Ontspanne, wild, pop, soul, jazz, folk, hip-hop of rock – dis alles op die program vir kontemporêre klanke.
Konserte in die Coetzenburg Atletiekstadion

Karen Zoid
Zoid, Patlansky en Kahn
Die 20ste US Woordfees skop op Vrydagaand, 1 Maart, uitbundig af met die plesierige moeder van alle buitelugkonsert-makieties. Vrydagaand neem Karen Zoid, Dan Patlansky en Kahn Morbee van The Parlotones Coetzenburg op horings. Dis jou kans om die president van Zoid Afrika en haar veelsydige repertoire van eie treffers en vindingryke herverbeeldings van ou gunstelinge te beleef saam met Suid-Afrika se eie Stevie Ray Vaughan – Dan Patlansky, wie se internasionale deurbraak-album, Dear Silence Thieves, in 2014 die gesaghebbende Amerikaanse Blues Rock Review se plaat van die jaar was. Kahn Morbee is die derde element in hierdie wenkombinasie en die gehoor kan, onder meer, uitsien na sy duettreff er saam met Zoid, “We Could Be Divine”. Dit gaan pop, rock en swaai in ’n nag vol bruisende musiek en verrassings.
Boogie Show
Saterdag, 2 Maart, is Woordfees Karnaval en jy en jou hele gesin word genooi om ’n dag van heerlike musiek en die lekkerste kos en kuier op Coetzenburg te kom geniet. Stalletjies, mallemeulens, ’n bier- en wyntent en warm musiek vir almal vanaf 16:30 wanneer Jarrad Ricketts begin musiek maak. Om 17:30 volg The Rockets en om 19:30 is dit die Boogie Show – ’n belewenis wat jy nie gou gaan vergeet nie. Met musiek en komedie neem die Boogie Show jou terug na die era van Motown, disco en daardie lekker groot ou power ballads van die 70’s en 80’s. Daarna, om 21:30, neem Jimmy Nevis en Paxton die partytjie balke toe.

Paxton Fielies
Jan Marais Natuurreservaat
Kom geniet ’n buitelugkonsert in dié pragtige Stellenbosse park en kry iets te ete by die kosstalletjies. Onthou net om iets om op te sit en ’n trui of baadjie saam te bring.
Dinge gaan behoorlik ruk met die Jan Marais-konserte. Kunstenaars wat gaan optree, sluit in Theuns Jordaan, Bombshelter Beast, Appel saam met Elandré Schwartz, GoodLuck, Early B, Jackal & The Wind saam met Desmond & The Tutus en The Soil.
Appel en Elandré Schwartz
Elandré is ’n Afrikaanse musieksensasie met ’n klank iewers tussen country en rock. Hierdie Kleindorpse dromer kom van Dispatch en danksy ‘n YouTube-video wat soos ’n veldbrand versprei het, het hy sy eerste platekontrak geteken. Appel – sy regte naam is Christoph Kotzé – is al jare lank ‘n liedjieskrywer vir ander musikante, maar nou begin hy sélf naam maak as sanger met treffers soos “Lemoene”, “Kom en lê my neer” en “Boer loop deur my are”.
Early B
Dié wat weet, sê Early B is een van Port Elizabeth se beste uitvoerprodukte. En met ’n Ghoema-toekenning agter sy naam, het hierdie solo-rapkunstenaar vir himself ’n besliste kleim in Suid-Afrika se musiekwêreld afgesteek. Sy Afrikaanse hip hop-klanke is dinamies en hy het al met verskeie kunstenaars saamgewerk, waaronder Emo Adams, HemelBesem en Pierre Rossouw. Early B se musiek vermaak, het ’n sosiaal verantwoordelike boodskap en word dwarsoor radiostasies in Suid-Afrika gehoor.
Spier
Kom geniet ’n somersaand effens weg van die gedruis in Spier se lieflike opelugteater met musiek wat oor verskillende genres strek. Maak vooraf ’n draai by Dine 33 vir cocktails en canapés en onthou om ’n warm ding saam te bring – dit raak koel wanneer die son gesak het.

