...
Herhalings Saterdag 16:38 en Sondag 04:57
...
Ek het nooit in die filosofie gestudeer nie, en nadat ek vanjaar se Filosofiekafee by die Toyota US Woordfees gekyk het, wens ek dat ek wel dié vakgebied van naderby kon leer ken.
Dit is die twintigste jaar dat die filosofiekafee by die Woordfees aangebied word, en nooit weer loop ek dit mis nie. Hierdie filosowe is slim, pittig, verstaanbaar en toeganklik – ’n vrolike spul!
Hoe dit werk is dat twee spanne filosowe van vier lede elk teen mekaar kompeteer, onder voorsitterskap van Stan du Plessis, ’n viserektor by Maties. Die onderwerp vir vanjaar is “Iets Anders” Die twee spanne vir vanjaar se name is Taalbeleid (want jy kan nie twee keer dieselfde inhoud in die universiteit se taalbeleid raaklees nie ), en die Gewese Papegaaie (vernoem na die heerlike Dead Parrot-skets uit die Monty Python-stal).
Elke filosoof kry drie minute om te filosofeer, en kom te staan teen een filosoof van die ander span, wat ook vir drie minurte filosofeer. Dis filosofie op die markplein, en dis lekker, hoor.
Taalbeleid se filosowe is Amy Daniels (die enigste een wat nie verbonde is aan die Universiteit Stellenbosch se departement filosofie nie; sy is van die department antieke studies), Andrea Palk, Vasti Roodt en Hannes Smit. Die Gewese Papegaaie se filosowe is Sue Hall, Marius Swart, Minka Woermann en Anton van Niekerk.
Die wenner word telkens bepaal deur Du Plessis se (na my mening ietwat bedenklike, maar my regteroor raak al dower) lees van die volume van die gehoor se applous – die filosoof wat die hardste toegejuig word, wen. Die markplein van filosofiese kompeterendheid is duidelik geen ivoortoring vir diegene met sissie-selfbeelde om aan die banale oordeel van die weliswaar goedgeklede Stellenbosse proletariaat-gepeupel te ontkom nie…
Ek gaan nie hier die sluier lig oor die uitslae nie, maar soms dink mens die gehoor is slim en diep denkend, ander kere dat hulle stommerikke is. Die verskil – so sou die tydsgees ons verseker – is of jy met die spreker en die interpretasie van beoordelaar Du Plessis saamstem – in hierdie dae is feit mos glo ’n eie persepsie, maar eie persepsie is feit, dan nie? Sug.
...
In die eerste rondte is dit Palk se ietwat musieklike filosofie-lietratuurstudie teen Woermann se verklaring van die wonderwêreld van aanlyn-vergaderings op Microsoft Teams. Laasgenoemde was vir my ’n wonderlike bewys van die praktiese nut en aanwending van filosofie.
...
In die eerste rondte is dit Palk se ietwat musieklike filosofie-lietratuurstudie teen Woermann se verklaring van die wonderwêreld van aanlyn-vergaderings op Microsoft Teams. Laasgenoemde was vir my ’n wonderlike bewys van die praktiese nut en aanwending van filosofie.
In die tweede rondte het Van Niekerk te staan gekom teen Daniels, wat ’n vermaaklike woke-siening van Julius Caesar gegee het. Ek was mal oor Van Niekerk se (eksistensiële, dink ek, en omdat ek dit dink, is dit, mos?) verklaring van die verband tussen verandering en dit wat is en/of was. Dit het die kyk die moeite werd gemaak.
Smit se vermaaklike ervaring van die bestuurservaring moes kompeteer teen Hall se aandrang dat dit wat is, maar voorgee om te wees – alles is nie pluis nie, ons weet nie wat ons nie vermoed nie… In hierdie geval het ek nogmaals met die massa verskil oor wie die wenner moes wees. Wys jou nou net, nè.
Die vierde rondte het begin met Swart se fyn voetwerk met die lees van doe Afrikaanse poësie. Sy opsomming van die hele Groot Verseboek in een doggerel het my soos ’n moroon laat hande klap hier waar ek covid-alleen voor my rekenaar sit. Wat moet die bure (ons is wederkerig periodiek sigbaar van hul patio en my studeerkamer-venster, onderskeidelik) dan nou van my dink?
Roodt se kragtoer oor ietsers en anti-ietsers is briljant en vir vanjaar in ’n klas op sigself – so ligvoets en trefseker. Gegewe die uitslae het dit gelei tot ’n uitklopsessie, wat uitgeloop het op ’n voorwaar ongewone (hoog in skaarsheidswaarde, dus) en immer welverdiende openbare oorwinning vir die Taalbeleid op Stellenbosch.
Lekker, man, lekker. Gaan kyk dit nou!
The post Toyota US Woordfees | <em>Filosofiekafee</em> appeared first on LitNet.