Vyftien jaar na sy eerste boek, Moer toe die vreemde in, het die avontuurskrywer C Johannes Bakkes sy sewende reisverhaal, Openbaring, tydens die afgelope Woordfees aan feesgangers bekendgestel.

Johan Bakkes in gesprek met Erns Grundling.
Anders as sy Bybelse naamgenoot wat die boek Openbaring op die eiland Patmos geskryf het, is Bakkes se Openbaring in sy huiskroeg geskryf. Dit is nie ’n evangelie nie, maar ’n reisverhaal.
Daar is wel ’n ooreenkoms tussen Openbaring in die Bybel en Bakkes s’n. Die titel van sy boek sinspeel op daardie deel in die laaste Bybelboek wat sê: “As julle tog maar koud of warm was!”
Bakkes is nie lou nie. Daarvoor neem hy daardie teks in Openbaring te letterlik op.
Hy is een van net twee Suid-Afrikaners wat al op die koudste en die warmste plekke op aarde was waar mense ’n bestaan voer by temperature tot so koud as minus 57 grade en so warm as 50 grade Celsius. Mens moet maar “’n ietsie vat” as jy sulke uiterste plekke besoek, vertel hy terwyl Dana Snyman van agter in die gehoor ’n bier vir hom verhoog toe stuur.
Georganiseerde toere laat hom koud. Sy reise neem hom na plekke wat deur min reisigers besoek word.
Toe ’n resensent jare gelede kla dat Bakkes se boek Samoe(r)sa reis te veel “Jack Parow” in het en nie genoeg “Juanita du Plessis” nie, het hy besluit om sy volgende boek die ironiese titel Oepsedaisy te gee. Ná titels soos Moer toe die vreemde in, Nou’s ons in ons donner in en Norrevøk skryf hy in die voorwoord van Oepsedaisy dié boek se titel kon net sowel “O bliksem”, “O gits” of “O magtag” gewees het, want “miskien is dit tyd om Juanita du Plessis in plaas van Jack Parow te speel”.

Erns Grundling en Johan Bakkes
Maar waarom het hy vier jaar gewag voordat hy weer sy pen op papier gesit het, wou Ernst Grundling tydens die gesprek in die volgepakte Boektent van hom weet.
“Soos Johannes van die Bybel het ek net gevoel ek móét weer skryf.”
Sy brein is op ’n permanente galop.“Ek het eers gedink ek het al my stories wat ek wou vertel het, klaar vertel. Maar as jy eers begin skryf kan jy nooit ophou nie.”
Hy skryf omdat dit vir hom lekker is. Nie om pryse in palm of omdat hy dink hy het ’n literêre bydrae om te lewer nie. “Die enigste Hertzogprys wat ek ooit sal wen is as my vrou vir my Hertzoggies bak,” sê Bakkes. Hy beskou homself as die mees onbekroonde skrywer op die Woordfees.

Johan Bakkes
Hy skryf om sy ervarings met diegene te deel wat nooit so bevoorreg sal wees om die ongewone plekke te besoek waar hy kom nie. “Aristoteles het gesê om te onthou is die skriba van die siel.”
Om te onthou is volgens Bakkes die pantser teen vergeet.
Die skryfproses is nie vir hom moeilik nie. Hy doen dit op sy eie unieke manier. Geen goeie storie begin by mense wat slaai eet nie, sê die man wat daarvan hou “om ’n ietsie te vat”.
Wanneer hy begin skryf, maak ’n hy ’n bottel wyn oop en skryf die eerste hoofstuk met bottel nommer een langs hom. “Dan maak ek die tweede bottel oop en skryf hoofstuk twee. Om te skryf is nie vir my ’n wroegingsproses nie.”
Vir sy sekretaresse wat sy geskrewe notas later moet oortik, is dit wel soms ’n wroeging. Sy kan presies uit sy notas aflei wanneer hy die tweede bottel wyn se prop uitgetrek het en dan raak dit soms moeilik om die notas te ontsyfer, skerts hy.

Marga Stoffer van NB-Uitgewers stel Johan en Erns bekend.
Baie van die reise waaroor hy skryf, het jare gelede plaasgevind. Hy het ’n ding oor kiekies en neem alles af wat leef en beef. Dit help hom om te onthou. Hy neem selfs die gehoor af wanneer hy op plekke optree, “sodat ek vir my vrou kan wys ek was regtig daar”. Verder hou hy ’n joernaal tydens sy reise wat help om die onthou terug te bring, al is dit jare later. Dit is deel van sy pantser teen vergeet.
As mens op die Bakkes-manier wil reis, het jy geduld nodig. Hy sê geduld is egter ’n stadige manier om jou moer te strip.
Heelwat van sy reise onderneem hy saam met sy kamerade, want baie daarvan kan mens eenvoudig nie alleen aandurf nie. Maar eintlik verkies hy dit om alleen te reis. “As ek die keuse moet maak is alleenreis die lekkerste.”
Wanneer hy op reis is, sal jy hom eerder in ’n kroeg aantref as in ’n kerk. Hy het niks teen kerke nie. “Ek is self ’n Hervormer en my vrou was ’n Dopper voordat sy ’n Christen geword het,” grap hy.
“Elke liewe toergids wil jou altyd al wat kerk is wys, maar eintlik lyk almal min of meer dieselfde. Kroeë is anders. Daar gebeur meer in ’n kroeg as in ’n kerk, want in ’n kroeg verander alles gedurig.” Dit is dikwels dáár waar hy van die interessante mense ontmoet oor wie hy so kleurvol kan skryf.
Sy pa, wat onlangs oorlede is, het ’n groot rol in sy lewe gespeel en die lus vir reis in hom wakker gemaak.
“Ek is eintlik ’n pallieter,” sê Johannes. “Dit is iemand wat die lewe aangryp en dit tot op die laaste droesem geniet.”
Sy grootste vrees wanneer hy reis is dat die ys gaan opraak. Dit het al gebeur sê hy, maar dit was as gevolg van “kak beplanning”. Skielik onthou hy dan van die gebedsgroepie in Gordonsbaai wat ernstig bid dat hy hierdie gevloek moet los en vat maar nog ietsie vir die keel terwyl hy na sy pyp mik.
Mens sal dalk die Juanita du Plessis uit hierdie gewilde bebaarde avonturier kry, maar nie maklik die Jack Parow nie. Daarvoor is hy te veel van ’n lewensgenieter. Die ewige pallieter op reis na nóg ’n nuwe avontuur.
Foto's: Gerrit Rautenbach
The post US Woordfees 2016: Onthou is die pantser teen vergeet appeared first on LitNet.