Vervaardig deur Theatrerocket
Gebaseer op Kamphoer deur Francois Smith en The Boer whore deur Nico Moolman
Cecilia du Toit, Sandra Prinsloo en Lara Foot: Verwerkers
Lara Foot: Regisseur
Patrick Curtis: Stel- en beligtingsontwerp
Birrie le Roux en Mariechen Vosloo: Kostuums
Simon Kohler: Klankbaan
Jeanne Steenkamp: Verhoogbestuurder
Ondersteun deur KunsStig
Met: Sandra Prinsloo
Daar is net een vrou op die verhoog, maar sy’t die stamina van ’n leërskare. Sandra Prinsloo gee tegelyk lewe aan die karakter Susan Nell sowel as aan die woorde van die boek Kamphoer.
Die toneelstuk open met die boek se openingshoofstuk, en verwysings na die merke op ’n man se oor. Hierdie oor behoort aan die verkragter van Susan Nell, die vrou op wie se verhaal die boek gebaseer is.
Die verhaal beskryf hoedat Susan Nell in die Winburg-konsentrasiekamp verkrag en as ’n dooie agtergelaat is. Sy word deur ’n barmhartige Samaritaan, ’n Sotho-man, en sy vrou versorg totdat sy genoeg krag het om voort te gaan met haar lewe. Letsels en al. Uiteindelik kruis haar pad weer met dié van haar verkragter.
Sandra Prinsloo vertel die karakter se storie met gevoel. Sy wissel die emosies in een uur af soos al die seisoene in een jaar. Veral soos herfs; daar is kleur en diepte in haar vertolking. Dit word dalk swaar en gewigtig, maar nooit eentonig nie.
Woorde uit die boek bied interessante besonderhede wanneer haar karakter daarna verwys: Elke toneel word in die fynste besonderhede beskryf dat ’n mens dit helder kan sien.
Die stel is eenvoudig: ’n Stukkende tent. Maar ander karakters wat help om die storie te help vertolk, is die klank en die beligting. As die huis aan die brand gesteek word, hoor mens die geknetter van die vlamme en die tent ontvlam in helder oranje en rooi.
In ’n tyd waartydens nagedink word oor wie durf wie se storie vertel, veral waar ’n verkragtingstoneel ter sprake is, besef ek dat dit my glad nie hinder dat die boeke Kamphoer (of The Boer whore) enigsins deur mans geskryf is nie. Die storietekste was sterk genoeg om ’n uiters effektiewe teaterstuk daaruit te kon skep.
Die verkragtingstoneel is uiters ontstellend. Ek dink ’n oomblik lank aan die TV-reeks The handmaid’s tale. Hoedat ander mense in dieselfde omgewing niks doen nie; die verkragting bloot laat voortgaan sonder om ’n vinger te verroer.
Die stuk konfronteer die teaterganger met die gebeure, maar tog is dit nie eksplisiet nie. Alles wat nie gewys word nie, en net verbeel word, is des te meer effektief.
Deurlopend is Susan Nell se vraag: Wie is ek? Dit word ’n paar keer gevra. Soms vertel sy leuens oor haar naam. “My name is Alice Draper.”
Ander kere prewel sy haar regte naam. Maar meestal is die antwoord doodgewoon: Wie is ek? Ek is die kamphoer.
Kamphoer speel af lank voor die tyd van #MeToo. Maar dit laat die teaterganger dink: Hoe durf dit? Verkragting is boos.
Mens verstaan wat Susan Nell bedoel as sy sê: “Ek wou hom doodmaak. Ek wou my eie storie skryf en ek wou hom vermoor.”
Die toneelstuk lig uit dat net mooi almal in die land deur die Anglo-Boereoorlog, ook die Suid-Afrikaanse Oorlog genoem, geraak is. Mans, vroue en kinders van alle rasse en kultuurgroepe in die land.
Die Sotho-man en sy vrou wat vir Susan sorg, is mense wat op die verlate vlaktes in die oorlogtyd ronddwaal. Hulle is die goedhartiges wat hulle pap met haar deel. Daarna het sy gesmag, en dit vul haar mond asof sy haar lewe lank daarvoor gewag het, sê sy, ook terwyl sy in die konsentrasiekamp vir ’n happie kos moes baklei.
Die verhaal wys ook uit: Daar is goeie mans wat Susan Nell se pad kruis, maar as gevolg van wat met haar gebeur het, kneus sy hulle. Sy kan hulle nie naby aan haar toelaat nie. Die rimpeleffek van die oorlog was nie net sigbare slagoffers wat aktief besig was om met mekaar te veg nie. Soveel van die wonde en merke is weggesteek.
Aan die einde van die toneelstuk staan die hele gehoor soos een man op om vir die een vrou op die verhoog hande te klap.
The post Toyota US Woordfees 2020, <em>Kamphoer</em>: Naomi Meyer se indrukke appeared first on LitNet.