
Foto: Niel Vosloo
Op die planke by US Woordfees 2017
Wat maak mens méns? Hierdie toneelstuk deur Philip Rademeyer vra ongemaklike vrae, soms sonder woorde.
’n Wilde hond-mens (Tinarie Van Wyk Loots) word deur ’n man (Albert Pretorius) in ’n hok ingedra. Hy gee haar kos, hy was haar, hy ruim haar gemors op. Mens wil sê hy versorg haar. Sy knor en tjank en blaf. Maar hy praat met haar. Wel soos met ’n hond, en hy hanteer haar soos die dier soos wat sy optree. Soms noem hy haar Ounooi en later Vlooi.
In ’n ander lokaal, verwyderd van die hok, maak ’n onbekende ouer vrou (Joanie Combrinck) haar verskyning. Is dit die wilde dier-vrou se ma? Die twee mense wat wel kan praat (Pretorius en Combrinck), filosofeer met mekaar of teenoor die gehoor oor wat dit beteken om ’n mens te wees. Die frustrasie en vrae oor die bewustheid ten opsigte van die dood. Die soeke daarna om net te dryf in die groot kosmiese heelal, met die hand van God agter die kop. Is diere gelukkiger? Diere bevraagteken nie, hulle wonder nie en hulle het nie vrae nie. Hulle is net, hulle wees nie eens nie, "dis te passief".
Hulle gesels nie net oor eksistensiële dinge nie, die twee mense op die verhoog wat met mekaar in gesprek tree. Hulle probeer ’n raaisel oplos: Is die hond-vrou die ouer vrou se kind? Wat het dan gebeur dat sy alleen op ’n plasie agtergebly het en deur honde grootgemaak is?
Taal is ’n belangrike kwessie in die teks. Die gebrek aan taal, sowel as wanneer gesprek wel plaasvind. Is woorde eintlik onsinnig?
Daar is absurde oomblikke. Om ’n dier ’n mens te maak, is snaaks. Dis ook vreeslik om te aanskou. Mense is wreed teenoor diere. Mense is wreed teenoor mense. Dis onnatuurlik om ’n mens op te voed – wat beteken dit werklik, al die uiterlike vertoon en mooi messe en vurke en regop sit en beleefd wees? Kan ’n hond hoëhakskoene dra? Wat beteken ma-wees?
Hierdie is maar sommige van die vrae wat mens as lid van die gehoor vra terwyl jy die stuk kyk.
Maar dis alles oëverblindery. Mens kyk dit mis wat vlak onder jou neus is. En Albert Pretorius is so ’n goeie akteur.
Dit moet seker waar wees, voel mens soos wat jou betrokkenheid by die karakters toeneem: as jy ’n dier is, is jy gelukkig? Want dit is wat Albert Pretorius roerend teenoor die verdwene ma sê. Dis die ma wat nie verstaan watter band daar tussen hom en haar dieredogter is nie! Die ma, daarenteen, het ’n verhaal van haar eie. En die einde is te verskriklik vir woorde.
Die hond-vrou het oplaas steeds nie juis woorde nie, maar sy wil tog daardie woorde uitkry.
Die woorde aan die gehoor is dalk: mens en dier is ontstellend naby aan mekaar. Die stuk is kragtig en word sterk aanbeveel.
- Wild het by die US Woordfees 2017 gespeel.
The post Wild by US Woordfees 2017, ’n resensie appeared first on LitNet.