word.
Die fees is steeds kontantloos, maar jy hoef nie soos verlede jaar ’n kaart te koop wat met geld gelaai is. Jy kan oral met jou debiet- of kredietkaart of SnapScan betaal.
Daar is ook ’n pendeldiens beskikbaar na alle feesvenues – elke dag vanaf 08:00 in die oggend tot 23:45 snags. Die bussies vertrek vandaf die feeskern in Van Ryneveldstraat, vanaf Hoërskool Stellenbosch in Jannaschstraat en vanaf die Kochstraat-grasperk op die hoek van Koch- en Van Reedestraat.
Dit kos R5 per rit, R20 per dag, en ’n R100 vir die hele fees. Standard Bank-kaarthouers pendel gratis.
Iets spesifieks waarna jy op die feesprogram uitsien vanjaar?
Ek sien baie uit na vanjaar se Eeufeeskonsert. Ons het nog nooit so ’n groot konsert aangebied nie. Op die 2de Maart gaan Coetzenburg onder musiekregie van Janine Neethling in ’n skouspelagtige verjaardagpartytjie verander. Gloria Bosman, Tim Moloi, Die Soetstemme, Coenie de Villiers, Laurika Rauch, Valiant Swart, Arno Carstens, Brandon October, die US-koor en verskeie ander gaan saam musiekmaak tot die aand op ’n baie uitbundige nooit afsluit met MiCasa.
’n Ander aanbieding wat ek dink besonder spesiaal gaan wees, is Beloofde land / Promised land – ’n musiekproduksie met poppeteater, animasie en koorsang wat die storie vertel van ’n seuntjie op soek na ’n nuwe tuiste. Die inspirasie vir die stuk was die skokkende foto van ’n Siriese vlugtelingseuntjie wat dood op ’n Griekse strand uitgespoel het. Loft Puppet Company het hierdie multidimensionele werk geskep in samewerking met The Abonwabisi Brothers en die Londense regisseur Oliver James Hymans. Dis iets heel anders.
- Besoek die webwerf van US Woordfees vir nog inligting.
- Lees ook: 100% Stellenbosch: A whole town on a stage
The post US Woordfees 2018: ’n Onderhoud met Saartjie Botha appeared first on LitNet.