
Die geselskap (Foto: Ryan Pedro)
Du Toit Albertze, regisseur van die US Woordfees-produksie Kommapunt, gesels met Liné Enslin.
Hallo, Du Toit. Kommapunt is ’n debuutproduksie by vanjaar se Woordfees. Waaroor gaan die produksie, waar het die idee vandaan gekom en wat kan die gehoor te wagte wees wanneer hulle die produksie bywoon?
Die produksie het voortgespruit uit my eie stryd met depressie. Ek wou al in my eerste jaar hierdie ding doen, maar ’n paar mense het die idee afgeskiet en gesê dat dit nie sou werk nie. Toe laas jaar het ek net eendag wakker geword en besluit dat genoeg genoeg is en my moed bymekaargeskraap en mense genader om hulle stories in verband met depressie te deel. Nie vir jammerkry of om ons seer goedkoop te maak nie, maar om die medium waardeur ons onsself die beste uitdruk te gebruik om ons sielkundig te empower en te help sin maak van iets so onlogies soos ’n psigiatriese siekte.
Al wat ek kan sê, is dat die gehore baie eerlikheid en baie braafheid gaan aanskou. Verskillende mediums, soos sang, fisieke teater, digkuns en storievertelling, word gebruik om die gehoorlede in die binnekamer van die spelers se privaatste herinneringe in te laat. Ons draai nie doekies om nie en wil alle ouderdomme daarop attent maak dat om ’n psigiatriese versteuring te hê, niks te doen het met jou karakter nie, maar eerder met ’n chemiese wanbalans.
Ek sien dat die teks nie deur net een persoon geskryf is nie, maar deur die hele geselskap. Hoe het dit gewerk? Het julle met mekaar gekommunikeer oor julle onderskeie tekste, en het julle mekaar ook gehelp tydens die skryfproses?
Ek het hulle nogal lekker gechallenge deurdat ek net gesê het dat hulle ’n kort storie bymekaar moet sit wat alles vir hulle opsom en om dit ná die Desembervakansie aan my te pitch. Ek moes dit natuurlik ook doen siende dat ek buite en binne die produksie gewerk het. So, elkeen het hulle eie storie gechoreografeer en/of geskryf en ek het alles maar net bymekaargesit, wat geen moeite was nie, aangesien hulle almal so talentvol is.
Ek kan net dink dat dit uitdagend moet wees vir die geselskap om voor ’n gehoor te sit en jul eie ervarings met depressie te deel?
Ons is nog glad nie blootgestel aan ’n gehoor nie, dus sal ek nie kan sê nie. Maar ons is definitief reg. In die begin sou ons lag as iemand dit gevra het, want daar moes baie sielkundige en emosionele bystand wees vir elkeen om ten volle oop te maak en nie skaam te wees oor hulle stories nie. Maar ek kan wel sê uit my eie ervaring dat hierdie ’n life-changing ondervinding is. Vir die eerste keer voel ek nie meer skaam oor wie ek is, waar ek vandaan kom, watter siekte ek het, watter keuses ek maak nie. En dis juis wat ons produksie wys: dat geslag, ras, seksualiteit en klas jou nie as mens definieer nie en dat ons tog almal maar baie eenders is in ons andersheid.
Die produksie is geïnspireer deur die Britse regisseur Peter Brook. Vertel my asseblief bietjie meer van sy werk en hoe julle produksie daarby aansluit.
Peter Brook is ’n totale legende. Hy het hierdie Empty Space Theatre begin wat toon dat teater nie beperk is tot ’n verhoog en die konvensies van tradisionele teater nie. Amper soos plekspesifieke teater, net nog wyer. Nou aangesien ons stuk teater “in the round” is en ons die gehoor in die middel plaas, word hulle deel van hierdie empty space. Die gehoorlid word ’n direkte komponent van die produksie. Ons wil graag ’n geleentheid hê waar mense regtig luister na ons, dus konfronteer ons hulle. Moenie worry nie, ons sal niemand beseer of traumatiseer nie. Net inlig, laat lag en hopelik ontroer.
Is daar enigiets anders wat mense van julle produksie moet weet?
Ons is ’n klomp mense wat mekaar randomly gevind het. Party swot drama saam met my by die Universiteit Stellenbosch, en ander is óf tutors óf skoliere. Dus is dit hierdie uiteenlopende groep mense wat niks gemeen het nie behalwe ’n begrip van pyn op ’n baie jong ouderdom. En ons wys dat dit fine is – ons slagspreuk is juis: “G’n skaamte en ook g’n trots”. Solank daar minstens een persoon uitstap en besef dat hulle nie alleen is nie, is ons honderd persent tevrede met ons taak.
Kommapunt, US Woordfees 2017
Kommapunt handel oor die egte stories van nege studente se ervarings met depressie. Soos ons as mens, verskil die stories ook van mekaar. Van fisieke teaterstukke tot poësie. Hulle sit hulle harte op hul moue en gee die wereld ’n kans om stil te sit en te luister na dit waaroor daar gepraat moet word. Entertaining en hartroerend. Van ’n metaforiese tiener baby shower tot ’n gegrawe in die tuin van ’n ouerhuis.
As jy nie bang is vir die waarheid nie, is Kommapunt die produksie vir jou.
6 en 12 Maart om 18:00
by die Weltevreden Waenhuis
Kaartjies is beskikbaar by Computicket.
Vir meer inligting oor die produksie, besoek die Kommapunt Facebook-bladsy.
The post Kommapunt by die US Woordfees – ’n onderhoud appeared first on LitNet.