Die twee laksmanne, onder regie van Anna Louise Boshoff, het by vanjaar se Toyota US Woordfees gedebuteer en het ’n besondere bydrae gelewer tot die Afrikaanse teater.
Die toneelstuk, geskryf deur Fernando Arrabal, is in 1958 as Les Deux Bourreaux gepubliseer en is ’n satiriese melodrama in een bedryf uit die era van die Franco-diktatuur. Die teks is uit die oorspronklike Frans deur Nerina Ferreira in Afrikaans vertaal. Boshoff het hierdie tydlose teks meesterlik verwerk en het ’n produksie op die planke gebring wat die gehoor die satire binne die konteks van ons moderne diktatuur van die tegnologie laat herleef.
Die toneelstuk begin met die ma wat ’n ronde buislig en selfoon voor die verhoog opstel om ’n familie-vlog te skiet. Die gebeure op die verhoog is egter glad nie iets wat ’n mens van ’n aanvaarbare vlog sou verwag nie. Haar volwasse kinders toon dierlike gedrag, haar man is geblinddoek en vasgebind met toue en al haar gesinslede is in doeke geklee.
Die ma probeer haar kinders wysmaak dat sy goed is vir hulle en vertel hulle van die opofferings wat sy vir hulle maak. Terselfdertyd is sy besig om hulle spaghetti en tamatiesous uit ’n asblik te voer en laat toe dat haar man voor almal se oë doodgemartel word.
Die toneelspel was van hoë gehalte te danke aan die talentvolle akteurs. Die rolle is onderskeidelik vertolk deur Nichola Viviers, Johann Dippenaar, Chrizelle Strydom en Merwe van Gent. Verder het die stel- en beligtingsontwerp, tegniese versorging en kostuums, ook deur Boshoff behartig, bygedra tot ’n onvergeetlike ervaring.
Die skone absurditeit laat die gehoor toe om die uitdagings van menswees en geestesuitdagings op die karakters te projekteer. Manipulasie, gaslighting, skuldgevoel en die vermoë om onmenslik op te tree, word kunstig uitgebeeld en laat die gehoor nadink oor die sondes van die mens.
Met staande applous het die gehoor die produksie geprys. Dit was ’n aangename, katartiese ervaring en het my en ander gehoorlede na afloop van die produksie diepbewoë gelaat en laat nadink oor die chaotiese aard van menswees.
The post Die twee laksmanne: Absurd, meesterlik, katarties, kunst | Toyota US Woordfees 2023 first appeared on LitNet.
The post <em>Die twee laksmanne</em>: Absurd, meesterlik, katarties, kunst | Toyota US Woordfees 2023 appeared first on LitNet.