Quantcast
Channel: Toyota Stellenbosch Woordfees - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 695

Fotogalery: Toyota US Woordfees 2020 Skrywersfees

$
0
0

Die Toyota US Woordfees se skrywersprogram was vanjaar oudergewoonte propvol. Remona Voges het foto's van sommige van die hoogtepunte geneem. 

Die opspraakwekkende nuwe bundel, Het jy geweet ek kan toor – Jeanne Goosen eksklusief, bevat meer as 100 voorheen ongepubliseerde gedigte van Jeanne Goosen en is vuurwarm op die rak. Die gedigte is deur die uitgewer en redakteur Petrovna Metelerkamp tussen Jeanne se dokumente ontdek toe sy navorsing gedoen het vir haar biografie oor Jeanne, Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne, wat óók op die Skrywersfees bekendgestel is. Dis die eerste keer in 13 jaar dat gedigte van die Ons is nie almal so nie-skrywer verskyn.

Petrovna Metelerkamp doen die openingswoord by Het jy geweet ek kan toor – Jeanne Goosen eksklusief

Rachelle Greeff en Marianne Vorster-Meyer was van die voorlesers.

Carel van der Merwe se verhaal van die ware avonture van genl Ben Viljoen, Boeregeneraal en politikus, joernalis en skrywer, avonturier en pierewaaier, sirkusboer en showman, Mexikaanse revolusionêr en Indiane-vredemaker, veelwywer en vrybuiter, Hollywood-draaiboekskrywer en burger van vier lande verskyn nou as Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen. Carel het vertel hoe hy Viljoen se spoor gevolg het van St Helena na Europa, Mexiko en Amerika aan die hand van argieffoto’s.

Carel van der Merwe gesels met Fransjohan Pretorius

Argieffoto's wat tydens die bespreking vertoon is.

Deborah Steinmair het ’n splinternuwe krimistem bekendgestel – dié van die UK-student Olivia M Coetzee, wat haar misdaadroman oor die Kaap in sy geheel geskryf het in die taal van sy mense – Kaaps. Welkom, Innie shadows. Armoede, tik en godsdiens is ’n groep vrinne se daaglikse brood tot een van hulle vemis raak. Waa is Carl, hoekô niem Gershwin sy eie liewe, en wat lê agte die vebrande lyk wat in Shadow Heights gekry wôt?

Deborah Steinmair ontmoet vir Olivia M Coetzee

Deborah Steinmar met ’n kopie van Innie shadows.

Net mooi fine volg op Lanie van Reenen se suksesvolle C’est la Vie, en beskryf hoe sy die nuwe realiteite van haar nou gestroopte lewe te bowe moet kom ná die mislukking van haar hotelprojek in Frankryk, wroeg oor die lot van die ou château en veral hoe sy die wins van verlies probeer uitwerk. Sy het met Marita van der Vyver gesels.

Lanie van Reenen in gesprek met Marita van der Vyver

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan is ’n storie oor ’n seuntjie wat deur die stelsel in die steek gelaat is en 40 jaar later, as ’n volwasse man, probeer om die stukke op te tel. Roepman se Jan van Tonder het met Christine Barkhuizen-le Roux gesels oor taboes en hoekom ons geleer word mans mag nie huil nie. 

Jan van Tonder in gesprek met Christine Barkhuizen-le Roux

Toe Nelson Mandela in die laat 80’s dringend geopereer moes word, het alle hel losgebars. Die Nasionale Party wou hom landuit smokkel in die hoop dat hy sou ontsnap, die uitgeweke ANC het veld gewen met klagtes oor hoe swak wit dokters swart gevangenes behandel, en die veiligheidspolisie wou desperaat keer dat die operasie in ’n sluipmoordaanval ontaard. Toe vra Mandela self na dr Willem Laubscher. Op 90 deel dr Laubscher vir die eerste keer self sy storie, saam met Willie Esterhuyse, wat al dié geklassifiseerde dokumente in sy besit het, en Dennis Cruywagen, wie se The Spiritual Mandela onlangs in Amerika verskyn het.

Willie Esterhuyse, Dennis Cruywagen en Willlem Laubser

Hoekom raak mense verlief op misdadigers – soms ook wanneer hulle nog hul vonnis uitdien? Carla van der Spuy het vir  Riette Rust meer vertel omtrent haar talle onderhoude met mense wat liefde probeer onderhou wanneer een of albei agter tralies is, en wat sulke verhoudings dryf. Oud-gevangene Jacques Pratt, stigter van die Hope Hela-stigting wat na gevangenes uitreik, het ook sy insigte gedeel.

Riette Rust, Carla van der Spuy en Jacques Pratt

Kyk ook:

Toyota US Woordfees 2020: Eerste foto's

Toyota US Woordfees 2020: Johan Kotzé se foto’s

Fotogalery: Kuns by die Toyota US Woordfees 2020

Toyota US Woordfees 2020: Foto's van koeke, terte, jong digters, gesoute skrywers en Skype

The post Fotogalery: Toyota US Woordfees 2020 Skrywersfees appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 695


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>