STORIEVUUR: VRIKKIE & DIE BOIKIE VAN GROOTFONTEIN
Aangebied deur NB-Uitgewers
Vrikkie se briewe aan sy antie het 'n Facebook-fenomeen geword nadat die Vrystaatse prof Deon Visser hom geskep het om sy vrou te laat lag. Nou kan jy giggel oor vertellings uit Hoezit Antie? Vrikkie hier. Lloyd Zandberg se humor in Per ongeluk is soos sy mense: droog, en laat gehore oral skaterlag.
4 Maart 18:30
60 min | Die Plataan | Gratis
ANDRÉ LE ROUX: WAAROM MANS ALTYD REG IS (EN ANDER ONNOSELHEDE)
In gesprek met: Michélle van Breda
Aangebied deur Human & Rousseau
Dié bundel bevat van die laaste (en skreeusnaaksste) rubrieke wat André le Roux vir SARIE geskryf het. Wat is dit met vroue en alewig inkopies doen? En hoekom wil mans nooit dokter toe gaan nie? André gesels met SARIE se redakteur, Michélle, oor (volgens hom) die hemelsbreë verskille tussen mans en vroue. En hoe jy eintlik net jou hart kan vashou oor hoe blind die liefde steeds is.
10 Maart 12:00
60 min | HB Thom-seminaarkamer | R50 | R60
CECILE CILLIERS: DIE OU VROU EN DIE PRIESTER EN ANDER KORTVERHALE
In gesprek met: Martie Meiring
Aangebied deur Human & Rousseau
Een van die bekende Boeksusters (met sus Madeleine van Biljon nog op M-Net) en gewilde rubriekskrywer het eindelik haar eerste eie kortverhaalbundel die lig laat sien. Sy gesels met Martie oor haar temas, soos wat in ’n huwelik ongesê bly, die oorweldigende blindheid van ’n eerste liefde, die menigte vorms wat verlies kan aanneem, en bowenal die uitdagings wat met ouderdom gepaardgaan.
9 Maart 15:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
DANA SNYMAN EN NATHAN TRANTRAAL – DIE KLEURE VAN ONS LAND
Aangebied deur Tafelberg en Kwela
'n Reisskrywer en digter vertel elkeen skrynend eerlik die stories van hulle mense – Dana in sy reisverhaalbundel Op pad, en Nathan in Wit issie 'n colour nie, oor die lewe in die buitewyke van die Kaapse Vlakte. Loftus Marais vra hulle uit.
9 Maart 10:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
DEON EN KLUUN: ROCK-STERRE IN DIE SKRYWERSWÊRELD
Moontlik gemaak deur SASNEV en Human & Rousseau
Deon Meyer is onlangs vir die Icelandic Noir-toekenning benoem en het al Duitse, Franse en Amerikaanse pryse gewen. Sy vrou in die blou mantel (weer met Bennie!) was 'n opdragwerk vir die Amsterdamse Boekeweek. Nederlander Ray Kluun het meer as 1 miljoen eksemplare verkoop van sy debuut – in Engels, Love Life en in Afrikaans, 'n Vrou gaan dokter toe. Altwee trek skares. Altwee tree wêreldwyd op. Kirby van der Merwe wil weet wat is die voordele, maar ook slaggate van sukses.
3 Maart 12:00
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
DERICK VAN DER WALT: TUSSEN VRIENDE
In gesprek met: Alta Cloete
Aangebied deur Queillerie
Rugby en seer-snaakse grootwordervarings het Derick al heelparty pryse vir sy jeugromans besorg én 'n fliekkontrak. Maar nou skryf hy oor 50-plussers en hulle alledaagse bestaan uit 'n man se oogpunt – van vriendskap, skuldgevoelens en 'n affair, tot 'n huweliksmaat se swaarkry en kommer oor 'n dwarstrekkind.
