Quantcast
Channel: Toyota Stellenbosch Woordfees - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 695

US Woordfees 2019: Soos ’n bliksemstraal – Uit die bloute

$
0
0

Uit die bloute is ’n musiekteaterstuk wat in die 90’s een van die mees suksesvolle produksies ná die afskaffing van die destydse streeksrade was. Nou herleef hierdie vindingryke herverbeelding van twee klassieke kortverhale van Eugéne Marais met die gewilde akteurs Paul du Toit en Jenna Dunster onder begeleding van topmusikante.

Uit die bloute is ’n musiekteaterproduksie wat op elkeen se feeswenslys moet verskyn. Amper 23 jaar gelede was dit ’n jong Anna-Mart van der Merwe en Gys de Villiers wat die hoofrolle in die produksie vertolk het. Dit was ’n groot lokettreffer en is oor die 200 keer in amper twee jaar opgevoer. Die produksie het die land deurkruis en vol sale gelok – van Prieska tot Springs.

En nou is dit weer op die planke. Vervaardiger Giep van Zyl sê Uit die bloute het destyds só ’n impak op hom en gehore gemaak, dat hy en Lizanne Barnard (wat die musiek gekomponeer het en medevervaardiger is) besluit het om dit te laat herleef.

“Eugène Marais se verhale is so tydloos en universeel. Ons wil Marais se werk en sy wonderlike gebruik van Afrikaans aan nuwe gehore bekend stel,” vertel Van Zyl. “Sy verhale het vandag nog steeds waarde en hou lesse in wat steeds relevant is.”

Uit die bloute is gegrond op Eugène Marais se kortverhale en gedigte. Dié meester-storieverteller se werk kry lewe op die verhoog deur Paul du Toit en Jenna Dunster se sielvolle vertolkings. Du Toit (Fiësta-wenner), en Dunster van onder andere Donkerland-faam, is twee dinamiese akteurs wat sensitief met Marais se woorde omgaan.

Twee van Marais se kortverhale kry verbeeldingryk gestalte. “Die lied van die reën” vertel die storie van die soeke na water.  “Die storie gaan oor water, maar dit het eintlik te doen met politiek,” verduidelik Van Zyl. “Dit gaan oor ouens wat te veel mag het en so magsdronk word dat hul kontak met die werklikheid verloor. En dit is so relevant vandag. Die Afrikaans wat in die Koranna-storie gebruik word, is net so mooi.”

Die tweede storie is “Salas Y Gomez”. Dis die verhaal van ’n jong boer wat vir maande lank vasgekeer is op ’n rotslys van waar hy sy plaas kan sien, maar niemand weet waar hy is nie. Dan sien hy op ’n dag hoe die vryers opdaag by sy jong bruid...

Die produksie word deurgaans ondersteun deur musiek en byklanke. Die musiek vir Uit die bloute is gekomponeer deur die ATKV Crescendo-wenner Lizanne Barnard wat haar elf toonsettings van Marais se gedigte in ’n treffende kombinasie van Afrika-klanke en moderne elemente verwerk het. Bygestaan deur veteraanmusikante Jahn Beukes, Leon Ecroignard en die jong Pyjama Shark word die plaaswerf, die berge van Mamatola en die diepste emosies van die karakters deur musiek en byklanke ingekleur.

Uit die bloute is ’n unieke teaterervaring: Die storie is tydloos, die musiek roer jou en die vertolkings tref diep.

Uit die bloute speel op 6 en 8 Maart by die US Woordfees.

Laai die volledige feesgids in PDF-formaat af (33 MB)

The post US Woordfees 2019: Soos ’n bliksemstraal – <i>Uit die bloute</i> appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 695


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>