Van Hamilton tot Hairspray, Dreamgirls, Waitress, Chicago, Les Misérables, West Side Story en Dear Evan Hansen – dis net sommige van die bekende musiekspele wat saam verweef word in Van Broadway na Birdstraat, te sien by vanjaar se Toyota US Woordfees.
Die unieke geselskap van dié produksie bestaan uit 22 talentvolle leerders van Curro-skole landwyd, en bekendes soos Timothy Moloi, Corlea Botha, Lynelle Kenned, Germandt Geldenhuys en André Terblanché. Dié talentvolle groep bring van Broadway se bekendste musiekspele Stellenbosch toe.
Die produksie is vervaardig deur Curro Create, ’n insiatief van Curro, in samewerking met Wordsmith’s Theatre Factory. Hennie van Greunen en Pedro Kruger is die regisseurs en samestellers.
Pedro Kruger vertel meer oor dié spesiale samewerking.
Vertel asseblief meer oor die produksie – waaroor handel dit? As ek reg verstaan, bevat dit ’n samevoeging van verskeie musiekspele, soos Hamilton, Les Misérables, Chicago, Little shop of horrors en Hairspray?
Met die produksie bring ons hulde aan al ons gunstelingmusiekspele. Maar dis nie ’n konsertweergawe daarvan nie. Met stel, kostuums, grimering en oudiovisuele materiaal verplaas ons die musiekspel asof jy ’n voorste-ry-sitplek het in een van Broadway se teaters. Dit word bymekaar gehou deur bindingsteks wat jou verplaas na die spesifieke gedeeltes en karakters van die musiekspel.
Vanwaar die naam Van Broadway na Birdstraat?
Birdstraat is ’n ikoniese straat in Stellenbosch. En vir die Woordfees wou ons Broadway na Stellenbosch verplaas.
Die produksie is ’n musiekspel - sluit dit dus toneelspel, sang en dans in? Is dit uitdagend om al hierdie elemente in ’n produksie suksesvol te kombineer?
Die produksie bevat inderdaad al die elemente van ’n musiekspel. Van klein intieme momente uit Miss Saigon tot groot sang- en dansnommers uit Chicago. Ons het ’n geselskap van 27. So dis met tye groot!
Hierdie is ’n inisiatief van Curro Create – vertel asseblief meer oor Curro Create? Wat behels dit?
Curro Create is die kreatiewe been van die Curro-groep in Suid-Afrika en Namibië. Curro Create werk aan verskeie projekte binne die groep. Maar ook produksies op nasionale vlak wat professioneel aangebied word met die room van Curro se jong talent.
Hierdie is ’n interessante projek waar 22 Curro-leerders die verhoog deel met kunstenaars soos Timothy Moloi, Corlea Botha, Lynelle Kenned, Germandt Geldenhuys en André Terblanché, wat ook optree as hulle mentors. Vertel asseblief meer oor hoe hierdie proses werk?
Curro Create werk sterk op ’n mentorskapbeginsel. Die leerlinge leer en kry blootstelling aan die beste van die industrie. In alle kreatiewe velde, nie slegs die uitvoerende kunste nie. Met die produksie het ons top kunstenaars gekry wat ook ’n passie het vir mentorskap en opheffing van die talent van die nuwe generasie. So die room van jong talent leer nie slegs by die professionele kunstenaars nie, hulle kry ook die geleentheid om die verhoog met hulle te deel. En saam maak hulle ’n geselskap wat vir geen professionele produksie terug hoef te staan nie.
Hoe is daar op die leerders en mentors besluit?
Die leerlinge (akteurs, sangers en dansers) is nasionaal uit sowat 400 kandidate binne die Currogroep gekies. En die mentors – wel, hulle is uitmuntende, wêreldklas kunstenaars. En hulle almal is tuis in die musiekspelgenre en het ’n passie om hulle kennis en ervaring te deel.
Wat is julle doel met hierdie projek?
Eerstens om ’n topgehalte produksie na die gehore van Woordfees te bring. Tweedens om te wys watse ongelooflike jong talent daar buite is. En derdens om ’n produksie op die planke te bring waar die jong spelers by die meesters kan leer en hulle talent op ’n professionele vlak verder geslyp kan word.
Is dit belangrik om die kunste onder die jeug te bevorder en word daar genoeg gedoen om ’n liefde vir die kunste by jongmense te kweek?
Dis kardinaal om die jong talent te vind en dan verder te slyp. Hulle is tog ons kunstenaars van môre. Daar word nie genoeg gedoen nie en daarom salueer ek Curro wat hulle geld agter die ontwikkeling van jong kreatiewe talent sit. Hulle ondersteuning en toewyding aan die ontwikkeling van jong talent het geen gelyke in Suid Afrika nie.
Van Broadway na Birdstraat / From Broadway to Bird Street is 7 Maart 16:00, 7 Maart 20:00 en 8 Maart 11:00 by die Toyota US Woordfees te sien. Kaartjies is teen R100–R200 beskikbaar by Computicket en kos R220 by die deur.
The post Van Broadway tot op eie bodem: Jong talent pak bekende musiekblyspele aan appeared first on LitNet.