Quantcast
Channel: Toyota Stellenbosch Woordfees - LitNet
Viewing all 697 articles
Browse latest View live

WOORDtroFEES 2016: Wenners

$
0
0

Die sewende jaarlikse WOORDtroFEES, ondersteun deur die ATKV, is Maandagaand tydens ’n geleentheid by die Stellenbosse Stadsaal oorhandig. Die akteurs Marlo Minnaar en Esther von Waltsleben het as seremoniemeesters opgetree en vermaak is gebied deur Yvonne Chaka Chaka en die Young Caballeros van Kaapstad.

Die wenners is as volg:

Toneel, Beste Speler: Andrew Buckland – Tobacco and the Harmful Effects Thereof

Toneel, Beste Byspeler: Rob van Vuuren – A Doll’s House

Toneel, Beste Regisseur: Christiaan Olwagen – A Doll’s House

Toneel, Beste Produksie: A Doll’s House

Woordkuns: Praat van die Duiwel – Johann Nel en Juanita Swanepoel

Kontemporêre Musiek, Solo: Yvonne Chaka Chaka – The Princess of Africa

Kontemporêre Musiek, Groep: Kô, lat ons sing!

Klassieke Musiek, Vokaal: Stellenbosch Universiteitskoor olv. André van der Merwe

Klassieke Musiek, Instrumentaal: Ben Schoeman – Schoeman in Konsert

Visuele Kuns: Lien Botha – Wonderboom

Opkomende Kunstenaar: Francois Knoetze

Deurbraak: The Banquet: The Room of Dreams – Ju-Ju Domingo en Lucas Heinen

Gewildste Boek, Prosa: Bly – US Woordfees 2016

Gewildste Boek, Leefstyl: Kook saam Kaaps – Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker

Gewildste Boek, Poësie: Hammie – Ronelda S. Kamfer

Woordfees Helde: Dawid en Henk Fourie

WOW Opvoeder van die Jaar: Antonia du Toit

WOW Skool van die Jaar: Strand Sekondêr

Die boekpryse word bepaal deur beste boekverkope tydens die Woordfees by die ATKV-boekwinkel op die terrein.

Die US Woordfees bedank graag al die borge, waaronder die Universiteit Stellenbosch, Sanlam, kykNET en Media24.

Lees bydraes op LitNet rondom US Woordfees 2016 hier.

Die US Woordfees 2017  word van 3-12 Maart 2017 op Stellenbosch aangebied.

The post WOORDtroFEES 2016: Wenners appeared first on LitNet.


US Woordfees 2016: Kook saam Kaaps wen 'n WOORDtroFEE

$
0
0

Die US Woordfees het op 18 April 2016 die jaarlikse WOORDtroFEES oorhandig.

Die gewildste boek in die leefstylkategorie was Kook saam Kaaps deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker. 

Lees ook 'n artikel oor Kook saam Kaaps.

LitNet het probeer om Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker te kontak, maar hul was nie beskikbaar nie. Izak de Vries deel sy indrukke van die aand.


 

Koelsoem Kamalie

Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker het nie geweet hulle wen ’n prys nie. LAPA het net vir hulle gesê daar is akteurs en ander bekendes by die geleentheid wat pryse wen, en hulle word genooi omdat hulle nou ook baie bekend is. “Dis soos die Oscars,” is vir hulle gesê. “Almal wil daar wees, maar nie almal word genooi nie. Julle is genooi.”

So: toe die prys aangekondig word, bly hulle sit. Geen boe of ba nie. Geen uitroepe nie. Hulle bly gewoon sit.

Ek was voor in die saal besig om foto’s te neem, so ek gaan trek toe vir Koelsoem op. Tania de Kock, die uitgewer van die boek, gaan trek vir Flori orent.

Toe begin hulle verhoog toe stap.

Flori Schrikker

Op die verhoog vra Japie Gouws, uitvoerende direkteur van die ATKV-Groep, by die prysoorhandiging vir Flori Schrikker: “Is jy wakker?”

“Toe word ek eerste wakker,” sê Flori agterna. “Maar toe weet ek nie wat om te sê nie. Toe stuur ek maar vir Antie Koelie eerste.”

Die tannies ontvang die prys van Japie Gouws, Uitvoerende direkteur van die ATKV-Groep

Koelsoem het min emosie getoon, net almal bedank wat betrokke was. Veral Amore Bekker van RSG se bydrae is geloof.

Flori het toe ook agter die mikrofoon ingeskuif. Sy het veral die Here bedank, en toe ook die mense van LAPA en die ATKV.

Toe ek die volgende oggend met Koelsoem praat, sê sy: “Ek het nou besef dis nie ’n droom nie. Gisteraand het ek nog gedink dis ’n droom.”

Koelsoem Kamalie, haar dogter Gadija Kamalie, Tania de Kock (uitgewer by LAPA), Yolanda Peters, dogter van Flori Schrikker en Flori

The post US Woordfees 2016: Kook saam Kaaps wen 'n WOORDtroFEE appeared first on LitNet.

