
Karin Hougaard (foto verskaf)
Karin Hougaard is geen onbekende in Suid-Afrikaanse geledere nie. Sy kom kuier binnekort in Suid-Afrika en vertel vir Naomi Meyer van haar toerprogram.
Karin, in Suid-Afrika ken mense jou steeds as sanger en liedjieskrywer. Vertel asseblief vir ons lesers waar jy woon en waarmee jy besig is.
Ek het in 2009 na die VSA verhuis en reis dikwels tussen die Verenigde State, Suid-Afrika en Europa vir optredes. Ek is ambassadeur van Dreamcatcher South Africa, ’n stigting wat hom daarop toespits om armoede in gemeenskappe aan te spreek, en wat wil help om mense in harmonie te laat saamleef.
Maar jy is immers ook liedjieskrywer en tree gereeld op. Waar kan Suid-Afrikaners jou binnekort hoor sing?
By die US Woordfees, die KKNK en in Pretoria. In Mei tree ek ook in die Lae Lande op.
Hoe lyk jou toerprogram? Verskaf asseblief praktiese inligting: datums, tye en plekke.
My konsertdatums lyk so:
US Woordfees:
Karin Hougaard - Grepe met Jaconell Mouton/regie Marí Borstlap
2 Maart 20h30 (Drostdy-teater)
3 Maart 20h30 (Drostdy-teater)
4 Maart 17h00 (Drostdy-teater)
Ek woon al lank in die Verenigde State. Dis dié dat my Suid-Afrikaanse aanhangers die laaste jare min van my te sien gekry het. Maar nou is ek terug!
Met my verhoogproduksie Grepe wys ek waar ek vandag staan, as kunstenaar en as mens.
Die vertoning inkorporeer ou treffers soos “Bly” en “Kruietuin.
Maar dit laat die gehoor ook kennismaak met my jongste werk. Want doer ver in Noord-Carolina werk ek nog steeds aan nuwe komposisies.
Dan is daar ook liedere wat ek in samewerking met die Nederlandse kunstenaar Herman van Veen geskryf het, en my vertolkings van Anna Neethling-Pohl se Afrikaanse vertaling van die sonnette van Shakespeare. Ek sing hoofsaaklik in Afrikaans, aangevul deur enkele liedere in Engels en Nederlands. My Woordfees-debuut is intiem, dinamies, spontaan en literêr.
Vir hierdie stemgedrewe en teksgedrewe vertoning word ek begelei deur die briljante Jaconell Mouton en die regie en ontwerp word deur die jong Suid-Afrikaanse regisseur Marí Borstlap behartig.
US Woordfees
Boek- en CD-vrystelling van 25 Shakespeare Sonnette vertaal deur Anna Neethling-Pohl en voorgelees deur Karin.
Stemmingsmusiek op CD ondermeer die harp, draailier, Armeense herdersfluit: gekomponeer en gespeel deur Chris van der Westhuizen.
5 Maart om 14h00 (Drostdy-teater)
Programbeskrywing
TANT ANNA EN DIE 25 SHAKESPEARE-SONNETTE
Met: Karin Hougaard
Op 80 het Anna Neethling-Pohl, drama-doyenne en skoonsuster van NP van Wyk Louw, 25 van Shakespeare se sonnette in Afrikaans vertaal – "om te bewys dat ek nog kan ". Dié gedigte is nou op CD beskikbaar, voorgelees deur Karin Hougaard. Karin gesels oor die ontstaan van die projek met Ingrid Glorie, koördineerder van die Week van de Afrikaanse roman, en lees van die gedigte voor met musiek wat spesiaal vir die CD geskryf is.
KKNK
KARIN HOUGAARD - Grepe met Jaconell Mouton / regie Marí Borstlap
31 Maart: 21h00 (Die Windpompteater-restaurant)
1 April: 10h00 (Die Windpompteater-estaurant)
Programbeskrywing
MINI-TOER LAE LANDE
1 Mei Amsterdam
2 Mei Culemborg
3 Mei Friesland
5 Mei Herman van Veen Art Center Soest
6 Mei Scheveningen fondskonsert vir die Dreamcatcher South Africa Foundation waarvan ek ’n welwillendheidsambassadeur is http://www.dreamcatchersouthafrica.com/
8 Mei Gent
10 Mei Antwerpen
SUID-AFRIKA - Pretoria
27 Mei Atterbury-teater om 17h00
KARIN HOUGAARD - Grepe met Jaconell Mouton / regie Marí Borstlap
Jy gesels tydens die US Woordfees met Ingrid Glorie. Vertel bietjie hoe het julle paaie gekruis en ook waaroor julle by die Woordfees sal gesels?
Sjoe, voel vir my asof ons mekaar maar nog altyd ken! Ons het ontmoet in 2013 in Den Haag, ek was ’n gaskunstenaar by die Festival voor het Afrikaans. Toe weer by een van my konserte by die Herman van Veen Arts Center in 2014 en weer daarna in 2015. Die afgelope 4 jaar het ons aan verskeie projekte meegewerk, ondermeer Harlekijn Dagen – in 2015 ’n mini-kunstefees wat ek saam met Herman van Veen gereël het en waar Ingrid as uitgewer en mede-vervaardiger die Afrikaanse versamel cd Byvoorbeeld bekendgestel het en by die 2016 Week van die Afrikaanse Roman was ek bevoorreg om as gaskunstenaar op te tree. Toe ek begin werk het aan die Shakespeare Sonnette in 2017 het ek Ingrid gevra om met vars ore te luister na my demo-opnames en vandaar het sy die projek sien gestalte kry. By die Woordfees sal ons ondermeer gesels oor hierdie skeppingsproses en wat die boek en cd behels.
Die Shakespeare-vertalings - kan jy iets hiervan vertel? Hoekom, hoe?
Die projek is doodeenvoudig vir my ’n hartsprojek. Ek het die eerste uitgawe van die bundel met ’n bandopname met voorlesings deur Anna Neethling-Pohl as geskenk gekry by die uitgewer Cobus Ferreira in die 90’s en dit het saam met my getrek na die VSA. Die afgelope jare het die boekie op my boekrak toenemend my oog gevang en eendag kom die idee by my op dat dit vir my ’n heerlike uitdaging sou wees om die sonnette te laat herleef en op my manier voor te lees. Ek het Cobus gekontak en gevra wat hy van die idee van ’n tweede uitgawe en nuwe voorlesings op cd dink en tot my verbasing was hy super entoesiasties. Anna Neethling-Pohl se kleindogter Anna Lennox was net so bly met die idee en sy het vir die nuwe bundel die omslag ontwerp. Om atmosfeer aan die voorlesings te gee is daar nuwe oorspronklike musiek gekomponeer en gespeel deur Chris van der Westhuizen op ondermeer, harp, Armeense herdersfluit, basblokfluit en die draailier.
The post US Woordfees 2018: ’n Onderhoud met Karin Hougaard appeared first on LitNet.