Met: Babette Viljoen (stem), Olga Leonard (stem en klavier).
Regisseur: Llandi Beeslaar
Skrywer: Stephanie Gericke
Visuele beelde: Mari Geldenhuys
Hoe het dit skielik laat geword?
Die oggend was so lank en stil,
die middag ruim en warm en gul.
Die afdraand van die dag is kil.
Die eteriese eggo’s van die openingsmelodie hang in die lug soos die frase “Hoe het dit skielik laat geword” oor en oor herhaal word. Met elke frase verskuif die harmonielyn effe, ’n doelbewuste dissonansie wat ’n gevoel van leegheid skep. Op die skerm sweef sterrestelsels, en ek dink: As ons aan die einde van die heelal kom, en daar is net dié musiek en die woorde van Olga Kirsch, kan ek in vrede heengaan.
........
Op die skerm sweef sterrestelsels, en ek dink: As ons aan die einde van die heelal kom, en daar is net dié musiek en die woorde van Olga Kirsch, kan ek in vrede heengaan.
........
Olga Kirsch, in 1924 op Koppies in die Vrystaat gebore, het haar stempel afgedruk as een van die belangrikste Joodse digters in Afrikaans. Haar werk is gekenmerk deur ’n diep menslikheid en bewustheid van sterflikheid. Dit is juis hierdie eienskappe wat haar poësie 'n natuurlike vennoot maak met die werk van Stephanie Gericke. Gericke se werk, daarenteen, is rou en onopgesmuk; poësie wat nie versuiker of probeer troos nie, maar wat eerlik en deursigtig met die werklikheid omgaan. Beide digters skryf oor die natuurskoon wat geduldig kom en gaan soos die tyd aanstap – in teenstelling met mense, wat wispelturig is.
Dit is deur hierdie gesprek tussen Gericke se bindingsteks en Leonard en Viljoen se toonsettings van Kirsch dat 'n ryk en veelvlakkige emosionele landskap ontstaan. So ’n projek pas die BO-Musiek-duet soos ’n handskoen. In ’n gesprek ná die vertoning noem Olga Leonard dat hulle al voorheen sulke vertonings geskep het (’n Eeu van Eybers, God die digter). Die sinergie tussen die twee is tasbaar op die verhoog, en skep ’n gemaklike gevoel. As gehoor gaan ons gewillig op die reis saam met die musikante. Viljoen se emosie in haar sang skep ’n sterk gevoel van heimwee dmv slim keuses in intonasie, met sommige sinne wat gepraat-sing word. Olga se begeleiding en stem ondersteun dan weer die sensitiewe verskuiwings in die teks.
Maar hoekom juis nou na Kirsch kyk? “Ek wil ook, soos die digter, vrae vra,” sê Leonard in ’n monoloog in die middel van die vertoning. Kirsch sou vanjaar 100 jaar oud gewees het, en dis ongelooflik hoe relevant haar woorde steeds is. Die duet toonset oa gedigte uit haar bundel Mure van my hart:
Jy is reeds buite roepstem of bereik,
Want vroeg vanoggend het hy steil geklim,
Gesirkel en gedring verby die kim
– die vliegtuig wat jou wegvoer – hy wyk
Uur vir uur verder oor die vasteland
En oseaan. En tog het dit bestaan,
Die afstand tussen ons, lank voor jou gaan.
…
Hart, nou moet jy ophou hoop.
Mooi, nè? Hartstog is duidelik nie net ’n tema waaroor popsangers soos Sabrina Carpenter mag skryf nie. Hoe het dit skielik laat geword? wys dat die kanondigter maklik kan kers vashou by vandag se musiek, en dat vroue in 2024 hulle steeds daarmee kan vereenselwig.
Beeslaar se regie fokus op die subtiele dinamika tussen Viljoen en Leonard. Daar is klein oomblikke van oogkontak en eenvoudige verskuiwings in die beligting, en Geldenhuys se beelde verskaf ’n ondersteunende toon vir elke gedig, en lei sodoende die gehoor van oomblik na oomblik. Dis wonderlik om so ’n ryke dramatiese vertolking by ’n musiek show te sien. Viljoen sê na die produksie: “Dit is die eerste keer dat ons dramatiese regie ontvang, en dit was wonderlik om te sien wat die twee (Gericke en Beeslaar) tot die geheel bydra.”
En hoe raak dit my? Dit is juis die eerlikheid en die rou emosie wat hierdie produksie bo ander laat uitstyg. Dit daag jou uit om saam met die kunstenaars vrae te vra en om die ongemak van die lewe te omarm. Om die dag aan te gryp, voor dit skielik laat word.
Lees ook:
Die koning se bruid by Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n resensie
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: ’n onderhoud met Schalk Joubert
Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Othello – an Instagram review
The post Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Hoe het dit skielik laat geword? – ’n resensie first appeared on LitNet.
The post Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: <em>Hoe het dit skielik laat geword?</em> – ’n resensie appeared first on LitNet.