Titel: Busrit in die aand
Stemme: Frank Freeman & Tarryn Lamb
Kitaar: Frank Freeman
Baskitaar: Schalk van der Merwe
Tromstel: Werner von Waltsleben
Ondersteun deur: Toyota US Woordfees

Frank Freeman
Hierdie produksie het natuurlik my oog gevang weens die titel, maar die feit dat Frank Freeman die kitaar sou optel, was my grootste dryfveer om dit te gaan sien. Dié kêrel mag maar ’n kitaar hanteer.

Tarryn Lamb
Ek, as televisie-analfabeet, is nie juis bekend met Tarryn Lamb se werk nie, maar ek weet sy kan sing. En hoe. Lamb was ’n aangename verrassing. Die twee het ’n lekker aand van ligte vermaak verskaf.

Schalk van der Merwe
Schalk van der Merwe op ’n baskitaar is altyd ’n goeie rede om na enige iets te kyk en Werner von Waltsleben se effens eksentrieke tromspel interesseer my altyd.

Werner von Waltsleben
Freeman het Elisabeth Eybers se “Busrit in die aand” getoonset en dit uitgevoer.
Ná die aanvanklike homage aan Eybers het die stuk ’n eie rigting ingeneem. Dit was uiteindelik ’n aand van baie goeie musiek en ligte vermaak, sonder veel Eybers.
Lamb se persoonlikheid en professionele aanbiederstyl was ’n mooi teenhanger vir Freeman se skamerige neiging om liewer die snare te laat praat. Wanneer Freeman iets te sê het, was dit egter die moeite werd om te luister en wanneer hy die kitaar laat praat, kan jy maar die veiligheidsgordel vasmaak en agteroorsit.
Busrit in die aand was soos ’n kort, genotvolle bustoer deur ’n lieflike omgewing. Te vinnig verby, nie baie duur nie en iets om die dag se stres mee weg te vee. Dit was lekker en onopgesmuk.
Freeman se spel het seker gemaak dat jy baie goeie waarde vir jou buskaartjie se prys gekry het.
- Foto’s: Izak de Vries
The post Busrit in die aand: ’n resensie | Toyota US Woordfees 2023 first appeared on LitNet.
The post <i>Busrit in die aand</i>: ’n resensie | Toyota US Woordfees 2023 appeared first on LitNet.