Foto's: WOORDtroFEES 2016

$
0
0

Die wenners van vanjaar se WOORDtroFEES is Maandag 18 April tydens 'n geleentheid in die Stellenbosch Stadsaal aangekondig. Die WOORDtroFEES, geborg deur die ATKV, gee erkenning aan die uitblinkers van 2016 se US Woordfees.

_MG_3675

Die WOORDtroFEES staan gereed om toegeken te word.

_MG_3686

Die akteurs Marlo Minnaar en Esther von Waltsleben het as seremoniemeesters opgetree.

_MG_3690

Fiona van Kerwel verwelkom die gaste.

_MG_3693

Japie Gouws, besturende direkteur van die ATKV-groep

_MG_3699

Antonia du Toit van Rietenbosch Primêr, Cloetesville, is bekroon as WOW Opvoeder van die Jaar.

_MG_3714

Strand Sekondêr is aangewys as die WOW Skool van die Jaar. Mnr Philips het die prys in ontvangs geneem.

_MG_3730

Ju-Ju Domingo en  Lucas Heinen is met die Deurbraak-trofee vir jong opkomende talent vir The Banquet: The Room of Dreams bekroon.

_MG_3739

Praat van die duiwel is bekroon met die trofee vir Woordkuns. Johan Nel het in sy bedankingswoord gesê daar is drie persone vir wie hy eerstens wil dankie sê: "Nita, Nita en Nita."

_MG_3738

Dorothea van Zyl en Juanita Swanepoel

_MG_3747

Die trofee vir hoogste prestasie in visuele kuns gaan vanjaar aan Lien Botha vir Wonderboom. Werner du Toit van FNB het die prys oorhandig.

_MG_3773

Die Young Caballeros van Kaapstad

_MG_3788

Die trofee vir Klassieke Musiek, Vokaal is toegeken aan die Stellenbosch Universiteitskoor olv André van der Merwe.

_MG_3794

Die produksie Kô, lat ons sing! Carel Rootman van Sanlam het die prys aan Adriaan Brand oorhandig.

_MG_3804

Yvonne Chaka Chaka was by die WOORDtroFEES om op te tree, en was heeltemal verbaas om die trofee vir beste solo kunstenaar te ontvang. Carel Rootman van Sanlam het die prys oorhandig.

_MG_3817

Yvonne Chaka Chaka

Yvonne Chaka Chaka het die gaste in vervoering gehad met "Kana Uchema", 'n Shona-liedjie uit Zimbabwe.

_MG_3824

Woordfees-direkteur Saartjie Botha het die prys vir die Woordfees Helde oorhandig. Hierdie prys word bepaal deur die Woordfees-personeel en word toegeken aan mense wat 'n groot bydrae tot die sukses van die fees gelewer het.

_MG_3829

Die Fourie-broers, David en Henk, is vanjaar as die helde bekroon.

_MG_3840

Roelof Storm, die vervaardiger van A Doll’s House, het die trofee vir beste byspeler namens Rob van Vuuren in ontvangs geneem.

_MG_3843

Andrew Buckland het die trofee gewen vir beste speler vir sy rol in Tobacco and the Harmful Effects Thereof.  Ilzebet Oosthuizen het dit names hom in ontvangs geneem. Azelia Morkel van Die Burger het dit oorhandig.

_MG_3855

Christiaan Olwagen is bekroon as Beste Regisseur vir A Doll’s House. A Doll’s House is ook bekroon as die Beste Produksie.

_MG_3857

Anet Vosloo en Christiaan Olwagen

_MG_3875

Die Woordtrofees vir boeke word bepaal deur die boekverkope in die AKTV-boekwinkel tydens die Woordfees. Die topverkoper in die Leefstyl-kategorie was Kook saam Kaaps deur Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker. Die prys is oorhandig deur Japie Gouws van die ATKV.

_MG_3874

Koelsoem Kamalie

_MG_3881

Flori Schrikker

_MG_3891

Ronelda Kamfer het die trofee vir die mees gewilde digbundel vir Hammie ontvang. Nico Koopman van die US het die trofee oorhandig.

_MG_3895

Die unieke Woordfees-kortverhaalbundel, Bly, was die topverkoper in die Prosa-kategorie. Suzette Kotzé-Myburgh het die prys in ontvangs geneem en het Madri Victor vir haar inisiatief vir die bundel geloof. Volgens Kotzé bied die bundel 'n uitstekende oorsig van waar die Afrikaanse kortverhaalkuns op hierdie stadium staan.

_MG_3903

Marlo en Esther neem 'n onsie.

_MG_3905

Woordfees-projekbestuurder Jana Hattingh

Klik hier vir 'n volledige lys van die WOORDtroFEES.

Lees ook: US Woordfees 2016: Kook saam Kaaps wen 'n WOORDtroFEE

The post Foto's: WOORDtroFEES 2016 appeared first on LitNet.

Uit die argief-onderhoud: Vrouespore deur my dorp, Winnie Rust

$
0
0
Oorspronklik gepubliseer op 4 Maart 2015
 


Winnie Rust, een van haar kleindogters, Emma, en mev Lombard, Afrikaansonderwyser by Rhenish Hoërskool in Stellenbosch (foto voorsien)

Winnie Rust trap diep spore as skrywer, navorser en kundige van haar omgewing, en neem feesgangers van die US Woordfees 2015 vanjaar op "vrouespore deur haar dorp". Sy gesels met Naomi Meyer.

