Quantcast
Channel: Toyota Stellenbosch Woordfees - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 693

Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Madeleen Welman

$
0
0

LitNet plaas oor ’n tydperk van ’n maand onderhoude met die skrywers wie se verhale vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word. 

Madeleen Welman vertel vir Naomi Meyer van haar kortverhaal wat vanjaar in die Toyota US Woordfeesbundel opgeneem word.

Madeleen, waaroor handel jou kortverhaal en wat was die inspirasie daarvoor?

Die verhaal (“Juffrou Heila se tuin”) handel oor selfopgelegde alleenheid wat so toeneem dat ’n skewe perspektief van die lewe begin oorneem. 

Die inspirasie vir die verhaal? Ek kan dit nie juis inspirasie noem nie, maar ek het op ’n dag my bejaarde buurman so aangetref soos juffrou Heila haar buurman kry. (Mens wil ook nou nie hier die storie verklap nie, nè?) Die insident het in my kop gelê en wag om op papier te kom.

Wil jy iets vertel oor die skryfproses daarvan? Het jy die verhaal vooraf beplan of het dit organies ontwikkel? Afronding, redigering?

Volgens die kompetisie mag die verhale nie 3 000 woorde oorskry nie en daarom moes ek redelik goed beplan. Maar soos met alle planne kan dinge skeefloop en juffrou Heila het steeks ’n ander rigting begin inslaan. 

Die kort formaat dwing ’n mens om oor en oor te redigeer, want daar is nie plek vir "hooptadoodle" nie, soos Elmore Leonard sou sê. Alle onnodige woorde moes uitgehaal word en vervang word met net die regte woord. As jou karakter ontwikkel of verander het deur die loop van die verhaal, bemoeilik dit sake, want skielik is hele frases wat aan die begin goed gelyk het, verkeerd. 

In die loop van die redigering en afronding lees ’n mens die verhaal soveel maal deur dat dit later afgewater begin klink en die gevaar bestaan dat jy dan begin karring en torring aan iets wat reg was. Ek probeer altyd om my verhale vir ten minste ’n week te laat lê voor die finale redigering. Dis moeilik, hoor!

Gaan jy vanjaar die Toyota US Woordfees kan bywoon, en indien wel, en as jy reeds tyd gehad het om na die program te kyk, is daar enige items waarna jy op die program uitsien?

Die kanse dat ek die Toyota US Woordfees gaan bywoon, is maar skraal. Ek woon op ’n afgeleë plekkie en dis ’n allemintige gedoente van motorritte en bussies voordat ek eers op ’n lughawe is! Indien ek wel by die fees uitkom, sal ek beslis Die negende stap, Sê groete vir Ma, The Island (beslis) en soveel ander dramas as moontlik sien. En boekbesprekings bybring soos dié met Tronkhond en Die man met die donkerbril. Ek kan ook ure na visuele kuns kyk, en dan is daar nog musiek ook! Dit sal mooi uitsoek kos.

The post Toyota US Woordfeeskortverhaalbundel 2020: ’n onderhoud met Madeleen Welman appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 693


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>