Quantcast
Channel: Toyota Stellenbosch Woordfees - LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 693

Genadedood is ’n demokratiese reg

$
0
0

Chris Jones, Heinz Mödler, Anton van Niekerk en Tim du Plessis

Dit is elke mens se demokratiese reg om sy of haar lewe te beëindig. Selfdood was ook nog nooit ’n kriminele oortreding in Suid-Afrika nie, maar dit kan wel teologiese en etiese implikasies inhou.

Dit was die algemene strekking van verskeie gesprekke tydens die afgelope Woordfees oor die vrywillige beëindiging van ’n mens se lewe.

Dit was veral genadedood, die etiese aspekte daarvan en die reg om self daaroor te besluit wat tydens die diskoerse op die fees aan die bod gekom het. Die tema van selfdood, genadedood en die verskillende variasies daarvan wanneer iemand sy of haar eie lewe wil beëindig, is op verskeie verhoë tydens vanjaar se Woordfees aan die orde gestel.

Verskeie pleidooie om bystanddood in Suid-Afrika te wettig is vanuit teologiese, mediese, filosofiese en doodgewoon menslike oogpunte bepleit.

Tydens elke gesprek wat hieroor gehandel het, is daar sonder uitsondering ’n dringende behoefte uitgespreek dat wetgewing wat genadedood verbied hersien moet word.

Willem Landman van Dignity SA het aan die oud-uitgewer Frederik de Jager vertel van sy laaste gesprekke en besoeke aan die skrywer Karel Schoeman wat sy eie lewe verlede jaar met bystandhulp beëindig het. Landman is ’n sterk voorstaander van bystanddood of genadedood onder sekere omstandighede.

Al die sprekers in die onderskeie gesprekke het saamgestem Karel Schoeman se geval was uitsonderlik omdat hy nie terminaal siek was of aan ’n ongeneeslike siekte gely het nie. Hy was 77 jaar oud toe hy dood is. Landman sê in sy gesprekke met Schoeman het hy egter tot die oortuiging gekom die skrywer het ’n weldeurdagte besluit geneem om nie langer te leef nie. Na verskeie gesprekke het Landman hom gehelp om ’n middel te bekom wat sy lewe op ’n waardige manier beëindig het.

Die etiese aspekte rakende genadedood is verder bespreek tydens een van die Frederik van Zyl Slabbert-gespreksreeks se diskoerse.

Die filosoof Anton van Niekerk het gesê die Bybel fel geen morele oordeel oor selfdood nie. Van Niekerk sê hoewel selfdood nie altyd die regte ding is om te doen nie, is dit elke mense se demokratiese reg.

Daar is ’n verskil tussen die etiese optrede van ’n 40-jarige man met ’n vrou en kinders wat sy eie lewe neem omdat hy geld gesteel en uitgevang is en nie verantwoordelikheid vir sy dade wil aanvaar nie, en iemand wat terminaal siek is.

Van Niekerk sê daar is situasies waar terminaal siek mense die vermoë verloor het om hul eie lewe te neem of om op ’n waardige manier te sterf. Dit is waar genadedood of bystanddood in die prentjie kom. “Daar is sekere situasies waar dit ons morele plig is om sulke mense te help.”

Heinz Mödler, ’n narkotiseur van beroep het statistiek voorgehou wat bewys genadedood ruk geensins handuit in lande waar dit wettig is nie. Hy het verduidelik dat daar nie gevra word vir ’n blanko tjek waar genadedood sommer net lukraak toegepas kan word nie. Hy praat van mense wat terminaal siek is en vir wie daar geen hoop meer is om ’n sinvolle lewe te lei nie.

Chris Jones het vanuit ’n teologiese hoek oor genadedood gepraat. Hy sê wanneer daar oor genadedood gepraat word, help dit nie om vas te val in individuele teksverse uit die Bybel nie. Jones sê daar moet ’n onderskeid getref word tussen mense se individuele geloofsoortuigings en die demokratiese reg wat elke landsburger in ’n demokrasie behoort te hê. Hy sê godsdiens kan nie in ’n demokrasie primêr bepaal wat mag toegelaat word en wat nie.

Hy stem saam met die res van die paneel dat genadedood slegs onder streng voorwaardes toegedien mag word, byvoorbeeld aan terminaal siek pasiënte wat ondraaglike pyn verduur of geen kans meer het om ’n sinvolle lewe te leef nie.

The post Genadedood is ’n demokratiese reg appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 693


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>