Hallo Winnie, jy praat van vrouespore deur jou dorp vanjaar by die US Woordfees. Hoekom vroue?

Ek is nie 'n feminis nie – ek hou van mans, en daar is ook baie mans waaroor ek sou kon skryf.

By Martha, ’n verhaal oor Martha Solomons, Countess of Stamford  was dit die onbekendheid van ’n merkwaardige vrou van wie min mense kennis dra wat tot die roman gelei het. Martha - gebore Solomons - was/is die eerste bruin vrou met ’n titel. Sy was later jare bekend as The Black Countess. Ek wag nog vir ’n filmmaker om dié merkwaardige verhaal op film vas te lê!

 Van my verhale het my destyds in ons bruin areas ingeneem, en ek het diep onder die indruk gekom van eenvoudige dapper vroue se bestaanstryd. Van hulle verhale het ek op band. (Sien byvoorbeeld Hanna in Trek.)

Al ses vroue in Margie van die Seminary  is laatneëntiende-eeuse vroue van my dorp Wellington. Een daarvan is my ma – ’n merkwaardige vrou in eie reg.

En waarom die dorp Wellington?

Ja, my voedingsbron is my dorp, my area. Ek onderstreep wat die skrywer Amos Oz sê: "The universe is where you are." En daarmee hoop jy as skrywer om die lokale in die universele te anker.

Ek haal ook graag vir Orhan Pamuk, 'n Turkse skrywer, oor sy Istanbul aan:

 “...mine, however, requires that I stay in the same city, on the same street, in the same house, gazing at the same view. Istanbul’s fate is my fate, I am attached to this city because it has made me what I am.”

Ek hoop dit sê genoeg.

Waarna sal mense kan kom kyk as hulle, ná jou gesprek by vanjaar se US Woordfees, saamkom na die JS Gericke-biblioteek?

Marina Brink van die Africana/Spesiale Versamelingsafdeling van die JS Gericke Biblioteek, het ’n pragtige uitstalling op die been gebring wat betrekking het op my werk en lewe. Dit is ná my gesprek met Suzette Kotzé-Myburgh oop vir besigtiging. Dis vir my ’n geweldige eer; dit stem my tot ootmoed en dankbaarheid dat sy dit waardig ag. 

Winnie Rust: Vrouespore deur my dorp
Aangebied deur die Dokumentesentrum, JS Gericke Biblioteek
Suzette Kotze-Myburgh gesels met Winnie oor haar lewe en werk. Daarna kan items uit die Winnie Rustdokumentversameling in die Dokumentesentrum besigtig word.
6 Maart 12:00 | JS Gericke Biblioteek: Ouditorium | 120min | R50

 

The post Uit die argief-onderhoud: Vrouespore deur my dorp, Winnie Rust appeared first on LitNet.

Bekende in boekkringe nou deel van US Woordfees

$
0
0

Elmari Rautenbach (foto: Naomi Bruwer)

Die US Woordfees het vandag aangekondig dat Elmari Rautenbach, ’n bekende in boek- en joernalistieke kringe, voortaan die US Woordfees se boekeprogram sal koördineer.

“Om vir Elmari by die US Woordfees te verwelkom, is ’n groot voorreg – en scoop vir ons. Sy is vertroud met plaaslike en internasionale letterkunde,” het Saartjie Botha, US Woordfeesdirekteur, gesê. “Elmari is nie net belese en berese nie, maar sy ken die Afrikaanse wêrelde baie goed en sy sal beslis ’n nuwe dimensie tot die fees se boekprogram bring. Dis lekker om haar besondere energie voortaan as deel van die span te tel.”

Op haar beurt het Rautenbach gesê sy is “uit haar vel van opgewondenheid” om betrokke te wees. “Die US Woordfees beklee ‘n unieke plek in die Suid-Afrikaanse feeslandskap. Dis ’n fees waar woorde en boeke werklik die hart van die program vorm. Dit bied ook besonderse moontlikhede vir die saamstel van ’n unieke en relevante boekeprogram.”   

Rautenbach het meer as twee dekades ervaring in die joernalistiek en was onder andere redakteur van Insig, waarnemende redakteur van Drum en eerste nasionale boekeredakteur van Media24 se dagkoerante. Sy is bekend vir haar flair, styl en goeie insig wanneer dit by kultuur, skrywers en stories kom.

Die US Woordfees-kortverhaalbundel, wat vanjaar vir die eerste keer die lig gesien het, sal weer in 2017 gepubliseer word, aldus Botha. Madri Victor, afgelope drie jaar koördineerder van die skrywersprogram, sal steeds die bundel bestuur. 

Die US Woordfees word van 3-12 Maart 2017 op Stellenbosch aangebied.

The post Bekende in boekkringe nou deel van US Woordfees appeared first on LitNet.

