Quantcast
Channel: Toyota Stellenbosch Woordfees - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 693

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Saartjie Botha

$
0
0

Saartjie Botha (foto: Izak de Vries)

Saartjie Botha vertel vir Naomi Meyer van US Woordfees 2019. 

Saartjie, die Woordfees is in 2019 twintig jaar jonk. Wil jy iets oor die tema van die fees sê?

Die Woordfees het in 2018 baie klem gelê op die US se eeufeesviering. Na ’n jaar van 100 jaar was die behoefte aan ’n verjongingskuur akuut. Twintig jaar ís betreklik min in feesjare – die NAF is vanjaar 45 jaar oud, KKNK 25; Aardklop word 21. Die moeder van feeste, die Edinburgh National Festival, is 72 jaar oud. Woordfees is dus inderdaad 20 jaar jonk. 

Die program is stampvol – is daar spesifieke items wat jy wil uitsonder as iets wat feesgangers eenvoudig nie mag misloop nie? 

Jy gaan iéts misloop – dis onafwendbaar. “FOMO” is absoluut deel van die opwinding en bekoring van ’n fees en deel van mens se skeduleringstrategie. Daar is ’n paar toneelaanbiedings waaroor ek baie opgewonde is, maar dit gaan nie noodwendig in almal se smaak val nie. As jy dapper voel, moenie SamsonGodgOdgoDWalk, en Swerfgoed misloop nie. Veiliger, maar steeds substansieel is MI(SA)Afrikaan, KatvoetEndgameSwartskaapRooilugOns is nie almal so nie, Klippe wat val, Katrina, Tien duisend ton en Kansel. As jy vermaak wil word: Die intermissieBabbelagtig3 Susters ...Deurmekaar en My mense is die kluts kwyt. Daar is ’n hele paar juwele wat wag om ontdek te word – Johhny Boskak is feeling funnyStofRaakThe Borrow PitSky en Czech. Verder sien ek baie uit na die Nellie du Toit-huldigingskonsert, Olga Kern, Verdi se Requiem en USSO onder leiding van Daniel Bioco. Die Sanlam-musiekfees bied iets vir almal – van Albert Hammond tot Bombshelter Beast, en goeie jazz in die Visuele Kunste-vierkant. Lepeltjie vol snare is ook ’n moet-sien. 

Die skrywersprogram is die heel moeilikste afdeling waarin om iets uit te sonder, omdat alle gesprekke net eenmalig gebeur. Die beste raad wat ek kan gee, is om elke dag minstens een skrywersgesprek by te woon. 

Vanjaar is daar ’n paar praktiese veranderinge ten opsigte van die feesterrein. Wil jy dalk vertel waar die nuwe kern van die Woordfees geleë sal wees? Dalk kan jy vertel waar die boektent gaan wees en waar RSG gaan uitsaai. En is daar nog ’n Plataankafee?

Die Plataankafee en die RSG-verhoog skuif na Die Khaya se parkeerterrein, langs die Kruiskerk (ou Studentekerk). Die ATKV-Boektent en die ATKV-Boeke-oase, vanjaar bedryf deur Exclusive Books, skuif na die grasperk voor Wilgenhof. Stand-up skuif na die Visuele Kunste-vierkant, en ons visuelekunste-uitstallings is te sien in die Ou en Nuwe Konservatorium, die JH Neethling-gebou en die Visuele Kunste-gebou. Die kykNET-leefarea is ’n nuwe toevoeging voor die Konservatorium – ’n koele lafenis.

Die Fringe is ’n nuwe aspek van die fees wat bykom. Hoe gaan dit werk? Gaan daar enige vorm van gehaltebeheer wees? Hoe kan mense hiervoor inskryf? En is daar ’n ouderdomsperk (of dalk eerder: kan selfs skoolkinders inskryf, of ouer mense, of op wie is hierdie gedeelte van die fees toegespits)? Gaan daar kaartjies te koop wees hiervoor?

Die Fringe word vanaf Woensdag 6 Maart aangebied. Die stukke wat te sien is, is gerig op ’n jonger gehoor. Dit is ’n platform waarop daar kanse gewaag moet word. Alles gaan seker nie ewe goed wees nie, maar jy gaan beslis iets hê om oor te praat.

Daar is heelwat debuutproduksies op die program – iets wat jy wil uitsonder?

In Slavenhuis 39Klip Kween en Carpets, asook Toe ek twintig was en Musiek en liriek – 40 jaar later as deel van die Sanlam-musiekfees.

Die boekeprogram: watter plaaslike en internasionale skrywers kan ons hier verwag?

Internasionale skrywers wat ’n draai kom maak, sluit in liefdesromankoningin Joanna Trollope en krimiskrywer Yrsa Sigurdardóttir. Daar is ook vanjaar ’n groot groep Suid-Afrikaanse skrywers wat deesdae in die buiteland woon wat by die Woordfees optree: Marita van der Vyver, Willie van der Merwe, Deon Maas en Zirk van der Berg, om maar ’n paar te noem. En dan is daar opwindende nuwe jong stemme: Chase Rhys, Alettie van den Heever, Marina Albertyn en Beyers de Vos.

Wil jy dalk iets sê oor die Kinderfees op vanjaar se program?

Naas BabbelagtigKwathi ke kaloku en Met of sonder woorde (in die Stadsaal) en Die bul die wil nie (HS Lückhoff) word ons kinderfees by Bloemhof se skoolsaal aangebied. Die jongspan kan onder meer uitsien na Lollos & Lettie, 10 jaar basaarMakroman en Tjiff en Tjaff lll. Met of sonder woorde is ’n produksie vir kinders met kinders in die rolverdeling – 32 leerders uit agt laerskole in die Stellenbosse omgewing neem hieraan deel. Spesiale pakkette is vir die kinderprogram beskikbaar – stuur ’n e-pos aan wf2019@sun.ac.za met versoeke. 

En wil jy dalk iets sê oor nou die nag se deurnagbekendstelling? 

Dit was lekker, maar dit is goddank verby! Die orreluitvoering in die Moederkerk met sonsopkoms was werklik besonders. So net oor die 50 bittereinders het vasgebyt. Oud en jonk, nugter en nie, ’n hele mengelmoes van uiteenlopendes. Almal is inderdaad welkom by die Woordfees.

US Woordfees 2019: Wen drie dubbelkaartjies na jou voorkeurproduksies

US Woordfees 2019: Nederlandse en Vlaamse komponent

US Woordfees 2019: Volledig bygewerkte program nou beskikbaar

US Woordfees 2019: ’n onderhoud met die sterre van Lollos en Lettie

US Woordfees 2019: Winnie Nel praat oor Met of sonder woorde

US Woordfees 2019: Diskoers

US Woordfees 2019: Nicole Holm gesels oor Drie susters

US Woordfees 2019: Vlagskipproduksies

The post US Woordfees 2019: ’n onderhoud met Saartjie Botha appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 693


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>