Quantcast
Channel: Toyota Stellenbosch Woordfees - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 693

Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Jelleke Wierenga

$
0
0

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Jelleke Wierenga vertel vir Naomi Meyer van haar kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word.

Jelleke, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

My kortverhaal gaan oor moord, wat ek dikwels in my kop pleeg. As kind was ek uitgelewer aan die vuil pote van verskeie mans, wat ek nou stelselmatig in my verhale uitroei. In die klimaat van stilte en emosionele geslotenheid waarin ek grootgeword het, was dit ondenkbaar om oor “sulke dinge” te praat en die pitsweer te druk dat die etter spat. Nou doen ek dit op ’n later stadium. Natuurlik is nie álles in die verhaal die waarheid nie.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses daarvan? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

Toe die inspirasie kom, kon ek net gaan sit en skryf; die storie vloei vanself. Moontlik lankal ’n fantasie in my onderbewussyn waartoe ek nie toegang gehad het nie totdat ’n sneller in die hede my die deur laat oopskop het. Ek het nie die gebeure in die storie beplan nie – sodra ek begin dink en beplan, is dit die doodskoot vir die storie. Ek moet myself en my kritiese gedagtes net uit die pad hou, dan skryf die storie homself (of haarself). Wat afronding en redigering betref, is ek al dekades lank ’n subredakteur en redigeerder. Ek is dus baie punteneurig (wisselvorm) en versorg my stories soos ’n Hollandse huisvrou haar huis. Ek het ’n broertjie dood aan sorgelose skrywers wat woorde opbring en dit net so los sodat iemand anders met ’n Jik-lappie agter hulle aan moet loop en skoonvee.

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon, en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items waarna jy op die program uitsien?

Ek hoop om die Woordfees by te woon – maar is te armgatterig vir die duur verblyf. Waar moet skrywers bly wat (a) nie ryk is nie, (b) nie ’n ryk metgesel het nie, en (c) nie familie, vriende of kennisse in Stellenbosch en omgewing het nie? Ek het nog nie na die program gekyk nie, want ek wil nie myself bly maak en dan teleurstel nie.

The post Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Jelleke Wierenga appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 693


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>