Boekresensie: Bly, die US Woordfeesbundel 2016

$
0
0

Bly: Kortverhale, US Woordfees 2016

Saamgestel deur Anastasia de Vries, Suzette Kotzé-Myburgh en Madri Victor

SUN MeDIA

ISBN: 9780620696302

Slapband, 234 ble

1bly b nw
 1 Vrolik, opgeruimd, gelukkig: 'n Bly gesigBly wees oor (om) ietsWees bly met myDie voëls sing bly[Die liefde] is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly met die waarheid (1 Kor 13:6).
 2 Geluk bringende, blydskap gewende: 'n Blye tyding. 'n Blye boodskap, 'n aangename mededeling. Die Blye Boodskap, die Evangelie. Blye vooruitsigte.
 3 Lewenslustig: Die blye jeug.
 4 Blyke van blydskap gewende: Met blye haas.
 UITDR
Iemand twee maal bly maak, so lank kuier dat die gasheer of -vrou net so bly of blyer is oor die vertrek van die besoeker as oor sy aankoms.

2bly ww, blywend, gebly, geblewe
 1 [Onveranderd] voortduur: Die Here se beloftes bly.
 2 'n Sekere toestand behou: Siek, kalm, ernstig bly. Die vis sal goed bly. Die skape begin al te bly lê (staan), is so maer dat hulle nie meer kan loop (staan) nie. Die motors bly staan op die nat paaie.
 3 'n Sekere plek behou, hom nie daarvandaan verwyder nie: Bly hier tot ek terugkom.
 4 Voortgaan met; aanhou: Ek bly maar verlang. Ek bly oom dankbaar.
 5 Nie afwyk nie; standhou, volhard: By sy woord, die onderwerp blyEk bly daarby.
 6 Vertoef, versuim; nie verder gaan nie: Waar bly jy so lank? Dit het by hierdie gunsie gebly. Laat dit onder ons bly.
 7 Sneuwel, sterf: In die slag bly.
Vgl SLAG.
 8 (weinig gebruiklik) Vergaan: Die skip het op die rotse gebly.
 9 Wees: Waar bly jy met jou bewyse?
 10 Ten deel val: Vir hom bly die oorwinning.
 11 Oorskiet: Een van my drie skape is dood, nou bly daar nog twee.
 UITDR
Laat [dit] maar bly, laat dit maar staan, moenie vir jou daaroor bekommer nie, laat dit maar agterweë. (http://www.woordeboek.co.za)

In die voorwoord van dié versameling noem die US Woordfeesdirekteur Saartjie Botha dat die Woordfeesdireksie vir sy “lesende gehoor” graag iets ter herinnering wou gee as net ‘n T-hemp. Derhalwe is besluit om ‘n bundel kortverhale saam te stel van 24 gepubliseerde skrywers se werk. Dank die heelal vir hierdie wyse besluit. Die woorde inskrywings en kompetisie laat elkeen na die rekenaar haas om die een of ander relaas uit die sisteem te kry sonder om die goue oue stukkie raad “show, don’t tell”, enigsins in ag te neem.

Maar: van die gepubliseerde skrywers wat hier opgeneem is, hou hulle nie altyd by die nosie van kortverhaal nie en gooi te veel idees in een verhaal. In “Jakarandablou” van Jeanne Henning Els is daar vir my net té veel indrukke en herinneringe.

Die oorgrote meerderheid verhale handel oor eietydse onderwerpe soos verslawing, gayregte, kindermolestering, die voortslepende gevolge van vigs, kinderloosheid, psigopatologiese versteurings en menseverhoudings op verskillende vlakke. Daar is ook heelwat blydskap in die meeste verhale en voornemende lesers moet nie afgeskrik word deur die opgenome temas nie.

In “Ek is hier en Ma is hier” van Deborah Steinmair – ’n verhaal wat herinner aan Antjie Krog se “beware of the dog” en die klassieke “Waghondjies”-gediggie – word die grens tussen mensdier en niemensdier verken. Hierteenoor is daar Elias P Nel se vertelling oor ant Pieter Belelie en haar hartseer oor haar hondjie Siewie.

Die kompleksiteit van verhoudings tussen kinders en vaders word belig in Marida Fitzpatrick se “Sonde” en Brian Fredericks se “Die cowboy”. Eersgenoemde se wending is verfrissend, terwyl laasgenoemde verhaal redelik voorspelbaar verloop. Tog is die intieme waarneming van die pa iets nuuts – vergelyk die verwysing na die “pie” op sy kneukels.

“Die begrafnisnemer” van Jean-Pierre de Kock is een van die verhale wat die leser aan die raai hou. Let wel, die titel verwys nie na ‘n begrafnisondernemer nie. In hierdie verhaal word genderkwessies belig en dit het ’n verrassende slot. Goeie opbou van die verhaal.

Naas Hennie Aucamp is Abraham H de Vries Afrikaanse se belangrikste kortverhaalskrywer en in sy vintage De Vries-verhaal het ons die kenmerkende postmodernistiese stylgrepe. Aan die einde wonder mens wel: Is dit die waarheid gelieg hierdie? Speel De Vries nou weer parte met sy leser? Ewe geslaagd is Rachelle Greeff in “Die verkeerde kussing”, ’n verhaal wat mens herinner aan die film Amour (2012), waarin sy vernuftig die onderskeie tydsvlakke en onder meer die voorlees uit die Bybel in haar verhaal deureenweef.

