Titel: All my ex-lovers are dead
Akteur: Maria Vos
Skrywer en regisseur: Dara Beth
Verhoogbestuurder: Michaela Nightingale
All my ex-lovers are dead het gesorg vir ’n prettige uur in die teater.
Maria Vos se rou, eerlike interpretasie van ’n teks oor liefde en verlies het gemaak dat jy haar ’n drukkie wou gaan gee aan die einde.
My ma sou die stuk nie geniet het nie, want sy was nie ’n baie sekspositiewe persoon nie. Ek vermoed egter my ma se dogters sou meer daarin sien as sy.
Seks is vandag gewoon anders as in ons ouers se tyd. Dankie tog. Sonder die pretensie en die chaperone en die noodsaak om in wit deur ’n man voor die kansel gevang te word, kom bevryding, maar ook ’n eietydse noodsaak om sonder ’n handleiding die slagveld te betree.
Verhoog
Die verhoog is leeg, behalwe vir ’n enorme koppie waaruit ’n ellelange, gebreide kunswerk hang, asof dit koffie is wat vermors word.
Vos, die akteur, brei vir die duur van die teks verder aan hierdie enorme stuk kuns.
Nie net word die gebreide stuk effektief ’n kombers, ’n bed, ’n wegkruipplek nie, dit bied ook ’n draad aan die teks...
Die teks is ’n klomp los idees oor seks en verhoudings met talle lovers wat kom en gaan. Daar is geen goue draad te bespeur nie, maar wel ’n dienlike, effens vaal draad wat regdeur die teks loop.
Vos is ook vir die grootste deel van die tyd vasgebind aan die kunswerk – sy is gevange in die teks en die rekwisiet.
Dit is moontlik om los te kom, maar dan moet sy ophou brei, ophou bou aan haar kunswerk.
Daar is natuurlik ook ’n ander interteks: Ons kan dink aan die meisie wat in die toring sit en wag op ’n prins om haar te red. Sy laat sak dan haar gevlegte hare vir hom om in te kom. Die ander interteks is die kabouters wat goud spin, waarvoor hulle in ruil ’n vrou sou wou opeis.
Hier is geen prins op ’n wit perd nie. Bloot jong mans wat vat en vra en soms te veel aandring om haar vir ’n oomblik binne te dring.
Sy spin haar storie, dit word langer en digter voor ons oë.
ee cummings – of nie?
In die programnotas is gewag gemaak van ee cummings en ek het nogal uitgesien na ’n gesprek met cummings, maar dit het toe nie gebeur nie. Dit blyk dat die karakter ’n renons het aan cummings. Punt.
Nou ja. Nog ’n prins wat te lig bevind is!
Vermaak met siel
Ek gaan nie die stuk tot die dood analiseer nie. Ek en my feesmaat het dit baie geniet en het saamgestem dat dit ’n stuk is om aan te beveel – maar nie (noodwendig) vir mense van my ma se generasie nie.
Vir jonger mense, of ouer mense wat sekspositief is, of vir ouer mense wat wonder wat in jong mense se koppe aangaan: Maak ’n punt om die stuk te gaan sien.
- Foto’s: Izak de Vries
The post All my ex-lovers are dead: ’n resensie | Toyota US Woordfees 2023 first appeared on LitNet.
The post <i>All my ex-lovers are dead</i>: ’n resensie | Toyota US Woordfees 2023 appeared first on LitNet.