
’n Begin met Cintaine Schutte en Carel Nel (Foto via www.woordfees.co.za)
’n Begin is ’n verfrissende produksie. Temas van eensaamheid, onafhanklikheid, seksisme, verantwoordelikheid, besluite en nagevolge is sterk teenwoordig. Dit is egter nie ’n herhaling van ou stereotipes nie.
Na ’n daknatmaak bly een gas agter. Hy en die gasvrou kyk al heelaand na mekaar. Die vonk is duidelik, maar is hulle braaf genoeg om die volgende tree te gee of het hulle net te veel bagasie? Beide karakters is volronde mense: goeie mense, maar mense met foute en geraamtes in die kas. Sy is ’n sterk vrou wat nie ’n man nodig het nie, maar eensaam is. Sy soek gelykheid en respek, maar wanneer sy dit kry, herken sy dit nie. Hy is ’n saggeaarde man wat nie net met enige vrou in die bed spring nie, tog lag hy vir sy pelle se swak gedrag en het self in die verlede foute gemaak waaroor hy steeds skaam is.
Cintaine Schutte en Carel Nel se spel is fyn en genuanseerd. Die konflik en onsekerheid van twee individue wat reeds deur die lewe seergemaak is en dit skrikaanjaend vind om mekaar te vertrou, tog smag na konneksie en liefde, word slim uitgebeeld. Die regisseur, Tinarie van Wyk Loots, het briljante komiese oomblikke gevind en tog ook die rou emosie van die stuk en die menslikheid van die karakters behou. My enigste nota is dat ’n paar pouses ’n bietjie lank geduur het en die optrede ’n goeie tien minute langer was as verwag. Tog was ek nooit verveeld nie.
Dit is ’n slim teks wat subtiel op die been gebring is – die tipe stuk waardeur jy lag terwyl jy eintlik wil huil oor hoe naby dit aan die werklikheid is. ’n Persoonlike gunsteling by die fees.
Lees ook:
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: The king of broken things – an Instagram review
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Exit/Exist – an Instagram review
Hollywood at Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Glitz, glam and razzle-dazzle – an Instagram review
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Othello – an Instagram review
The post Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n Begin – ’n Instagram-resensie first appeared on LitNet.
The post Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: <em>’n Begin</em> – ’n Instagram-resensie appeared first on LitNet.