Kirby van der Merwe se “spel met ready-mades” vertel ook ’n verhaal aan die hand van gekose sitate uit onder meer Mail & Guardian. Ook Herman Lategan se “Laudate Dominum (Prys die Heer)” is ’n postmodernistiese teks wat in gesprek tree met vigsverwante literatuur soos Adam Mars-Jones se The Darker Proof: Stories from a Crisis (1987).

Gerda Taljaard se verhaal oor Agathe Crinon vat die leser terug na die tydvak na die Eerste Wêreldoorlog en is een van die verhale waarin die spanning goed opgebou word tot die knap slot. “Grys Costume en die roos” van Johann Nell handel oor die verafgoding van sangers – in hierdie geval Gé Korsten.

Ons lewe in die era waarin ons oorspoel word deur misdaadreekse oor televisie, gewoontemisdadigers as helde, en die verheerliking van psigopatologiese vernuf (dink maar aan Dexter of Hannibal), en dit is dus te verstane dat dit ook in verhale gaan opduik. In “Die pop” van Martin Steyn word die jong sadis uitgebeeld, terwyl Martin Labuschagne in “Om die hemel te proe” oor ’n kindermolesteerder skryf. Wat is dit met die Martins?

Gaan lees mens die woordeboekinskrywings in die WAT oor bly, is dit opvallend hoeveel aspekte daarvan reflekteer in die saamgestelde verhale: daar is blywende dinge; dinge wat bly maak; wat oorbly en wat bly pla.

Miskien kan die US Woordfees ook opdragwerke in die toekoms oorweeg en skrywers nader om by te dra? Of dalk iets soortgelyks aan die Boekenweekgeschenk, waar een skrywer spesiaal vir die fees ’n klein novelle of ’n stel kortverhale skrywe? Dit hoef ook nou nie noodwendig by die tema van die Woordfees aan te sluit nie.

The post Boekresensie: Bly, die US Woordfeesbundel 2016 appeared first on LitNet.

USK-onderhoud: Oor internasionale toekennings en Varsity Sing op kykNET

$
0
0

Winterteater, Sochi (Interkultur-afdeling)

Universiteit Stellenbosch se koor, onder die bestuur van die US Woordfees, is onlangs internasionaal bekroon. Foster Lubbe gesels met Naomi Meyer oor die vreugde van koorsing.

Foster, wat is jou agtergrond?

Ek is tans 'n student in meganiese ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch. Ek het in 2013 'n graad in fisika aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi en het daar ook in die koor gesing. Een van die hoofredes vir my skuif na Stellenbosch in 2014 was om in die Stellenbosch Universiteitskoor te sing. Ek dien as voorsitter van dié koor vir 2016.

André van der Merwe, dirigent van die koor, ontvang een van die toekennings by die Wêreldkoorfees.

Die Stellenbosch Universiteitskoor het onlangs ‘n besonderse prestasie behaal – vertel asseblief wat het gebeur, waar het julle gesing en teen hoeveel kore het julle meegeding?

The World Choir Games were held in Sochi, Russia this year. This is the world's biggest choir competition. Stellenbosch University Choir took part in three categories, namely Musica Sacra a Cappella, Spiritual and Musica Contemporanea. It was wonderful to share our art on the world stage. We filled our music with emotion, discipline and pride. Before the competition we held a celebration concert in Sochi's famous Summer Theatre. We were very well received and people had very high expectations since we were the defending champions of the World Choir Games. We were also privileged to perform in the Champions Concert after the competition. In the Musica Contemporanea category we scored the highest marks for this year's Games: 98,25%. This fell just short of our world record score of 99% at the 2014 Games in Riga, Latvia. We also won our other two categories, Musica Sacra a Cappella and Spiritual, with 92,75% and 96,88% respectively, and received the Hänsler-Interkultur CD 2016 Award. This CD will be released internationally. We retain our number one position on the Interkultur World Choir rankings. 

Julle koorweergawe van Karin Zoid en Francois van Coke se “Toe vind ek jou” is baie kere op YouTube gekyk en gedeel. Watter soort musiek sing julle koor alles – gewyde en niegewyde musiek?

Dankie vir al die kyke en likes op YouTube en sosiale media! Dit is vir ons heerlik om sulke wye blootstelling in Suid-Afrika te kry. Varsity Sing is 'n wonderlike platform vir koorsang in Suid-Afrika. Dit is 'n wêreldklas kompetisie en TV-produksie. Suid-Afrika het ongelooflike talent en dit is verblydend om te sien dat van die minder bekende kore ook blootstelling kry. Vir ons gaan dit eerstens oor die musiek. Ons wil dit laat lééf. Die musiek sluit nie net die note en ritme in nie, maar ook die emosie. Die gesigsuitdrukkings. Tussen die lyne op die bladmusiek is baie drama wat ons moet uitbring. Dit is waar die musikaliteit inkom. Voordat ons die musikaliteit en emosie kan uitbring, moet ons eers die tegniese aspekte van die musiek bemeester. Dit verg baie ure se gedissiplineerde oefening. Ons het 'n ongelooflike leier in André van der Merwe. André verdien al die erkenning wat hy ontvang oor en oor. “Toe vind ek jou” is een van ons “ligter” stukke, maar ons benader dit met dieselfde erns as ons meer “komplekse” stukke. Die koor fokus hierdie jaar op kontemporêre koormusiek, musiek uit die Romantiese en Barok-era, en ook tradisionele “spirituals”, oorspronklik afkomstig van die Afro-Amerikaanse slawe. Ons sing ook eg Suid-Afrikaanse stukke. 

