Die skrywers van die verhale wat in die US Woordfeesbundel vir 2019 opgeneem gaan word, is tydens die fees se programbekendstelling op Vrydagaand 16 November bekend gemaak.
Vyf-en-twintig verhale is uit 323 inskrywings gekies. Dit sal gepubliseer word in ’n bundel getiteld Jonk, wat by die US Woordfees van 1-10 Maart 2019 te koop sal wees. Die kortverhaalbundel se titel is dieselfde as die feestema.
Suzette Kotzé-Myburgh, die sameroeper van die beoordelaarspaneel, sê die groei van hierdie projek is rede tot vreugde: “Sedert die eerste Woordfeesbundel in 2016 gepubliseer is, gaan hierdie projek van krag tot krag! Die aantal inskrywings het gegroei van die oorspronklike 99 tot ’n verstommende 323 vanjaar. Hierdie belangstelling is deels te danke aan die gulhartige borgskap van Du Toitskloof Wyne, wat prysgeld van R5 000 aan elke skrywer besorg. Daarbenewens sal die algehele wenner, wat in Maart 2019 aangekondig word, ’n volle R30 000 ontvang. ’n Verdere prys word geborg deur kykNET, wat een van die verhale in ’n kortfilm sal omskep wat in Augustus 2019 by die Silwerskermfees te sien sal wees. Soos die vorige jare bied 2018 se inskrywings ’n mengsel van gevestigde en nuwe skrywers, hoewel die reeds gepubliseerde skrywers vanjaar as wenners oorheers. Die verhale dek ’n wye verskeidenheid temas, met die grondkwessie wat uitstaan as onderwerp."
Saartjie Botha, US Woordfeesdirekteur, sê: “Dit is fantasties om te sien hoeveel onbekende én gevestigde skrywers deur hierdie projek aangemoedig word om nuwe werk te skep.”
Ed Beukes, woordvoerder van Du Toitskloof Wyne, is opgewonde oor dié betekenisvolle projek en die groeiende storievuur: “Die jaarlikse groei van inskrywings wys ons het elkeen ’n storie om te vertel. Die Woordfeesbundel is soos ’n groot kampvuur wat elke jaar die platform skep vir nog ’n paar skrywers om uit die donker uit hul eie waardevolle stukkie hout op die vuur te kom gooi en dit maak nie saak wie jy is nie – jou storie tel.”
Die lys van skrywers wat in die 2019 Woordfees Kortverhaalbundel opgeneem word, in alfabetiese volgorde, is:
- Anne Ahllers
- Emma Bekker
- François Bloemhof
- Anri Botha
- Magda Brink
- MS Burger
- Wilken Calitz
- Juliana Coetzer
- Frans Fourie
- Merle Grace
- Enrique Grobbelaar
- Hendie Grobbelaar
- Kobus Grobler
- Stefanie Hefer
- Marlize Hobbs
- Nico Nel
- Clari Niemand
- Nadine Petrick
- Jan Schaafsma
- Deborah Steinmair
- Gerda Taljaard
- Derick van der Walt
- Marinda van Zyl
- Madeleen Welman
- Jelleke Wierenga
The post Hierdie skrywers het die US Woordfees Kortverhaalbundel 2019 gehaal appeared first on LitNet.