Soweto String Quartet
Soweto String Quartet ontmoet Loki Rothman
In hierdie opwindende musikale gebeurtenis skud Madiba se gunsteling-groep, die Soweto String Quartet, blad met die liedjieskrywer en kitaar-towenaar Loki Rothman. Rothman, wat bekend geword het in die eerste reeks van SA’s Got Talent, sal ’n paar van sy eie vuurwarm komposisies vertolk voor hy sy snare saam met die SSQ-manne s’n laat sing en dans. Die SSQ gaan die voete laat jeuk en die hart laat jubel met die kwêlas en ritmes waarvoor hulle wêreldberoemd is.
Albert Hammond
Wanneer Albert Hammond “Get out, damn it, close the door, don’t slam it” sing, verskyn ’n breë glimlag op jou gesig. Maar “The Peacemaker” is nie sy enigste immergroen treffer nie. “The Free Electric Band”, “The Air that I Breathe” en “It Never Rains in Southern California” is almal in dieselfde klassieke klas. En nou het jy die geleentheid om hierdie legende op ’n someraand onder die sterre te beleef.
Tarryn Lamb & The Big Band
Die US Jazz Band vier hulle 10de bestaansjaar met ’n groot makietie onder die sterre en ’n rits sangers wat by hul energieke styl pas. Die gewilde, SAFTA-bekroondeTarryn Lamb, BlackByrd se voorsangeres, word bygestaan deur Mihi-Tuwi Mashangana (van Bombshelter Beast), Anneli Kamfer (van Manouche) en Francis Bowers, wat naam gemaak het in The Voice. Konsertgangers sal op ’n verskeidenheid lekkertes soos “Walking on Sunshine”, “Valerie”, “Vier woorde”, “Natural Woman” en allerhande Big Band-treffers getrakteer word. Trek gerus jou danstekkies aan.
Musiek en Liriek: 40 jaar later
Met: Anton Goosen, Jannie du Toit, Zolani Mahola, Valiant Swart, Sima Mashazi, Herman Kleinhans, Laurinda Hofmeyr en ander, onder musiekregie van Schalk Joubert

Sima Mashazi
As daar een jaar was wat as ’n waterskeiding vir musiek in Afrikaans beskou kan word, is dit 1979, toe die Musiek-en-liriek- beweging ontstaan het. Anton Goosen het die eerste kunstenaar geword wat ’n album in Afrikaans vrygestel het waarvan hy al die musiek en lirieke self geskryf het. Dit was deels ’n teenreaksie teen die vertalings van oorsese spookasemtreffers. Die Musiek-en-liriekbeweging aan die einde van die 70’s en die begin van die 80’s het die weg gebaan vir die bevryding van Afrikaans. Kunstenaars soos Anton Goosen, Laurika Rauch, Mynie Grové, Jannie du Toit, Koos du Plessis, Coenie de Villiers en Clarabelle van Niekerk was toonaangewend. Veertig jaar later, deel hierdie legendes saam met opwindende jong talent die verhoog en bring hulde aan immergroen treffers soos “Kruidjie-roer-my-nie”, “Sprokie vir ’n stadskind”, “Toemaar die donkerman” en “Liedjie vir jou”.
Toe ek 20 was
Toe ek 20 was, bring die uitmuntende soliste Amanda Strydom, Corlea Botha, Elvis Blue en Joshua Na Die Reën die heel eerste keer op een verhoog saam. Dis ’n nostalgiese terugblik op die musiek wat die kunstenaars self, asook hul musiekhelde, gesing het toe hulle in hul twintigs was. Hulle word bygestaan deur 14 lede van die wereldbekroonde Akustika Kamerkoor vir ’n bietjie swing en baie pret. Die program sluit liedjies deur die kunstenaars self in, soos “Ek loop die pad” en “Toe ons jonk was”, maar ook Bob Seger se “We’ve Got Tonight”, skreeusnaakse Hennie Aucamp en musiek van The Beatles en Simon & Garfunkel. Janine Neethling wys haar slag met a cappella- (en ander) verwerkings van gunstelinge uit haar jeug, soos Elton John, The King’s Singers, Vangelis en liedjies uit die Voëlvry-beweging. Verwag geliefde musiek met briljante harmonisering en unieke en sielvolle interpretasies.
Stadsaal
Die Stadsaal lê in die hartjie van die dorp. Hier kan jy voor en ná elke musiekvertoning in die foyer iets te ete en te drinke geniet.
Die kunstenaars wat hierdie pragtige ou ruimte by die 2019 Woordfees gaan warm speel, is: Amanda Strydom, Francois van Coke, Joshua Na Die Reën, Bottomless Coffee saam met Herman Kleinhans en Koos Kombuis, Coenie de Villiers, Spoegwolf en Uncle Cal & 3 Tons of Fun.
Weltevreden Restaurantteater
By Weltevreden se intieme restaurantteater kan jy geurige bistro-etes saam met die konsert geniet, of net agteroor sit en luister. Dis altyd goed om jou ete vooraf te bespreek, maar as jy op die laaste nippertjie van plan verander, kan jy hulle net laat weet wanneer jy aankom.
Essence of Spring
Die legendariese pianis en komponis Ibrahim Khalil Shihab, voorheen bekend as Chris Schilder van Pacific Express, het groot treffers soos “Give a Little Love” en “I Hear Music” geskep. By die Woordfees vier hy die bekendstelling van sy jongste album, Essence of Spring. Luisteraars kan uitsien na ou gunstelinge, splinternuwe komposisies en ’n baie spesiale klaviersolo onder musiekregie van Ramon Alexander.