Vertel ons iets van die koor se ervarings oorsee, of net van jou eie belewenisse?

Our overseas trip to Sochi was a journey of discovery for us. We grew as a big family and overcame numerous challenges. We weere well received in Russia and the people loved us! Many of the other choirs wanted to take pictures with us and asked for our signatures. What struck me was the fact that the choir remained humble. We made new friends, both within and outside of the choir. For many members it was their first time travelling overseas. After visiting Sochi we travelled to the beautiful Bohemian city of Prague in the Czech Republic. Many choir members have told me that they fell in love with this city and that they would one day want to go back to see more of the operas and beautiful architecture and learn more about the rich history. 

Foto: Heinrich Kruger

Die rand is glad nie ‘n maklike geldeenheid om mee te reis nie. Waar het julle die geld gekry om oorsee te gaan?

Finansieel was dit 'n enorme uitdaging. Koorlede kon aansoek doen om finansiële ondersteuning, maar die meeste van die koorlede moes vir hulle eie toere betaal. Onder leiding van ons bestuur by die Universiteit Stellenbosch, kon ons 'n aantal ruimhartige skenkings werf. Baie, baie dankie aan al die individue en instansies wat ons finansieel ondersteun het – julle weet wie julle is. Ons is julle ewig dankbaar. Koorlede het ook hard gewerk in hulle vakansies en oor naweke (as ons nie geoefen het nie!) om ekstra geld bymekaar te maak. Sommiges moes ook lenings aangaan om hul toer te befonds. Die geld wat ek aan die toer spandeer het, is een van die beste beleggings wat ek nog ooit in myself gemaak het. 

Julle is ook te siene op kykNET se Varsity Sing-program – kan jy dalk iets daaroor vertel?

Dit was nog altyd vir my jammer dat al my familie en vriende nie ons koorkonserte kan bywoon nie. 'n USK-optrede is 'n ongelooflike ervaring. Varsity Sing maak dit nou moontlik dat baie meer mense ons optredes kan beleef. Ek dink dat die kameras, asook die lewende gehoor tydens opnames, iets ekstra-spesiaal uit die koor haal. Ons geniet dit ook baie om die program te volg en die ander kore te sien.

Heruitsendings van Varsity Sing vind op die volgende dae en tye plaas: Vrydae 13:30, Saterdae 16:00, Sondae 10:00 en 21:30, Maande 10:30, Woensdae 11:00 en Donderdae om 09:30. Besoek gerus kyknet.tv vir eksklusiewe inhoud, video’s en agter-die-skerms-grepe. 

Wanneer tree julle weer in Suid-Afrika op?

Ons sien baie uit na ons konserte hier in Suid-Afrika! Ons volgende twee konserte is in die Endler-teater in Stellenbosch op Sondag 25 en Woensdag 28 September. Kaartjies sal via Computicket beskikbaar wees. Indien ons deurdring na die Varsity Sing-finale, sal ons weer op 13 Oktober in Johannesburg te sien wees. Die res van ons jaar sluit Varsity Sing, CD- en DVD-opnames en 'n privaatoptrede in. 

Winterteater, Sochi

Daar is baie dinge om te doen as mens op universiteit is. Waarom sing jy in die universiteitskoor?

Die Stellenbosch Universiteitskoor bied mens die geleentheid om betrokke te wees by die beste wat Suid-Afrika het om te lewer. Nie net in terme van musiek nie, maar ook in terme van die mense wat 'n mens leer ken en die verhoudings wat mens bou. Die koorlede is nie net talentvolle musikante nie, maar ook uiters interessante en intelligente mense. Ek kan byna nie aan 'n beter besteding van my tyd dink nie. 'n Mens leer soveel in die universiteitskoor dat dit vir my gelykstaande is aan 'n ekstra graad. Wat vir my egter meer kritiek is, is die persoonlike ontwikkeling wat plaasvind in die universiteitskoor. By dit alles is dit ontspannend en pret. 

Wat is vir jou die lekkerste deel daarvan om in die universiteit se koor te sing? Wat is moeilik?

Ek is mal daaroor om na die musiek te luister terwyl ons sing. Ek hoor elke keer iets nuuts raak. Die musiek is werklik roerend. Dit is 'n emosionele ervaring. Die aanleer van die musiek is moeilik, aangesien dit soms baie kompleks kan wees. Dit bly vir my verstommend hoe mens aanvanklik, wanneer mens die nuwe musiek ontvang, vreeslik daarmee kan sukkel, maar na 'n paar maande se oefening sit die musiek so diep dat mens nie eers meer daaroor dink nie. 'n Mens se brein is ongelooflik!

