Quantcast
Channel: Toyota Stellenbosch Woordfees - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 693

US Woordfees 2019: die markplein se “Zondo-kommissie”

$
0
0

Vanjaar se Woordfees in Stellenbosch kan in ’n sekere mate beskryf word as ’n tipe Zondo-kommissie op die markplein.

Die fees wemel van fluitjieblasers, joernaliste, politici en kommentators wat diskoerse voer oor staatskaping en die nege verlore jare onder Zuma se bewind wat die land tot op die randjie van die afgrond van bankrotskap gedryf het.

Vytjie Mentor
Foto: Natalie Gabriels

Die Zuma-fluitjieblaser Vytjie Mentor en skrywer van die boek No Holy Cows, en die oudhoof van die KwaZulu-Natalse Valke, generaal Johan Booysen, was van die eerste “getuies” wat feesgangers regop laat sit het op hulle stoele in die Boektent toe die joernalis Pearlie Joubert met hulle gesels het.

Booysen is die skrywer van Blood on their hands. Hy was destyds sy pos kwyt oor bewerings dat hy lid van die sogenaamde Cato Manor-moordbende is. Vytjie is deur die ANC verstoot nadat sy ’n ministerspos van die Guptas van die hand gewys het. Pearlie Joubert het in 2015 by die Sunday Times bedank oor etiese verskille met die bestuur.

Die gesprek het gehandel oor die etiket “verraaier” waarmee sommige mense gebrandmerk word, maar hoe die wiel tog draai namate die waarheid al hoe meer op die lappe kom.

Vytjie het reeds voor die Zondo-kommissie getuig en Booysen gaan die komende week self ook plofbare getuienis by die Zondo-kommissie lewer. Hy wou nie sy getuienis voor die kommissie vooruitloop nie, maar het laat blyk hy gaan onder andere verskeie name noem van korrupte advokate wat steeds by die Nasionale Vervolgingsgesag werksaam is.

Dit was nie ’n maklike pad om fluitjieblaser te word nie, het Vytjie vertel van die dag toe sy haar verklaring by die polisiestasie in Durbanville gaan aflê het. Dit het ’n kat in die Zuma-hoenderhok losgelaat, maar ook brullende leeus wat haar wou vermorsel. “Mens breek nie maklik jou bande met die ANC as dit die organisasie is waarin jy grootgeword het nie. Dit is immers die organisasie wat as voertuig gedien het vir ’n beter Suid-Afrika en die hele land se belange moes dien. Nie net dié van ’n sekere groep of party nie.”

Dit was veral sedert 2007 dat sy besef het die voertuig wat almal na ’n beter bestemming moes neem, se wiele val af en is besig om koers te verloor.

Vytjie Mentor, Johan Booysen en Pearlie Joubert
Foto: Natalie Gabriels

Op ’n vraag van Joubert of sy weer die fluitjie sou blaas as sy geweet het hoeveel  moeilikheid dit haar sou besorg, het Mentor gesê hoewel sy moontlik die woede wat sy ontketen het, onderskat het, sal sy dit weer doen en is nie spyt daaroor nie.

Vir die Afrikanerpolisieman Johan Booysen met 35 jaar diens in die Suid-Afrikaanse polisie, was dit ’n bitter ervaring om in die media deur die Sunday Times daarvan beskuldig te word dat hy lid is van ’n moordbende. Hy het aanvanklik gedink die vals bewerings sou vinnig oorwaai. Hy het hom vasgeloop in wat hy noem die kabaal van Zuma-ondersteuners toe hy bedrog van miljoene rand oopgevlek het van mense wat direkte verbintenisse met Zuma gehad het.

Daar was verskeie pogings vanuit die hoogste geledere om sy ondersoek te probeer kelder. In ’n stadium is hy R2 miljoen se omkoopgeld aangebied as hy die ondersoeklêers sou regdokter. Hy het saamgespeel, en ’n bedrag van R1,5 miljoen is as voorskot in sy motor se bagasiebake geplaas tydens ’n lokval wat hulle vir die omkopers gestel het, waarna hulle gevang is.

Daarna moes hy hoor daar is op die hoogste gesag (waarskynlik Zuma self) besluit om die Valke se vlerke te knip. Dit het daartoe gelei het dat hy verskeie kere op grond van vals aanklagte gearresteer is. Uiteindelik is sy naam na uitgerekte hofsake in ere herstel toe daar in sy guns beslis is.

Die verhale oor staatskaping en korrupsie wat by die Woordfees vertel word, klink soos die fiktiewe spioenasieverhale waarvan die boekwinkel langs die Boektent oorloop. Die enigste verskil is dat hierdie verhale geen fiksie is nie. Die waarheid is inderdaad soms vreemder as fiksie.

Die vraag wat feesgangers telkens aan die sprekers gestel het, is of daar nog enige hoop is vir Suid-Afrika as mens na al hierdie verhale luister.

Dit is opvallend dat nie een van die sprekers wat die land so voor hulle oë ten gronde sien gaan het, hoop verloor het nie. Daar is geen ander alternatief as hoop nie, sê Booysen. “Ek is ’n Suid-Afrikaner en daar is geen ander land waarheen ek wil gaan nie. Vir my is daar hoop. Kyk na die res van die wêreld – Amerika, Frankryk, Oos-Europa – en jy besef dit is nie net in Suid-Afrika waar dit sleg gaan nie. Elke land het sy probleme.”

Vytjie Mentor beaam Booysen se hoop vir die toekoms. “Ons durf nooit hoop opgee nie, want die land se hoop lê by sy mense. En die land se mense, wit en swart, het telkens in die verlede bewys dat hoop nie beskaam nie.”

In ’n ander gesprek het nog ’n top-polisieman, generaal Jeremy Vearey, Judith February en die joernalis Anneliese Burgess met Herman Wasserman gesels oor hulle boeke wat ook verband hou met die kultuur van misdaad wat die land teister. Vearey is die skrywer van die boek Jeremy vannie Elsies,  Burgess het Heist geskryf en February het die boek Turning and turning geskryf.

Judith February, Jeremy Vearey, Anneliese Burgess en Herman Wasserman
Foto: Gerrit Rautenbach

Of dit staatskaping is waar ’n groepie korrupte elite die geldkoffers plunder, ’n transitopaneelwa wat deur balaklawa-rowers aan flarde geskiet word, of ’n territoriale vete op die Kaapse Vlakte wat geen kinderlewe ontsien nie, almal was dit eens dat die  land onder bendes deurloop wat voor die voet vat en dat dit ’n kultuur is wat uitgewis moet word. Maar ook hierdie sprekers het nie moed opgegee of hoop laat vaar nie.

Die uitdaging is hoe draai mens die gety om? Hopelik dra die talle gesprekke wat tans by die Woordfees gevoer word, daartoe by om gewone Suid-Afrikaners opnuut bewus te maak van die krag wat daar in die burgerlike samelewing gesetel is – om, soos dikwels in die verlede, saam te mobiliseer teen ongeregtigheid.

 

Lees ook

US Woordfees 2019: Bloedbande van Verwoerd

The post US Woordfees 2019: die markplein se “Zondo-kommissie” appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 693


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>