’n Groep vroue word in hegtenis geneem nadat hulle amok by ’n bekende klerewinkel gesaai het omdat die winkel nie klere in hul grootte het nie. Hulle bepleit hul saak by Konstabel Nkosi, maar word veroordeel tot ’n strawwe drie week lange gewigverloorprogram. Hulle swoeg en sweet, maar alles tevergeefs. En dan besluit hulle om terug te gaan na die oorsaak van die probleem – die klerewinkel. Wat hulle ná al die trauma en deurgedrafte tekkies wil hê, is steeds ’n ekstra large, asseblief.
Remona Voges gesels met Marichje de Necker oor dié komedie wat by vanjaar se Toyota US Woordfees speel.
Waar het die idee vir hierdie stuk vandaan gekom?
Twee van ons cast-maters, Anke Cullinan en Nane Zietsman, het met die oorspronklike idee vorendag gekom vir koshuistoneelfees. Nadat die stuk goed gevaar het, is Marichje de Necker en Melanie Scholtz toe genader om die geselskap en teks uit te brei. Die show, Upsize, wen toe koshuistoneelfees en word aanvaar vir die Woordfees 2019. Na vier uitverkoopte shows is ons in 2020 terug met ’n splinternuwe teks.
Wat was vir julle die grootste uitdagings van die produksie?
Een van die grootste uitdagings was om ’n magdom idees in woorde om te sit. Ons is vyf meisies (Mercy Kannemeyer ingesluit) met ons eie “vet-stories”. Dit was soms moeilik om te besluit wat belangrik genoeg is om in die teks te bly. Ons het ook deurgaans seker gemaak dat ons eerder spot met onsself as wat ons vir ander preek oor hoe aaklig dit is om vet te wees. Niemand gee om nie. Lag vir jouself. En sluit aan by ’n gym.
En die lekkerste deel van die proses?
Die lekkerste deel was al die gelag. 70% van ons tyd saam as geselskap is dit ons wat vir onsself en mekaar lag. Dis die wonderlikste manier om deur trauma en vernedering te werk. Ek dink ons is almal meer secure as mense na hierdie proses.
Was die stuk bedoel om kommentaar te lewer op die vroulike liggaam of ’n algemene ingesteldheid van “groter is beter”?
Die geselskap bestaan slegs uit vroue, so in daardie opsig fokus ons seker op die vroulike liggaam. Maar ons wil glad nie eksklusief wees nie. Die perspektief is uiteraard vroulik, maar enigiemand sal kan vereenselwig – selfs al is jy nie ’n vettie nie. Haha. Ons vertel ’n menslike storie met ’n fokus op gewig. Ons probeer nooit sê “maer mense is sleg” of “dis oukei om ontsettend oorgewig te wees” nie. Ons maak eintlik geen sulke aantygings nie. Ons is nie hier om vir ’n gehoor te preek oor wat reg of verkeerd is nie. Die fokus is: Hierdie is karakters se stories en dis hoe hulle die uitdagings van oorgewig wees gaan tackle. Ek dink dis ’n ligte manier om oor ’n swaar onderwerp te gesels.
En maak size regtig saak?
Size maak vir seker saak. Maar nie in die sin dat een size beter is as ’n ander nie. Almal het hul eie smaak. Is jy gelukkig met jouself? Is jy gesond? Dis wat belangrik is. Die punt van die saak is – en ek vermoed dis hoekom die beweging soveel aandag kry – jou gewig is niemand anders se saak nie. Moenie my oordeel nie, ek weet ek is dik en ek gym vrek hard. Maar dis geen een mens se plek om ’n ander te oordeel nie. So as jou size vir jóú saak maak, doen iets daaraan. If not, that’s your choice too. Maar wees consistent. Size kan nie een dag saak maak, en ’n ander nie. Dis ’n moeilike vraag om te beantwoord. Die lank en die kort, size maak eintlik net vir my saak as ek ’n hemp se knoop laat afskiet in ’n Cotton On-aantrekhokkie.
Wie sal by die show aanklank vind?
Definitief enigiemand wat al gesukkel het met hul gewig of al probeer het om gewig te verloor. Verder sal enigiemand wat hou van teater wat jou laat lag, van die stuk hou. Daar is musiek en baie aksie. Ek dink die meeste mense was al iewers in hul lewens moedeloos oor hul voorkoms – mens pas maar net die metafoor aan om jou te pas.
Na watter ander shows by vanjaar se Woordfees sien julle uit?
Ons cast lede is in ander stukke ook: Tussen, Woorde op akkoorde, US Koor en Marietjie! In Technicolor! Ons sien ook uit na Die dinge van ’n kind, Lycra en petticoats, Kraai, Seisoenaal, Moord op die 8ste gat en Nancy, Shiela en Gayle. Ons gaan elke dag afsluit by die Teater Naggesprekke.
Kom kyk by die Toyota US Woordfees na
|
The post Toyota US Woordfees 2020: ’n onderhoud oor <em>Ekstra large, asseblief</em> appeared first on LitNet.