The post USK-onderhoud: Oor internasionale toekennings en Varsity Sing op kykNET appeared first on LitNet.

Persverklaring: Wenverhaal in US Woordfeesbundel 2017 kry R30 000

$
0
0

Die US Woordfees se baie suksesvolle eerste kortverhaalbundel, wat in 2016 tydens die Woordfees bekend gestel is, sal in 2017 selfs meer skop hê wanneer die skrywer van die wenverhaal wat in die bundel opgeneem word, R30 000 losslaan.

Du Toitskloof Wyne, wat kragte met die US Woordfees saamsnoer in hierdie inisiatief, is die trotste borg van die prysgeld.

Hierdie nuwe fase hoop om die beeld van die kortverhaal, as "kleinsus van die roman", reg te stel, sê Madri Victor, koördineerder van die projek. "Die fokus bly, soos altyd, op verhale van hoë gehalte. Die 2017-bundel gaan beslis iets wees om na uit te sien – vir skrywers en lesers."

Oor Du Toitskloof Wyne se betrokkenheid sê Marius Louw, uitvoerende hoof, die kompetisie is ’n uitvloeisel van die wynkelder se SA Wynskrywer-kompetisie wat sedert 2013 gehou word. "Du Toitskloof Wyne het die afgelope paar jaar in verskeie hoedanighede nou saamgewerk met die US Woordfees." Hy sê die idee om die US Woordfees te help om blinknuwe Afrikaanse kortverhale te soek verleen ’n nuwe dimensie aan die wynbedryf se betrokkenheid by die letterkunde en kultuur.

Nog ‘n verandering is dat persone wat nog nie voorheen gepubliseer het nie, ook vanjaar mag deelneem. “Ons wil ook graag vars, nuwe stemme ontdek en nooi dus ongepubliseerde skrywers om ook in te skryf,” verduidelik Victor.

Diegene wat belangstel om meer oor die kompetisie te wete te kom of wat wil inskryf, kan gaan na www.woordfees.co.za of www.dutoitskloof.co.za en volg dan die skakels. E-pos met navrae kan ook gestuur word aan Olivia Wallow by fees@sun.ac.za. Skrywers wie se verhale in die bundel opgeneem gaan word, sal vroeg in 2017 in kennis gestel word. Die wenverhaal word eers tydens die bekendstelling van die bundel, ten tyde van die Woordfees van 3-12 Maart 2017, aangekondig.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 31 Oktober 2016 om 16:00.

The post Persverklaring: Wenverhaal in US Woordfeesbundel 2017 kry R30 000 appeared first on LitNet.


Persverklaring: WOW Spelfees se wenners

$
0
0

WOW Noord-Kaap – Sarina Boonzaaier, Hoërskool Namakwaland; Luthando Pito, Hoërskool Carlton van Heerden; Gordon de Jongh, Hoërskool Namakwaland; Caitlin van Wyk en Laurisha Coetzee, albei van St Cyprians Primêr

Een ding is seker: Wes-Kapenaars kán spel. Uit die top 30 spellers wat Saterdag in die nasionale ronde van die Sanlam WOW Spelfees in Stellenbosch aangewys is, kom 14 uit die Wes-Kaap. Drie hiervan is goue medaljes.

Die Noord-Kaap, wat die tweedebeste gevaar het, het drie goue medaljes, een silwer en twee brons gewen.

“Die deelnemers is wonderlik,” het Fiona van Kerwel, projekbestuurder vir die WOW-projek, gesê. “In Graad 4 is die wenner eers in die 71ste ronde aangewys, en in graad 7 het dit 68 rondes geneem.” Dit is die kompetisie se tiende jaar (en vyfde nasionaal) en vir die eerste keer was daar ook uitdunne vir graad 6- en 9-leerders wat Engels as Eerste Addisionele Taal neem. Dié been van die kompetisie is as proeflopie net in die groter Kaapstad-omgewing aangebied, en dertig leerders per graad het ook hul staal kom wys.

Sowat 300 kinders van ongeveer 100 skole het Saterdag byeengekom om hul spelvermoëns te meet. Dit volg op ’n reeks uitdunne wat gedurende die jaar regoor die land aangebied is.

“Die personeel is ongelooflik passievol en sit baie ure en kilometers in om die projek die sukses te maak wat dit is,” het Saartjie Botha, direkteur van die US Woordfees (wat die WOW-projek insluit), tydens die prysuitdeling gesê. “Meer as 10 000 kinders het van kring-, distrik- en provinsiale vlak deelgeneem om ons vandag tot hier te bring.”

Die leerders se uitsonderlike vermoë om reg te spel het die dag se program met sowat ’n uur oor die beplande tyd laat loop omdat verskeie grade net nie tot ’n wenner kon kom nie. Die drie finaliste per graad uit elk van die nege provinsies het in rondes gespel. Sodra ’n fout begaan is, het die deelnemer uitgeval.