6 Maart 15:30
60 min | HB Thom-seminaarkamer | R50 | R60 by die deur
DIE INTIMITEIT VAN SKRYF
Met: Dominique Botha, Valda Jansen, Kluun en Ernest van der Kwast
Moontlik gemaak deur NB-Uitgewers, die Kaapse Forum vir Neerlandistiek, SASNEV en die Vlaamse Regering
Vier skrywers gesels met Andries Visagie oor watter ryk stof jou naaste familie vir fiksie bied, maar watter verantwoordelikheid dit ook is. Vir Dominique, ook die vertaler van Camp Whore, was haar broer die inspirasie vir Valsrivier, vir Valda 'n verlore geliefde in Hy kom met die skoenlappers, vir Kluun die dood van sy jong vrou, en vir die Nederlandse Ernest sy Indiese ma met die koekroller.
10 Maart 15:30
60 min | HB Thom-seminaarkamer | R50 | R60 by die deur
ELSA JOUBERT: SPERTYD
Met: Ena Jansen
Aangebied deur Tafelberg
Ter viering van haar 95e verjaarsdag en die publikasie van die slot van haar outobiografiese trilogie, vooraf gegaan deur ’n Wonderlike geweld en Reisiger, het Ena 'n eksklusiewe onderhoud met Elsa gevoer, wat in Berghof-aftreeoord opgeneem is waar die boek ook afspeel. Dié onderhoud sal gespeel word, waarna Ena met Elsa se seun, Nico Steytler, en haar uitgewer, Etienne Bloemhof, gesels.
5 Maart 10:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
FRANSJOHAN PRETORIUS: VERSKROEIDE AARDE
In gesprek met: Carel van der Merwe
Aangebied deur Tafelberg
Die redakteur van dié bygewerkte glans-weergawe van 2001 se topverkoper oor die Britte se verskroeide aarde-beleid tydens die Anglo-Boereoorlog vertel meer omtrent die nuwe inhoud, soos die storie van Lizzie van Zyl (die foto van 'n uitgeteerde meisie op 'n bed), swart sterfgevalle in die kampe, en Emily Hobhouse se lewe ná die oorlog. Hy gesels met Carel, wat self navorsing oor die oorlog gedoen het vir Donker stroom.
8 Maart 15:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
HANNELIE GROENEWALD: TERREUR IN KABOEL
Aangebied deur Lux Verbi
Vier jaar gelede is 'n Pretoriase ma se man en twee kinders uitgewis in 'n terreuraanval op hulle huis in Kaboel, waar Hannelie se man opheffingswerk gedoen en sy as dokter gewerk het. Net hulle een hondjie, Chico, het oorleef. Hanneli vertel aan skrywer en terapeut Juliana Coetzer (Oorkant jou) van daardie dag en hoekom sy vergifnis bo bitterheid kies.
8 Maart 11:30
60 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
HARTLAM – LIEFDE MET TANDE
Met: Malene Breytenbach, Pieter van Zyl en Gerda Taljaard
Aangebied deur Tafelberg
Liefde het vele gedaantes: Erotiese liefde, moederliefde, gewelddadige liefde, verbode liefde, liefde tot die dood toe… Verken die vele gesigte van liefde, en nie almal is mooi nie. Madri Victor doen die vrawerk.
8 Maart 17:00
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
HYKIE BERG: 'MY LEWE MET DWELMS'
In gesprek met Helana Olivier
Aangebied deur Lux Verbi
Ons hoor by die bekende akteur wanneer hy sy deurbraak gemaak het. En wanneer hy aan dwelms verslaaf geraak het. Hykie se persoonlike verhaal, wat sy laagtepunt het in ’n maksimum-sekuriteitsel in die Weskoppies-hospitaal, is een van suiwer genade.
10 Maart 15:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
JACQUES PAUW: THE PRESIDENT'S KEEPERS
Met: Pauli van Wyk
Aangebied deur Tafelberg
"Dinamiet", inligting wat "soos 'n veldbrand" deur die ANC sal trek, is hoe dié boek voor die tyd beskryf is. En dit was. Jacques, 'n multibekroonde ondersoekende joernalis, wat die apartheidmoordbendes aan die kaak gestel het en al in Rwanda en Darfoer gewerk het, rig hierin sy soeklig op die skadu-mafiastaat van Zuma en die kabal wat hom in sy plek as Nommer Een hou. In sy boek ontbloot Jacques , deur jare se volgehoue speurwerk, ’n spoor van leuens en kontant, meelopers en spioene tot selfs geheime ontmoetings in Rusland. Daily Maverick se Pauli lei die gesprek.