Frieda van den Heever
Frieda van den Heever: Kleinode
Frieda van den Heever bring hiermee ’n innige klein ode aan haar kleinode – tydlose liedjies. Die program bestaan uit nuwe liedjies uit haar eie pen asook verwerkings en vertolkings van ou gunstelinge, sowel inheems en uitheems. Kom vind uit hoekom sy en hierdie begaafde groep musikante verlede jaar ’n WoordTROfee-nominasie vir die beste musiekgedrewe produksie ontvang het.
Lepeltjie vol snare
Lepeltjie vol snare vier snaarinstrumente in tradisionele Suid-Afrikaanse folk en volksmusiek – met die Boesman-boog, banjo, blikviool, akoestiese kitaar en natuurlik die teelepel. Hannes Coetzee (van Karoo Kitaar Blues-faam) is internasionaal bekend vir sy besonderse manier van kitaar speel met ’n teelepeltjie in sy mond. Frazer Barry (Tribal Echo) is deur Oom Hannes touwys gemaak, maar Frazer het sy eie styl met ’n lepel en banjo ontwikkel. Kom geniet roerende storie-liedjies en warm klanke so inheems soos biltong en beskuit.
Anders kunstenaars wat in Weltevreden sal optree, sluit in Casper Ace, Mel Botes, Jak de Priester, André Terblanché, Leon Oosthuizen en Niël Rademan.
Jazz in die Visuele Kunste Vierkant
Die gesellige vierkant agter die Visuele Kunste-gebou is nie net ’n lekker ontspanne musiekfees-venue nie – dis di. plek om van vroeg tot laat te kuier en gesien te word. Bedags gaan daar diskoers, musiek en stand-up wees en snags, soos verlede jaar, vuurwarm jazz.

Steve Newman
Jazz in the Quad
Die kontemporêre klanke van die Kaap word saam met die ryk tradisie van Suid-Afrikaanse jazz gevier. Dis die warm musiek van Steve Newman saam met Kyle Shepard, Schalk Joubert, Ramon Alexander, Sima Mashazi, Babalwa Mentjies, Alistair Andrews en ander. Kom geniet jou feesaande met warm musiek en goeie geselskap. Feeskunstenaars het gratis toegang en laatnag-invallers is welkom. Kos en ’n kroeg is beskikbaar.
Lees meer oor die Sanlam Musiekfees of kry die volledige program.
The post US Woordfees 2019: Sanlam Musiekfees appeared first on LitNet.