Frank Louw van die hoofborg Sanlam se afdeling vir Korporatiewe Sosiale Betrokkenheid, het gesê hulle steun die projek omdat dit nóg ’n manier is om WelvaartmeestersTM te skep. “Met ons betrokkenheid help ons graag om ‘n werklike en positiewe verskil te maak tot ‘n wêreld waar elke individu sy persoonlike beste bereik en ‘n lewe met eindelose geleenthede kan lei.”

Wenners het elkeen ’n kontantprys en medalje van Sanlam ontvang, asook ’n boekprys van NB Uitgewers. Die eersteplek-wenners het ook elkeen ’n slimfoon gekry. Ander borge sluit in die Millennium Trust, kykNET, die Dagbreek Trust, Oranjezicht Leeskring en Tribeage Educational Apps.

Die Sanlam WOW Spelkompetisie is nou in sy tiende jaar. WOW, ’n akroniem vir Woorde Open Wêrelde, het ten doel om ’n liefde vir lees en woorde by leerders te kweek. Die projek help ook jaarliks sowat dertien behoeftige leerders aan die Universiteit van Stellenbosch deur die beskikbaarstel van aanvullende beurse.

Hier is die volledige lys wenners.

Die Sanlam WOW Spelfees vir 2017 het reeds geopen. Besoek gerus www.woordfees.co.za en klik op WOW.

The post Persverklaring: WOW Spelfees se wenners appeared first on LitNet.

Persverklaring: Inskrywings vir US Woordfeesbundel verdubbel

$
0
0

 

Byna twee keer soveel inskrywings is ontvang vir die US Woordfees se kortverhaalkompetisie vir 2017 as vir die bundel se eerste uitgawe in 2016.

Inskrywings het op 1 November gesluit en staan op net meer as 180. Die 2017-bundel word tydens die US Woordfees, wat van 3-12 Maart 2017 in Stellenbosch aangebied word, bekendgestel. Tydens dieselfde geleentheid sal die  wenverhaal aangekondig word – die skrywer hiervan kry R30 000 prysgeld, geborg deur Du Toitskloof-wyne.

Sowat 90 verhale is voorgelê vir moontlike insluiting in die 2016-bundel.

Die inskrywings, wat deur ’n onafhanklike ouditeursfirma ontvang is, sal nou aan die keuringspaneel gestuur word vir die volgende ronde.

“Die prysgeld van Du Toitskloof maak die kortverhaalkompetisie een van die mees gesogte pryse vir korter literêre werk,” sê Saartjie Botha, US Woordfeesdirekteur oor die goeie reaksie van deelnemers. “Ons glo dat ons uiteindelik ’n bundel kan saamstel van diverse, hoëkwaliteitverhale wat ook nuwe stemme insluit.”

Volgens Marius Louw, uitvoerende hoof van Du Toitskloof-wyne, is die belangstelling oorweldigend. “Dit is 'n aanduiding van die kreatiewe vlam wat helder onder gepubliseerde en ongepubliseerde skrywers brand. Du Toitskloof-wyne sien uit om deel te wees van hierdie vername element van die Woordfees en glo dat die inskrywing 'n bydrae sal lewer tot die Afrikaanse letterkunde.”

Die US Woordfees word van 3-12 Maart 2017 in Stellenbosch aangebied. Die feesprogram word op 17 November bekendgestel.

 

 

The post Persverklaring: Inskrywings vir US Woordfeesbundel verdubbel appeared first on LitNet.

Persverklaring: Kom sit aan by US Woordfees 2017 se programbekendstelling

$
0
0

Die US Woordfees se program vir 2017 word op Donderdag 17 November feestelik in Ryneveldstraat, Stellenbosch, bekendgestel. Die geleentheid in in die vorm van ‘n lang tafel en die publiek word genooi om dit by te woon – en die eerste te wees om te weet wat die feesaanbod vir 2017 is.

Die fees is tradisioneel geopen met ‘n lang tafel-geselligheid maar daar is besluit om die programbekendstelling ook oop te stel vir die publiek. Die deel van Ryneveldstraat tussen Victoria- en Pleinstraat word gesluit en tafel word gedek.

“Die enigste plek waar ons soveel mense kan akkommodeer, is aan ‘n lang, lang tafel!” sê Saartjie Botha, US Woordfees-direkteur. Die baskitaarspeler Schalk Joubert en die eklektiese musiekgroep Bombshelter Beast gaan sorg vir die vermaak.

Die publiek is welkom om die geleentheid by te woon, wat om 18:00 vir 18:30 begin. Kaartjies is beskikbaar by Computicket en kos R300 per persoon, wat aandete en en ‘n glas wyn insluit. Daar sal ook ‘n kontantkroeg wees.

The post Persverklaring: Kom sit aan by US Woordfees 2017 se programbekendstelling appeared first on LitNet.

US Woordfeesprogram 2017: Begin

US Woordfeesprogram 2017: Coetzenburg

US Woordfeesprogram 2017: Woordkuns

US Woordfeesprogram 2017: Visuele kuns


US Woordfeesprogram 2017: Tuiskoms

US Woordfeesprogram 2017: Skrywersfees

US Woordfeesprogram 2017: Toneel

US Woordfeesprogram 2017: Filmfees

US Woordfeesprogram 2017: Spesiale projekte

Viewing all 697 articles
Browse latest View live