Die Klassieke Musiek-program spog met van die wêreld se voorste kunstenaars – almal op ’n verhoog in Stellenbosch.

Olga Kern
Olga Kern: Prestige Klavieruitvoering
Die Russies-Amerikaanse pianis Olga Kern word tans erken as een van haar generasie se uitnemendste pianiste. Sy het in die kalklig gekom met haar historiese verowering van die goue medalje by die Van Cliburn Internasionale Klavierkompetisie as die eerste vrouepianis in meer as 30 jaar. Haar verowering van die eerste prys in die Internasionale Rachmaninof-kompetisie op 17-jarige ouderdom was die begin van ’n glorieryke kompetisieloopbaan. In 2016 het sy gedien as beoordelaarsvoorsitter van sowel die 7de Van Cliburn Internasionale Amateur-klavierkompetisie en die eerste Olga Kern-klavierkompetisie, waarvan sy ook die artistieke direkteur is. In hierdie prestigeryke solo-uitvoering speel sy werke soos Schumann’ se Karnaval, Gershwin se Drie Preludes, en ’n transkripsie van Gershwin se Fascinating Rhythm, sowel as musiek van Rachmaninof, Skriabin en Balakiref.

Megan-Geoffrey Prins
Virtuose in Konsert (met Megan-Geoffrey Prins)
Die ATKV se nasionale kompetisies Muziq (instrumente) en Muziqanto (sang) bied graag ’n konsert met van die beste van die jong Suid-Afrikaanse musiektalent. Die saamstelling van beide vokale pryswenner - bariton Bongani Kubheka en instrumentale pryswenner, saxofoon speller Cameron Williams beloof ’n uitsonderlike fees van musiek. Die soliste sal begelei word deur pianis Megan-Geoffrey Prins – self die wenner die 2016 Muziq-kompetisie. Prins het reeds etlike plaaslike en buitelandse pryse verower, waaronder eerste pryse tydens die UNISA 120 jaar Herdenkingskompetisie, die 5de UNISA Nasionale Klavierkompetisie en die 2017 SAMRO Buitelandse Beurskompetisie. Prins het ook gedurende 2018 sy doktorale studie aan die Cleveland Musiekinstituut met sukses voltooi.

Christopher Duigan en David Salleras
Universiteit van Stellenbosch Simfonieorkes (met Christopher Duigan en David Salleras)
Die Universiteit Stellenbosch se Simfonie-orkes, onder die leiding van die Israeli-Amerikaanse dirigent Daniel Boico open die Woordfees van 2019, met ’n unieke versameling van klanke en kulture. Die Spaanse saksofonis David Salleras, Suid-Afrikaanse pianis Christopher Duigan en slagwerkspeler Emilio Lorenzo (Matiestudent en wenner van die 2018 Fine Music Radio-beurs), smee kragte saam in ’n uitvoering van die Japannese komponis Takashi Yoshimatsu se kleurvolle en ritmies-betowerende Cyber Bird Concerto, vir saksofoon, klavier en orkes. Ook op die program is Brahms se innemende Tragiese ouverture, en die Slawiese warmte van die glinsterende sesde simfonie van Antonin Dvořak.

Nina Fourie-Gouws
LA FEMME! (met Nina Fourie-Gouws)
Die internasionaal bekende danseres en choreograaf, Tanya Diamond, en die konsert-kitaarspeler en dosent aan die Konservatorium, Nina Fourie-Gouws, smee kragte saam in hulle aanbieding LA FEMME! Hierdie visuele en musikale produksie kombineer passie, vurigheid en intensiteit van die eietydse solo Flamenco-dans met die ryk, komplekse en sensuele klanke van klassieke kitaar. Tanya Diamond het haar professionele dansloopbaan op die ouderdom van 15 begin, nadat sy deur die professionele danser en choreograaf Antonio del Castillo raakgesien is. Daarna het sy dansopleiding in Spanje ondergaan, en self les gegee in New York en Los Angeles. Nina Fourie-Gouws het steeds ’n aktiewe konsertprogram deur Suidelike Afrika, en het onlangs ’n optrede in die Volterra Kitaarprojek in Italië gehad. Tanya en Nina is albei geesdriftig oor die ryk Spaanse musiek- en danstradisie, en is voortdurend op soek na nuwe klankmoontlikhede binne die eietydse klassieke repertorium. Tradisionele Spaanse begeleiding, insluitende kastanjette, cajon (’n soort vierkantige handtrommel) en palmas (handklap of kitaartrommel), sal voorsien word deur lede van die SoloFLAMENCO-ateljee.
Bowie Baroque
Met David Bowie wat bekend is as die verkleurmannetjie van rock, was dit ’n natuurlike proses vir die klassieke ensemble om by wyse van verwerkings hulde te bring aan die ikoniese musikant en vermaaklikheidskunstenaar, deur sy musiek geheel en al te herskep. Jan-Hendrik Harley het aan homself die uitdaging gestel om die populêre werke van Bowie binne ’n Baroktydperk te verplaas. Hy het sy inspirasie geput uit die musiek van Argentinië, Frankryk en Duitsland. Hierdie unieke Barok-verplasings gee erkenning aan Bowie se vermoë om sy eie beeld en musiek herhaaldelik te herskep en verander. Die program word uitgevoer op instrumente eie aan die Barok, en sal hier en daar afgewissel word met anonieme Barok-werke wat aansluit by die temas van eksistensiële angs en vervreemding in Bowie se musiek.
Charl du Plessis Trio: Speel Beethoven
Die hoogaangeskrewe Charl du Plessis Trio is pas vereer met ’n tweede SAMA-toekenning as beste klassieke instrumentale opname-kunstenaars in Suid-Afrika. Die trio besoek weer eens die Woordfees, nou met hulle nuutste bydrae: Speel Beethoven. Hierdie nuweling-produksie is ’n keur van die bekendste Beethoven-melodieë in ’n nuwe swing-gewaad. Werke soos “Die Maanlig-sonate”, die 5de simfonie, “Für Elise”, en die grootse Keiser-concerto, en ander gunstelinge, word hier getransformeer in nuwe bewerkings in die unieke styl van die Trio. Speel Beethoven is ’n kombinasie van die verfynde vertolking van die Steinway-kunstenaar Charl du Plessis, die ervare en elegante bas-spel van Werner Spies, en die kraakvars trommelings van Peter Auret. Die Charl du Plessis Trio het reeds 7 CD- en 2 DVD-opnames vrygestel, met hulle populêre Baroqueswing-reeks onder die Swiss Claves -etiket, en het ook verskeie optredes in Europa en China agter die blad.
’n Ander hoogtepunt beloof om die klavierkonsert van die 12-jarige wonderkind Mike (Zi Ning) Wang te wees. Wang was die algehele wenner van die Hennie Joubert Klavierkompetisie in 2018. By sy Woordfees-solokonsert sal hy stukke van Beethoven, Chopin en Liszt speel.
Verdi se geliefde Requiem, wat Brahms beskryf het as “… ’n werk wat net ’n genie kon skryf”, sal uitgevoer word deur die Libertaskoor. Johan de Villiers lei saam met die koor ’n groep uitstaande soliste: Cecilia Rangwanasha (sopraan), Minette du Toit-Pearce (mezzo-sopraan), Given Nkosi (tenoor) en Garth Delport (bariton).
Lees meer oor die klassieke musiek te sien by die US Woordfees of kry die volledige program.
The post US Woordfees 2019: Klassieke musiek appeared first on LitNet.