Op die Diskoersprogram kom alles van politiek, filosofie, die wetenskap, natuur, godsdienstige kwessies en die landbou tot feminisme en die ekonomie onder die loep.
Die Woordfees-gesprekreeks. Slim Tim du Plessis hou jaarliks sy lyf opstoker en paaier wanneer hy sy gaste aan die praat kry oor die sake van die dag.

Tim du Plessis
Gaan Cyril die pyp rook? Tydens Woordfees 2018 was Cyril Ramaphosa nog minder as ’n maand aan die stuur van die land. Hoe lyk sake nou?
Verkiesing 2019. Marknavorsing en statistiek is so deel van ’n verkiesing soos plakkate op lamppale. Maar kenners en ontleders kan hulle ook maar sleg misgis.
Suid-Afrika in ’n onstuimige wêreld. Waar pas Suid-Afrika in in ’n wêreld wat mure bou maar ook miljoene migrante oor grense sien stroom?
Die groot geveg oor grond. Is daar al ’n padkaart?
Sosiale media: waar gaan dit alles eindig? Is ons by die punt waar sosiale media ’n krag ten kwade begin word eerder as een ten goede?
Frederik Van Zyl Slabbert-gespreksreeks. ’n Nuwe baadjie vir ’n jeugdiger gesprek, met Kabous Meiring as gesprekleier. Met hierdie reeks wil Kabous en haar gaste graag die jonges aan die gesels kry ook aktuele sake. Onderwerpe soos politieke deelname van die jonger geslag, sosiale integrasie in hoër onderwys, en die effek op gesondheid van die geweldige druk wat op jongmense geplaas word om te presteer.
Ongehoord. Vroue uit verskillende akademiese velde laat hul stem hoor oor onderwerpe wat hulle na aan die hart lê en belig dit vanuit ’n ánder hoek. Hierdie reeks, met gesprekleiers soos Stella Viljoen, Amanda Gouws, Louise du Toit en Julie Claassen is vanjaar vir die tweede keer deel van die fees.
Feminisme in ’n distopiese wêreld: The Handmaid's Tale as vertrekpunt.
Ons bevind ons in ’n omgewing waar die polisiëring van vroue se seksualiteit reeds plaasvind deur strenger wetgewing rondom aborsie, die aanhang van fundamentalistiese godsdiens, kulturele praktyke en vinnig ontwikkelende tegnologie.
Grond, natuur en landskap: ’n feministiese perspektief
Die debat oor grondonteiening is veronderstel dikwels ’n baie eng siening van grond, naamlik as blote besitting.
Is ons post genoeg vir post-feminisme? Hoe lyk ’n feminis in 2019? Is daar nog plek vir dié f-woord?
He/she said: joernalistiek in 'n postfeit, postwaarheid #MeToo wêreld. Hoe om te onderskei tussen feit en versinsel in ’n #MeToo wêreld. Veral as sommige vroue se stories van mishandeling en teistering afmaak as onwaar?

RSG Praat Saam met Lynette Francis
RSG Praat Saam. Met die oggendnuus agter die blad en ’n lekker ontbyt onder die belt, is dit tyd om nader te skuif en saam te gesels.
Verkiesingsdebat. Soos altyd wanneer ons voor ’n verkiesing staan, gaan die Praat Saam-span geleentheid gee aan verteenwoordigers van die belangrikste politieke partye om hul saak te stel.
’n Inkomste vir almal – werk of te nie. ’n Onderwerp wat dalk op sommige agendas sal wees, sluit in ’n universele basiese inkomste – is dit die pad vorentoe om gelykheid in ’n verdeelde ekonomie soos ons s’n te verseker?
Die impak van tegnologie op die verkiesing. Steeds by die komende verkiesing vra ons watter invloed tegnologie op ons demokrasie het? Met beskuldigings van Russiese spioenasie wat dik loop in die VSA, is dit ’n werklikheid.
Bestuursvaardigheid in Suid-Afrika in die publieke en privaat sektor. ’n Gesprek wat kyk na die uitdaging van gebrekkige leierskap en bestuursvaardigehde wat dienslewering en groei kniehalter.
Klimaatsverandering – is dit reeds te laat? Die Verenigde Nasies het onlangs gevind die mense beskik oor hoogstens tien jaar om katastrofiese klimaatsverandering af te weer. Gaan ons? Wil ons?

Heindrich Wyngaard
Ook op die program is die Science Cafe, Netwerk24 se Sake en Sauvignon-gespreksreeks, die immergewilde Filosofiekafee, die Resonans-gespreksreeks oor godsdienskwessies, Teatergesprekke met Saartjie Botha, Naggesprekke met Mercy Kannemeyer, en ’n nuwe kykNET-gespreksreeks wat regstreekse fees-uitsendings van die volgende kykNET-aktualiteitsprogramme insluit: Klop! Met Heindrich Wyngaard, KN Verslag in Gesprek met Waldimar Pelser, Prontuit met Kabous Meiring, en KN Verslag met Lourensa Eckard.
Let wel: Omdat die onderwerpe aktueel en die sprekers se dagboeke onvoorspelbaar is, sal die volledige progam met sprekers vir dié gesprekke eers op 1 Februarie 2019 aanlyn by www.woordfees.co.za beskikbaar gemaak word.
Lees meer oor Diskoers of kry die volledige program.
The post US Woordfees 2019: Diskoers appeared first on LitNet.