3 Maart 10:30
60 min | Kruiskerk| R50 | R60 by die deur
JOHANNES DE VILLIERS: KALMTE IN DIE MALLE GEJAAG
Met: Erns Grundling
Aangebied deur Human & Rousseau
Jy wil stilstaan by dit wat saak maak, maar dit voel onmoontlik. Kom luister hoe Johannes aan Erns vertel wat dit beteken om "bewus", of mindful, te lewe en na sy praktiese raad. Of kom 30 minute vroeër, laat hy jou wys hoe om die stilte te ervaar en in die oomblik te lewe.
6 Maart 17:45 Mindfulness-oefening | 18:30 Gesprek
105 min | Botaniese Tuin | R40 studente | R50 | R60 by die deur (Botteltjie water ingesluit)
JONATHAN JANSEN: AS BY FIRE
In gesprek met: Frans Rautenbach
Aangebied deur Tafelberg
Die voormalige rektor van die Universiteit van die Vrystaat gee 'n binne-perspektief op wat die werklike wortels van die studenteprotes van 2015/16 was en praat met Frans (South Africa Can Work) oor wat hy glo die universiteite moet doen om die hulpbronne van die samelewing doeltreffend te kanaliseer sodat genoeg studente toegang kan kry tot hoë-gehalte onderwys.
5 Maart 15:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
KAREL SCHOEMAN SE LAASTE STEMME
Met: Dan Sleigh, Louise Viljoen, Cas Wepener en Tim Huisamen
Aangebied deur Human & Rousseau
Dié historiese improvisasie is een van die laaste literêre nalatenskappe voor Schoeman se afsterwe in 2017. Dit is ook die laaste teks waar hy sy hand aan fiksionele stemme waag – die opklink van ‘n menigte immigrante aan die Kaap. Aan die hand hiervan, word gekyk na dié skrywer se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde en hoekom hy 'n "anderster" Sestiger was, waarna elke deelnemer sy/haar mooiste Schoeman-roman kies.
8 Maart 10:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
MARION ERSKINE: VLERKE VIR ALMAL
Met: Vicky Davis
Aangebied deur Human & Rousseau
Amanda Todd was 15 toe sy deur middel van flitskaarte op video vertel het hoe een dom besluit haar lewe verwoes het. Daarna het sy haar lewe geneem. Ilza gesels met Marion oor tieners, sosiale media en sy eie merkwaardige ervaring met boelies, terwyl Vicky vertel hoe sy haar teksverwerking en regie vir die Woordfees-toneelstuk Vlerke vir almal benader het.
5 Maart 17:00
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
8 Maart 16:15 | Hoërskool Stellenbosch Marion gesels oor die toneelstuk
MARLENE VAN NIEKERK – DIE DIGTER
Aangebied deur Human & Rousseau
Vier jaar ná Kaar verskyn twee digbundels deur dié Hertzogpryswenner vir poësie. Louise Viljoen ontsluit die beeldgedigte van In die stille agterkamer en Gesant van die mispels aan die hand van foto's van die werk van die Nederlandse skilders Adriaen Coorte (1659-1707) en Jan Mankes (1889-1920), waarop die gedigte gegrond is. In 'n opname kan Marlene ook gehoor word waar sy self van die gedigte voorlees.
9 Maart 10:00
60 min | Drostdy-teater | R50 | R60 by die deur
RIAN VAN HEERDEN: DINGE WAT EK NIÉ MOES GESÊ HET NIE
Met: Ivor Price
Aangebied deur Tafelberg
Met sy eerste verskyning op TV as hoërskool-laaitie het Rian van Heerden reeds die volk die josie in gemaak. En sedertdien het dinge nie beter gegaan nie! Op sy aweregse manier en met 'n goeie skoot humor vertel dié radio- en TV-persoonlikheid aan Ivor van sy boek, waarin hy wonder oor dáárdie dinge wat hom in die warmwater laat beland het.
