
Julie Claassens
Foto: Naomi Bruwer
Die NG Kerk se moderator, Nelis Janse van Rensburg, moes tydens die Woordfees by ’n teologieprofessor aan die kweekskool hoor sy kerk het zero moraliteit.
Julie Claassens van die Departement Ou Testament en Bevordering van Menswaardigheid het gesê voordat die NG Kerk nie sy ras-, gender- en seksuele kwessies uitsorteer het nie, is daar zero moraliteit in die kerk. Sy sê die kerk is behep met seks en verkeer in 'n morele krisis.
Tydens vraetyd het die gehoor die moderator met vrae gepeper.
Die moderator moes van medeteoloë uit die gehoor aanhoor dat die NG Kerk geen morele reg het om die ANC aan te spreek oor korrupsie en swak regering nie. Daar is aan hom gesê die kerk minag sy eie lidmate se menswaardigheid – dit met verwysing na die kerk se hantering van homoseksualiteit.
Ben du Toit het aan die moderator gesê dit is in stryd met die land se Grondwet om ander mense se menswaardigheid te minag en teen hulle te diskrimineer. Daarom kan die kerk nie morele uitsprake maak as hy self immoreel optree nie.
Die moderator moes ook hoor sy antwoorde is wollerig en dat die kerk soos 'n tweegesig optree.
Van Rensburg het gesê daar was nog altyd verskille in die kerk. Hy sê die kerk gaan deur 'n moeilike tyd en is 'n gemeenskap op reis met die waarheid.
Volgens hom het hy sterk persoonlike oortuigings oor homoseksualiteit. Hy sê as moderator moet hy die kerk se besluite na buite verdedig, al vind hy dit by tye bitter swaar. Soms het hy al gewonder of hy moet aangaan met die werk wat hy doen.
Hy sê die kerk het “kollektief” tot die besluit gekom dat mense van dieselfde geslag nie mag trou nie en daarom moet hy die besluit respekteer.
Claassens het drie redes uitgelig waarom sy meen die kerk het geen moraliteit nie. Na etlike dekades is die NG Kerk en sy sogenaamde dogterkerke, naamlik die bruin VGK en Indiër-RCA nog nie een kerk nie. Ten opsigte van die genderkwessie word daar steeds in die kerk teen vroue gediskrimineer. Vroue word verkleineer en die kerk is nul persent moreel wanneer dit kom by gelyke regte vir vroue, het sy gesê.
Derdens het sy seksuele oriëntasie opgehaal. Sy sê drie weke nadat die NG Kerk sy gay lidmate as gelyke lidmate aanvaar het, word daar appèl aangeteken teen die besluit wat uiteindelik daartoe lei dat hulle wéér uitgesluit word. “Wat ook dit betref, is die kerk zero persent moreel,” het sy gesê.
Die gesprek is ingelei deur Johan van de Merwe, ’n leraar van die Moedergemeente op Stellenbosch en aanbieder van die gespreksreeks “Geloof op die markplein”. Hy wou van sy paneel weet wat moraliteit is en of die kerk die regte plek is om by aan te klop as ons wil weet wat moreel is en wat nie.
“Vandag nog word die kerk soms nog beskuldig van ’n obsessie met mense se slaapkamers en wat daar gebeur, al dan nie. Wat is moraliteit en hoeveel persent moreel is die kerk?” was die vraag wat Van der Merwe op die tafel geplaas het.
Van der Merwe het vier jaar gelede met die reeks geloofsgesprekke op die Woordfees begin nadat Kerkbode in 2013 sy borgskap aan soortgelyke gesprekke onttrek het.
Die wetenskapjoernalis George Claassen het na afgeloop van die gesprek oor moraliteit op Twitter gesê die gesprek oor moraliteit by die Woordfees was vir hom teleurstellend. Volgens hom het die NG Kerk se moderator weer eens “op patetiese en lamsakkige en onwettige wyse die LBGTI-saak onder die tafel probeer invee”. Hy het Julie Claassens geloof vir haar sterk standpunte daaroor.
Van Rensburg het Van der Merwe na die tyd op Facebook bedank vir “die inisiatief wat hy aan die aan die dag gelê het om teologie na die markplein te bring”.
The post US Woordfees 2018: “NG Kerk het zero moraliteit” appeared first on LitNet.