10 Maart 10:30
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
RIANA SCHEEPERS: STORMKIND
In gesprek met: Dave Pepler
Aangebied deur Tafelberg
Bekroonde skrywer Riana Scheepers gesels met Dave oor magiese realisme en die San-verhale waaruit haar jongste roman voortgevloei het. Dis die storie van 'n meisietjie wat net drie jaar oud was toe haar ma spoorloos verdwyn het. Snags het die wind Jana geroep en as sy mooi geluister het, kon sy die note van haar ma se fluit hoor. Maar een stormnag was daar iemand buite ...
6 Maart 12:00
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
RUDIE VAN RENSBURG: HANS STEEK DIE RUBICON OOR
In gesprek met: Kerneels Breytenbach
Aangebied deur Queillerie
Hans wil op 90 op sy éie terme oud word en sommer gou neem hy Huis Madeliefie op horings met ’n properse ouetehuisopstand. Kerneels vra die bekende misdaadskrywer uit oor sy bitterlik snaakse roman, waar daggakoekies, ontkleedansers en vet sports aan die orde van die dag is.
8 Maart 12:00
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
TOT DIE DOOD ONS SKEI
Met: Schalk Schoombie, Julian Jansen en André le Roux
Aangebied deur Human & Rousseau en Tafelberg
Wat dryf iemand om sy vrou of lewensmaat te vermoor? Of sy ouers? In Tot die dood ons skei kyk Schalk indringend na die verskynsel van 'intieme vrouemoord' en diep grusame voorbeelde op, terwyl Julian vir Die De Zalze-moorde die storie agter die storie vertel van dié skokkende Stellenbosse gesinsmoord. André, wat in Narsiste, psigopate, stalkers en sadiste verskeie moordenaarsprofiele ontleed, soek saam antwoorde.
9 Maart 17:00
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
TREE AAN: DIGTERS IN AKSIE!
Met: Danie Marais
Moontlik gemaak deur NB-Uitgewers, die Kaapse Forum vir Neerlandistiek, SASNEV en die Vlaamse Regering
Van die Kaapse Vlakte tot Antwerpen wys dié digters wat van 'n gedig 'n show maak. Die Kaapse rapper en woordtowenaar Churchil 'Meneer Naudé' Naudé, die Gansbaaise digter Jolyn Phillips en die veelbekroonde Vlaamse digter en verhoogkunster Charlotte van den Broeck vertel – en wys –hoe jy poësie voordra, uit jou kop lees, met die gehoor speel, kletsrym, en jou verhoogvrees beheer sónder om beheer te verloor.
10 Maart 14:00
60 min | ATKV-Boektent | R50 | R60 by die deur
VAN DE ZALZE TOT DIE STORIE
Met: Julian Jansen, Martin Steyn en Dibi Breytenbach
Aangebied deur LAPA-Uitgewers en Tafelberg
Wanneer word moord 'n storie? En wanneer klink dit soos een? Misdaadverslaggewer Julian Jansen het op niefiksie met sy Die De Zalze-moorde besluit, terwyl Dibi Breytenbach en Martin Steyn, met Heiliger en Swartval, misdaadfiksie verkies. Heino du Plessis vra hulle uit oor die dun lyn tussen feit en fiksie, navorsing en storie.
5 Maart 09:30
60 min | HB Thom-seminaarkamer | R50 | R60 by die deur
VAN LIEF EN LEED EN ALLES TUSSEN-IN
In gesprek met: Elsa Winckler
Aangebied deur Kwela en Human & Rousseau
Elsa gesels met Jacolet van den Berg en Juanita Aggenbach, skrywers van Hoë hakke met hoogwater en Gister is verby oor lekkerleesromans en hoe belangrik dit is om van die werklikheid en swaarkry te ontsnap, of is dit hoe jy lesers lok: deur stories te vertel wat soos hulle eie voel.
10 Maart 14:00
60 min | HB Thom-seminaarkamer | R50 | R60 by die deur
The post NB-Uitgewers by US Woordfees 2018 appeared first on LitNet.